Andrew Poolman - Genoeg is op die spel in môre se rugbytoets in Windhoek om te verseker dat beide Namibië en Kenia met niks minder as ’n totale aanslag vorendag sal moet kom nie.
Môre se uitslag sal net ’n indirekte invloed op die wedloop na die 2019 Wêreldbekertoernooi in Japan hê. In die kontinentale kwalifisering sal volgende jaar se Afrikabeker-kampioen sy WB-plek bespreek, maar vanjaar se wenner maak seker dat hy in 2017 net een wegwedstryd (teen span nommer 4) sal hoef te speel.
Kenia kon nog nooit naby aan ’n oorwinning in Windhoek kom nie, maar is vol vertroue dat hulle môre ’n goeie kans staan en lyk gewis na die Welwitschias se grootste uitdaging in die wedloop.
Afrigter Phil Davies het gisteraand sy kerngroep van die afgelope maand behou. ’n Interessante byvoeging op die bank is die flank Christo van der Merwe, wat laasjaar nog die nasionale o.20-span se kaptein was.
Die belowende jongman het vanjaar sy deurbraak tot die Westelike Provinsie se Curriebekerspan gemaak.
Die Namibiese span is: 1 Casper Viviers, 2 Louis van der Westhuizen, 3 AJ de Klerk, 4 Tjiuee Uanivi (kapt), 5 Ruan Ludick, 6 Rohan Kitshoff, 7 Janco Venter, 8 Tinus du Plessis, 9 Eugene Jantjies, 10 Theuns Kotzé, 11 Gino Wilson, 12 Darryl de la Harpe, 13 Johan Deysel, 14 Russell van Wyk, 15 Chrysander Botha.
Reserwes: 16 Gerhard Lötter, 17 Collen Smith, 18 Quintin Esterhuizen, 19 Christo van der Merwe, 20 Leneve Damens, 21 Damian Stevens, 22 JC Greyling, 23 Heinrich Smit.
Wen tien kaartjies
Beantwoord die volgende vraag om kaartjies vir môre se wedstryd tussen Namibië en Kenia in Windhoek
te wen.
Wie is die hoofborg van die Afrikabeker-toets op 16 Julie 2016 in Windhoek?
Skryf die sleutelwoord “RUGBY” vooraan jou SMS, gevolg deur jou antwoord. Stuur jou SMS na 51500 (elke SMS kos N$1). Lesers kan soveel SMS’e stuur as hul wil.
Die lyn sluit om 15:00.