Andrew Poolman - Johan Diergaardt, afrigter van die Universiteit van Namibië, sal graag wil sien dat sy eerste rugbyspan weer hul momentum van vroeër in die seisoen herwin wanneer hulle môre teen Rehoboth Rugbyklub uitdraf.
“Ons het ’n insinking beleef wat deels daaraan te wyte is dat van ons studentespelers vanweë eksamens afwesig was. Ons hoop ook om hierdie wedstryd te gebruik ter voorbereiding vir ons deelname vanaf 29 Junie tot 4 Julie aan USSA (Universiteite Sport van Suid-Afrika) se vyftienmantoernooi by die Universiteit van Johanesburg,” sê Diergaardt.
Die haker Rico van Wyk neem die kapteinskap oor by die senter Daniel Arries, wat na verneem word sy stewels vir eers opgehang het om op studieverpligtinge te konsentreer. Die studentespan verwelkom egter vir Renaud van Neel terug, wat as flank ’n lid van die 2011 Wêreldbekerspan was, waarna hy ’n paar seisoene in Roemenië gaan speel het.
Rehoboth bevind hom onderaan die premierliga-puntelys, maar ondanks Unam se tuisvoordeel by sy hoofkampus neem Diergaardt hulle nie ligtelik op nie.
“Ons sien uit na ’n goeie wedstryd, want jy kan nooit vertrou dat jy Rehoboth sonder ’n behoorlike span kan aanvat nie. Baie skaafwerk is gedoen aan ons wedstrydplan en hoewel alles nog nie onder die knie is nie, behoort dit reeds beter te gaan. Ons is maar nog ’n ‘work in progress’.”
Volgens Diergaardt behoort sy beginspan by gisteraand se oefening soos volg bevestig te wees het:
1 Hauta Veii, 2 Rico van Wyk (kapt), 3 Frank Mowa, 4 Max Katjijeko, 5 Muniovita Kasiringua, 6 Renaud van Neel, 7 Kevin de Klerk, 8 Bradley Classen, 9 TC Kisting, 10 Henrique Olivier, 11 Milaan van Wyk (o.kapt), 12 Bimbo Mbai, 13 Lesley Klim, 14 Sylvano Beukes, 15 Donavan Kandji.
Bulstryd
In Khomasdal sal uiters waardevolle ligapunte in die wedstryd tussen FNB Western Suburbs en FNB Wanderers op die spel staan.
Die tuisspan is tans vierde op die puntelys met 21 punte – een plek voor Wanderers op 20.
Dit voel soos lank gelede toe Wanderers met ’n ronde 50 punte (65-15) op sy tuisveld vir Suburbs tot in sy fondamente geskud het. Tinus du Plessis was daardie dag veral verwoestend, maar is nou een van bykans tien Wit Hingste wat met die nasionale span oorsee toer.
Woordvoerders van Wanderers is glo opgewonde om MP Pretorius se vertoning in die 10-trui te sien. Die span onder aanvoering van Arthur Bouwer sal egter sonder Léan Stoop (geskeurde liesspier) en Mahco Prinsloo (gekraakte rib) moet klaarkom.
Wanderers se span: 1 Quintin Esterhuizen (o.kapt), 2 Shaun Esterhuizen, 3 Shaun du Preez, 4 Ulrich Engels, 5 Ruan Ludick, 6 Francois Heydenrych, 7 Wicus Jacobs, 8 Zana Botes, 9 Arthur Bouwer (kapt), 10 MP Pretorius, 11 Armand Pienaar, 12 Francois Wiese, 13 Handre Bezuidenhout, 14 Malcolm Moore, 15 Riaan van Zyl.
Reserwes: Schalk Bergh, Theo Coetzee, Willem van Zyl, Kevin Thuynsma, Enim Kritzinger, Hendrik von Mollendorff, Heico Prinsloo.
Suburbs se spanbestuurder Rudolf Witbooi sê: “Ons hou ons kaarte maar altyd teen die bors en doen die praatwerk op die veld. Nie veel het verander in ons span of ons benadering wat die afgelope drie wedstryde gewen het nie. Dit is wel ’n moeilike taak ná wat laas teen Wanderers gebeur het, maar hierdie keer is ons by Suburbspark.”
Kudus beproef
Die effek van die reis van Walvisbaai na Rehoboth kan ’n invloed hê om Reho Falcon (sesde) se tuiswedstryd teen Kudus (tweede) dalk meer onvoorspelbaar as met die eerste oogopslag te maak.
Reho Falcon (1 tot 15): Jason Benade, Udo Mall, Peter Beukes, Delrick van Wyk, Denzil van Wyk, John-Tobie van Wyk, Lloyd van Wyk, Milando Titus (kapt); Samile Loubser, Howard Titus, Diego Loubser, Greg Stein, Anthony Brandt, Deselvano Beukes, Colin de Koe.
Trustco United, wat 'n afnaweek het, is gerieflik voor op 32 ligapunte, gevolg deur Kudus (21), Unam (21), Suburbs (21), Wanderers (20), Reho Falcon (11) en Rehoboth (6).
Môre se wedstrydprogram:
15:15 Reho Falcon I tn Kudus I op Rehoboth
15:15 Unam 1 tn Rehoboth 1 by Unam
15:15 FNB Western Suburbs I tn FNB Wanderers I
Die tweede spanne draf telkens om 13:30 in die reserweliga op.