Andrew Poolman - Drie briljante drieë was Saterdag nie genoeg om die Namibiese junior rugbyspan op die wenpad by die 2016 Wêreldrugby Onder 20 Trofee-toernooi in Harare, Zimbabwe te hou nie.
Spanje se oorwinning met 40-22 maak hom die gunsteling om as die groepwenner te eindig, indien hy ook sy laaste wedstryd teen die VSA wen.
Namibië sluit sy groepfase Woensdag teen Hongkong af, met sy verwagte tweede plek in die groep wat sal meebring dat hy vier dae later in die uitspeelwedstryd om die derde plek betrokke kan wees.
Ongedwonge foute in die eerste helfte het verhinder dat Namibië genoeg druk kon toepas om die Spanjaarde te laat knak.
Spanje was rustyd net met 16-14 voor, maar het in die tweede helfte toenemend beheer verkry om sy uiters doeltreffende rolmaalbewegings te gebruik om die telling buite die Afrikane se bereik te plaas.
Namibië het in die eerste helfte met ’n paar sterk skrums na vore gekom en is ná 13 minute met die eerste drie beloon, wat in dié toernooi ses punte tel.
Losskakel Cliven Loubser het omgehardloop om die bal weer van ’n senter te ontvang, voordat hy ’n lang aangee na heelagter Stiaan van der Merwe uitgeskiet het. Van der Merwe het sy regtervleuel Unomasa Kavita weggestuur, wat een verdediger teen die kantlyn met blote vaart geklop het. Die volgende Spanjaard het Kavita gestuit, maar hy het sy aangee weggekry na binnesenter Alastair Miller wat in die hoekie gaan oorduik het (6-0).
Met tye het die Namibiërs egter gans te veel rugby in hul eie helfte gespeel, wat ’n rol in beide Spanje se drieë voor rustyd gespeel het. Losskakel Loubser het van ’n swak aangee die bal direk uitgeskop, wat Spanje ’n aanvallende lynstaan gegee het van waar die rooies se heelagter Guillermo Dominguez kon deursny pale toe.
Spanje se volgende drie ná 36 minute is in ewe groot mate gebore deur die Namibiërs se besluit om die bal in hul eie helfte wyd te stuur, eerder as om takties vir ’n beter veldposisie te skop. ’n Strafskop het Spanje weer van ’n lynstaan laat aanval en ná ’n paar fases kon hul haker Tommy Vaisset naby die doellyn optel en oordryf.
Danksy die doelskop was die Europeërs met 16-6 voor.
Kort daarna het die Namibiërs dit wel reggekry om nog ’n puik drie uit hul eie helfte te gaan druk. Die woelige flank en kaptein Cameron Langenhoven het langs ’n losskrum deurgebreek en ver gehardloop voordat hy gestuit is. Die bal is teruggewen en die slot Le Beau du Preez se aangee na Van der Merwe het die heelagter in staat gestel om die twee verdedigers in sy pad eers met ’n aftrap na binne en toe met ’n fopaangee te klop vir ’n drie onder die pale.
Ná Loubser se doelskop was die agterstand met rustyd 14-16.
In die tweede helfte sou Spanje se goed beheerde rolmaalbewegings egter algaande die beslissende faktor word. Reeds ná 48 minute het hulle presies op dié manier ’n tweede drie vir haker Vaisset bygevoeg om hul telling tot 24-14 te vergroot.
Die Spanjaarde was deurgaans wakker en opportunisties om enige fout aan die Namibiese kant uit te buit – soos die misverstand toe haker Wildré Smith ’n lynstaan gevoer het sonder dat enige springer aan sy kant die grond verlaat het. Dié pasella besit op die halflyn is sonder versuim op die Namibiese doellyn uitgeskop.
Spanje se volgende drie het egter eers in die 68ste minuut gekom, weer met die lynstaandryf as platform, van waar hul slot Baptiste Bougeard weggebreek en oorgebars het (32-14).
’n String plaasvervangings is aan die Namibiese kant gedoen voordat hulle in die doodsnikke hul volgende drie kon bewerkstellig. Die bal is deur ’n paar fases geneem voordat losskakel Cliven Loubser sy kans gesien het om ná ’n aftrap reguit pale toe te sny.
Ongelukkig het Spanje die laaste sê voor die eindfluit gehad – weer as straf vir ’n Namibiese fout. Die bal is uit in die kwartgebied gedra en terug aangee voordat Henrique Olivier (plaasvervanger-losskakel) die bal direk uitgeskop het. Die wenspan se dryfresep vanaf lynstane het weer gewerk vir ’n drie deur flank Luis Canti. Binnesenter Andrea Rabago het met vyf uit vyf doelskoppe vir die dag ook die spyker in die doodkis gehelp kap.
• In die ander groep het Samoa met ’n oorwinning teen Fidji (32-8) gewys hoekom hy laasjaar nog teen die grotes in die o.20 wêreldkampioenskap meegeding het.
Uruguay het Zimbabwe met 50-22 wenloos gehou, terwyl die VSA dieselfde met Hongkong gedoen het (32-12).
• Woensdag se wedstrydprogram (in Namibiese wintertyd): 09:00 Fidji v Zimbabwe; 11:00 Namibië tn Hongkong; 13:00 Samoa tn Urugay; 15:00 Spanje tn VSA.
Spanje rolmaal verby o.20’s