Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Tweede helfte swaai in SWD se guns

$
0
0
Tweede helfte swaai in SWD se guns

Die SWD Arende het ’n paar maklike drieë kort ná rustyd gaan druk om hul Curriebeker eersteligawedstryd teen die Windhoek Draught Welwitschias met 54-23 op Outeniquapark in George te beklink.
Die gasheerspan moes egter Vrydag hard werk om die eerste helfte met ’n voorsprong van 17-9 af te sluit. Sake het glad nie so eensydig verloop as toe die Arende vroeër die kwalifiserende wedstryd in Windhoek met 96-5 gewen het nie. Afrigter John Williams sal in sy skik wees met ’n veel meer kompeterende vertoning ná die terugkeer van ’n paar toetsstaatmakers.
Onder kapteinskap van die vaskopstut AJ de Klerk het die Namibiërs veel beter rekenskap gegee as in die onlangse vertonings in die kwalifiserende reeks, waar hulle elk van hul 14 wedstryde verloor en ’n allemintige 936 punte afgestaan het.
Losskakel Eugene Jantjies het die Welwitschias in die eerste helfte binne trefafstand gehou deur drie strafdoele deur die pale te jaag.
Dit was teenoor die SWD se drieë deur flanke Thorleif Halvorsen (eerste minuut) en Andisa Ntsila, asook skrumskakel Johannes Steyn.
Ná die omdraai het die tuisspan egter drieë deur die haker Mark Pretorius, slot Lodewyk Uys, plaasvervanger Dillin Snel en ’n strafdrie ingeryg om die telling tot 47-16 op te jaag. Die Namibiërs het dit in dié tyd reggekry om die haker Gerhard Lotter met ’n dryfmaalbeweging vir ’n drie oor te werk wat opnuut deur Jantjies verdoel is.
Die Welwitschias het ’n troosdrie kort voor die eindfluitjie behaal toe die plaasvervanger-senter Lesley Klim deurgestorm het. Ná ’n losskrum in die middelveld het nóg ’n plaasvervanger, Mahco Prinsloo, die voordeellyn aangeval en Klim tussen twee verdedigers deurgestuur voordat hy deur ’n flank ingehaal is. Klim het hom egter losgeruk en weggehardloop doellyn toe.
Puntemakers:
SWD Arende – Drieë: Thorleif Halvorsen, Andisa Ntsila, Johannes Steyn, Mark Pretorius (2), Lodewyk Uys, Dillin Snel, strafdrie; doelskoppe: Hansie Graaff (7).
Welwitschias – Drieë: AJ de Klerk, Lesley Klim; doelskoppe: Eugene Jantjies (2); strafdoele: Jantjies (3).

LUIPERDS 26 GRENS 24
• Komende Saterdag kry die Namibiërs in Windhoek besoek van die Luiperds, wat laas Vrydag op Potchefstroom ’n noue ontkoming gehad het.
Die Luiperds is in die skrums onder druk geplaas, terwyl die Oos-Kapenaars ook vier drieë met ondernemende spel geskep het.
Grens het sy vaskopstut Johannes Jonker (gebreekte enkel) en losvoorspeler Atenkhosi Manentsa (kniebesering) verloor, maar het steeds so naby as ’n enkele verbroude strafdoel gekom om ’n positiewe uitslag te kon beklink.

PREMIERLIGA
Johann Tromp het as buitesenter die enigste drie van die dag vir die Oostelike Provinsie gedruk in hul tuisnederlaag met 28-10 teen die Boland Kavaliers, wat sonder Theuns Kotzé die knoop deurgehaak het.
Tromp, in die OP se 13-trui wat die legendariese Danie Gerber tevore gedra het, het kort voor die einde teen die kantlyn binne toe getrap verby een verdediger om die doellyn te haal. Nog ’n Namibiër in OP-kleure, vleuel Alcino Izaacs, het ’n geel kaart vir ’n duikslag in die lug gekry.
• Torsten van Jaarsveld en sy Vrystaat-maats het in Bloemfontein die aanslag van die Blou Bulle met 43-20 afgeweer.
• Die Pumas, met Renaldo Bothma op agtsteman, het hulle lelik vasgeloop teen die Goue Leeus wat op Ellispark met 68-28 weggehardloop het.
• In Durban het die Sharks met 46-24 die oorhand teen die Griekwas gekry. Die Cheetahs en die Sharks (10 ligapunte elk) is tans boaan die puntelys ná hul twee wedstryde sover.

Tags: 
Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263