Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Wegholsege vir Suburbs

$
0
0
Wegholsege vir Suburbs

Tielman van Lill - FNB Western Suburbs l het Saterdag in sy premierligawedstryd op Suburbspark in Khomasdal die versnellerpedaal diep ingetrap om met 85-10 verby die besoekende Walvisbaai Rugbyklub l te snel.
Suburbs het die wedstryd in elke faset oorheers en dit is net in die skrums waar Walvis met tye ook kon saampraat. Dié botsing wat met ’n dolle vaart weggespring het, was skoon en sonder enige vuilspel voltooi.
Hoewel altesaam sewe strafskoppe (2 vir Suburbs, 5 vir die kusspan) deur mnr. Zaid Isaacs as skeidsregter toegeken is, was net Howard Gawanab, die nommer 6-flank van Suburbs, wat met ’n geelkaart gestraf. Gawanab het egter net vyf minute spel verloor voordat die eindfluitjie geblaas het.
Walvisbaai het sy bes probeer om die groen-en-wit gestreepte tsoenami te stuit, maar het in die lynstane gesukkel en kon glad nie in die vastelos op die grond kompeteer nie. Die maroen truie se springwerk in die lystane was skaflik, hoewel van hul haker se ingooie los bo-oor sy rankers geseil het. Daar is vir altesaam 13 lynstane (Suburbs 4, Walvisbaai 8) aangetree, maar die besoekers het in die helfte van die gevalle besit prysgegee.
In die 17 skrums (10 vir Suburbs, 7 vir Walvis) het die gasheerspan aanvanklik gesukkel, maar uitstekende vordering getoon namate die kragmeting sy loop geneem het.
Die feit dat Suburbs sonder talle van sy gereelde eerstespanspelers moes klaarkom, het hom nie van stryk gebring nie en sy snellers het behoorlik agter die besoekers se doellyn met 13 drieë baljaar, waarvan tien verdoel is. Die eerste vyfpunter (uit ses) is binne die eerste drie minute aangeteken op pad na ’n rustydvoorsprong van 40-10.
Walvisbaai se enigste drie het in die 17de minuut ná ’n goeie stukkie spel gekom toe sy pak vanaf ’n lynstaan soos een man oor die doellyn gebeur en die bal in die hoekie toegeval is. JR Jacobs, losskakel van Walvis, se suksesvolle doelskop laat die telling op 14-7 staan. Die Baaienaars se laaste punte was eers heelwat later toe die einste Jacobs kort voor rustyd met ’n strafdoel tref.
Die tweede helfte was ewe opwindend vir die waarderende ondersteuners van die gasheerklub, wat hul span gemiddeld elke vyf minute ’n drie sien druk het. Die eerste vyfpunter ná rustyd is binne twee minute behaal, terwyl die laaste een gedruk is met sekondes op die stophorlosie oor.
Wanneer ’n span met soveel oorgawe speel en ’n hoë telling opstapel, behoort nie spelers uitgesonder word nie. Regtervleuel Deveroux Jansen was egter met sy snellopies en vyf drieë een van Suburbs se skerpste angels en het self van sy eie doelskoppe oorgeskop. Justin Nel, staatmaker buitesenter, het self drie keer agter die doellyn gaan kuier, terwyl Alonzo Juluis (skrumskakel), Godwin Walters (losskakel), Japhet Tjinao (regtervleuel), Ricardo Swartz (heelagter) en Katjivi Tjingairi (plaasvervangerslot) elkeen een drie gedruk het. Swartz slaag met agt doelskoppe vir ’n ­persoonlike bydrae van 21 punte. Jansen se 29 punte was egter die kersie op die Suburbs-koek.
Ander uitslae van die naweek:
Premierliga: Op Rehoboth wen FNB Wanderers l maklik met 26-6 teen Rehoboth Rugbyklub l en op Swakopmund oorrompel Reho Falcon l vir Dolphin l met 32-10. Op Walvisbaai kraai Kudus l (1 drie) koning toe hy Trustco United l (2 drieë) met 14-10 uitoorlê.
Reserweliga: FNB Wanderers ll klop Rehoboth ll op sy tuisveld met 51-17, terwyl FNB Western Suburbs ll in Khomasdal die spit met 32-36 teen die West Coast Sharks l afbyt. By die see oorskadu Trustco United ll vir Kudus ll met 24-12 op Walvisbaai en in Swakopmund oorheers Falcon ll met 43-5 teen Dolphin ll.
Eersteliga: Trustco United lll wen op Walvis met 26-14 teen Erongo Rugby-akademie (ERA). Mariental klop Jaguars 95-3 en die Eastern Bulls handhaaf ’n stormloop van 43-12 teen NUST. Unam l en ll het die naweek af gehad, maar hul derde span verseker ’n oorwinning van 82-6 teen die Dragons.

Tags: 
Tielman vanlill

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263