Andrew Poolman - ’n Uitnodiging na volgende jaar se Hongkong Sewes is een van die welkome bonusse wat Namibië die naweek met sy tweede plek by die 2016 Afrika seweskampioenskap oopgespeel het.
Nadat afrigter Jurie Booysen skaars twee weke gehad het om sy span vir laas naweek se toernooi in Nairobi, Kenia voor te berei, is die uitslag opnuut ’n positiewe aanduider van die potensiaal wat in Namibiese sewesrugby verskuil lê.
Die Namibiërs het drie oorwinnings behaal voordat hulle in die eindstryd teen die wakker span van Uganda met 38-19 verloor het.
Tuna Amutenya (spankaptein) en sy manne moes met tye diep delf om van hul wedstryde uit die vuur te red. Op die eerste dag het hulle Tunisië met 17-5 geklop (drieë deur Shareave Titus, Nandivatu Karuuombe en Allistor Jacobs) voordat hulle soos verwag die groepwenner geword het deur Botswana met 19-7 te oorskadu.
In laasgenoemde wedstryd het Ngumee Nguaiko (2) en Helarius Kisting in die eerste helfte drieë gedruk en kon Namibië geen punte ná rustyd byvoeg nie.
Saterdagoggend sou ’n senutergende toets in die semifinaal teen Madagaskar voorlê. Rustyd was die Namibiërs met 7-0 agter ná ’n verdoelde drie deur die eilandspan.
Kort voor die pouse het Karuuombe met ’n amateuragtige aanslaan ’n seker drie weggesmyt.
Halfpad deur die tweede hefte het Karuuombe egter met ’n haastige lopie en ’n binne-aangee die eerste drie vir Sunday Haitembu geskep.
Karuuombe was ook die gelukkige een om ná die toeter wat die einde van speeltyd aandui, ’n tikskoppie ná ’n strafskop met ’n drie in die regterhoekie te gaan afrond. Beide doelskoppe was mis, maar die 10-7 uitslag het Namibië laat voortleef.
Die finaal was teen Uganda, wat indrukwekkende spel gelewer het om oorwinnings teen Zimbabwe (19-14), Mauritius (35-7) en Kenia (17-12, semifinaal) in te ryg.
Rustyd was Uganda reeds op 28-12 in beheer van die eindstryd, voordat die eindfluitjie op 38-19 geblaas het. Namibië se drieë deur Shareave Titus en Sunday Haitembu in die eerste helfte, asook Karuuombe was dus tevergeefs. Uganda het die uitnodiging na 2016-’17 se Dubai en Kaapstad sewestoernooie beklink.
Die Namibiërs verwag nou om in April volgende jaar een van die 12 spanne te wees wat as deel van die Hongkong Sewes sake sal uit spook om ’n enkele plek in die Wêreldreeks te verdien.
“Die ouens se dissipline en toewyding was 100 persent. Ons sien ’n goeie toekoms vir dié span. Ons het deur die bank komplimente gekry oor ons spelers, asook ons spelstyl,” het spanbestuurder Robbie Dickson gesê.
Plek na Hongkong oopgespeel