Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Crusaders kan Van der Berg raaksien

$
0
0
Crusaders kan Van der Berg raaksien

Andrew Poolman - Drie maande by die Canterbury Crusaders se rugby-akademie in Nieu-Seeland is die opwindende voorland vir een van die veelsydige staatmakers van die Namibiese skolespan van die laaste twee jaar.

André van der Berg sal hom in Januarie by die Canterbury Crusaders aanmeld. In 2015 en 2016 se o.18 Cravenweektoernooie het hy sy vernuf op die rugbyveld uitgestal en dit was juis vanjaar se vertoning wat die saadjie vir die volgende geleentheid geplant het.

Toe die koerant hom opspoor, het die beskeie matriekseun van Windhoek Hoërskool uit die staanspoor geskerm dat hy nog geen kontrak in Nieu-Seeland onderteken het nie en dat dit ’n blote proeftydperk vir drie maande is.

“Ek sal in Wellington by ’n klub geplaas word, met ’n deeltydse werk soggens om myself te onderhou. Die voordeel is dat ek ook by die Crusaders se rugby-akademie saam met al die bekende professionele spelers van die franchise sal oefen, insluitend hul All Blacks.

“Hulle benadering is om ’n speler oor ’n langer tydperk te monitor om jou in oefeninge én wedstryde dop te hou. Hulle hou nie net een naweek proewe om te oordeel hoe goed jy rêrig is nie.”

Van der Berg se kop het lankal in die rigting gestaan om ná sy skoolloopbaan óf in Engeland óf Nieu-Seeland te gaan rugby speel. Hy is bly dat hy op die internet dié program van die Crusaders raakgesien het.

Sy afrigter by beide Samsung WHS en die Cravenweekspan, Henry Kemp, het hoë lof vir een van sy staatmakers.

“André is een van die beste jong talente wat Namibië in ’n lang tyd opgelewer het. Hy het twee jaar o.16 Grant Khomo en twee jaar Cravenweek gespeel. Vanjaar was hy kaptein van die Cravenweekspan en het met voorbeeld gelei.

“Hy het twee drieë gedruk waarvan die drie teen die Griekwas ’n mens hoendervleis gegee het. Hy het ’n swak aangee op sy voete raakgevat en van sy eie 10-meterlyn deur die verdediging gevleg om langs die pale te druk.

“André is baie fisiek in die kontak en word nie maklik gestop nie. Hy is ’n speler wat die span altyd eerste stel en die geleenthede skep vir spelers rondom hom. In die o.19 Superliga finaal kon hy self twee keer gaan druk het, maar het spelers aan sy buitekant weggestuur om te druk. André was ook die onderkaptein van WHS se eerste span en het by geleentheid die kapteinskap oorgeneem wanneer Rainer Augustyn nie daar was nie.

“Met sy 50ste eerstespanwedstryd teen Windhoek Gimnasium 1 was hy die kaptein en ons het die wedstryd gewen.

“André was ook vroeër vanjaar as die WHS eerste span afsluitingsfunksie as die spelers se speler van die jaar verkies. Ek hoop die ervaring wat hy in Nieu-Seeland gaan opdoen, sal in die toekoms goud werd wees vir Namibiese rugby.”

LOSSKAKEL OF HEELAGTER

Die gebore Windhoeker vertel dat hy maar nog altyd rugby gespeel het. “Om een of ander rede” onthou hy die laerskooljaar by Windhoek Affies waarin hul spannetjie nie ’n enkele wedstryd kon wen nie. Die volgende jaar het hulle egter selfvertroue begin kry en vir die volgende drie jaar onoorwonne gebly.

In sy laerskooldae het hy flank of agtsteman gespeel, of later skrumskakel.

Vandag staan hy 1.80 meter lank en weeg 84 kilogram. Losskakel is sy gunsteling posisie, maar heelagter is nie ver agter nie. Hy is ook al as senter ingespan en het daar gewis ook nie onbeholpe gelyk nie.

Tags: 
Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263