Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Booysen se blaadjie skoon gevee

$
0
0
Booysen se blaadjie skoon gevee

Andrew Poolman - Die nasionale sewesrugbygroep vertrek volgende week na Nairobi, Kenia waar vanjaar se Afrikabeker-sewestoernooi op die naweek van 24 en 25 September beslis sal word.
Proewe is twee naweke gelede tesame met ’n oefenkamp in Windhoek gehou waar enige spelers welkom was om hul kennis in dié sportkode te verbreed en om die keurkomitee met hul vernuf op die veld te beïndruk.
Sedert die onlangse aanstelling van Jurie Booysen as die nuwe nasionale afrigter en Robbie Dickson as spanbestuurder was dit ’n teken dat op ’n skoon blad begin is.
Geen speler kon dus op vorige louere rus nie en in die afwesigheid van die meerderheid spelers wat in November verlede jaar op die laaste toer na Suid-Afrika was, is daar ooglopend groot ruimte vir nuwe spelers om leë skoene vol te staan.
Uit die 2015-groep is David ­Philander (kaptein), Zana Botes, Leneve Damens, Collin de Koe, Aurelio Plato, Damian Stevens, Heinrich Smit, Léan Stoop, Johann Tromp en Russell van Wyk almal om verskillende redes nie in die prentjie vir die huidige toer nie.
Om die waarheid te sê – ’n goeie sestigtal spelers in die nasionale hoëprestasie vyftienman-struktuur was nie tot Booysen se beskikking gestel nie.
Dit beteken dat Trustco United se twee haastige agterspelers Tuna Amutenya en Nandivatu Karuuombe skielik die “senior staatsmanne” in die groep is.
Die 2015-groep het in Johannesburg in die kwalifiserende toernooi vir die Olimpiese Spele goed begin, totdat die glipse in ’n uitklopwedstryd teen Marokko hulle uit die wedloop gehaal het. Die teleurstelling was des te meer nadat hulle die Noord-Afrikane reeds in die groepfase ’n pak gegee het.
Hoeveel het oorgebly van die goeie werk wat Graham Bentz en Vuyo Zangqa in die kort tydjie voor daardie toer gedoen het? Dié twee Suid-Afrikaners se jare ondervinding met Kenia op die Wêreldrugby sewesreeks was ’n openbaring.
Hierdie gebrek aan deurlopendheid is ’n óú kwaal van Namibiese sewesrugby. Die nuwe toerkaptein sal glo ook eers teen komende naweek aangekondig word.
Vir Booysen en Dickson is daar egter min tyd om oor die struktuur van sewesrugby in die land te filosofeer. Daar staan ’n bul voor hulle wat by die horings gepak moet word.
“Ons het net twee weke, wat baie min tyd vir voorbereiding is. Afgesien van die spansessies het die Windhoek- en kusgroepe ook afsonderlike oefentye deur die week.
“Fiksheid is een van die prioriteite, aangesien ons ligawedstryde al vir ’n paar weke verby is,” sê Dickson.
Namibië bevind hom in ’n moeilike loting in groep A en word op grond van die 2015-ranglys in die swakste posisie van die agt spanne gereken.
Die loting is:
Groep A: Suid-Afrika (eerste gekeur), Namibië (agtste), Senegal (sesde), Zimbabwe (vierde).
Groep B: Kenia (tweede), Uganda (sewende), Madagaskar (vyfde), Tunisië (derde).

BLITSBOKKE KOM SPEEL
’n Afsonderlike Akademie-sewesgroep is ook ter aanvulling van die nasionale groep aangewys.
Die twee groepe sal gekombineer word vir die hoogs opwindende Namibiese internasionale sewestoernooi op Swakopmund wat vandag amptelik bekend gestel word.
Die Blitsbokke is maar net een van verskeie wêreldklas spanne wat van 10 tot 13 November op die kusdorp kom speel – danksy die hoofborg Safland wat soos verlede jaar die hoofborg van die nuwe blinkgevryfde skouspel is.
Die Namibiese nasionale ­toergroep na Kenia:
Ngumee Nguaiko (Kudus)
Mbimbo Mbai (FNB Unam)
Shareave Titus (Unam)
Allistor Jacobs (FNB Western Suburbs)
Sunday Haitembu (Unam)
Helarius Kisting (Unam)
J.R. Jacobs (Walvisbaai)
Bjorn Bock (Kudus)
Handré Bezuidenhout (Trustco United)
Tuna Amutenya (United)
Ricardo Swartz (Western Suburbs)
Nandivatu Karuuombe (United)

Die Akademie-oefengroep
Heathlin Cloete (Unam)
Unomasa Kavita (Unam)
Casio Schoombe (Kudus)
Jean-Louis Grobler (West Coast Sharks)
Cameron Stevens (Kudus)
Carlton Stevens (Kudus)
Howard Titus (Reho Falcon)
Lovelle Delie (West Coast Sharks)
Eino Herman (Jaguars)

Tags: 
Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263