Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Toernooi op 'n middelmatige noot afgesluit

$
0
0
Toernooi op 'n middelmatige noot afgesluit

Andrew Poolman - Die Namibiese rugbyspan het in 'n middelmatige vierde plek klaargemaak by die Wêreldrugby Nasiebekertoernooi wat Sondag ten einde geloop het.

Hul nederlaag met 31-10 teen Rusland beteken dat Renaldo Bothma en sy manne op dié toer eintlik net een vertoning uit drie gelewer het waaroor 'n mens huis toe sou skryf.

Dit was toe hulle teen Ontluikende Italië in die tweede helfte teruggeveg het om 'n agterstand van 7-22 uit te wis en 'n oortuigende oorwinning met 36-22 te behaal.

Ongelukkig was dit nie 'n erkende toetswedstryd wat enige invloed op Namibië se plek op die wêreldranglys sal hê nie, maar net 'n internasionale wedstryd. Die Italianers was die enigste wenlose span in die toernooi en is ook verlede jaar deur Namibië geklop.

Die Namibiërs het op die eerste dag ook nie besonder goed gespeel toe Spanje hulle met 15-13 geklop het nie.

Vir afrigter Phil Davies en sy bestuurspan was die toer 'n kans om weer die nouer bande te smee nadat Namibië in November nie in die internasionale seisoen wedstryde gespeel het nie. Met etlike nuwelinge wat ook intussen kans gekry het om beproef te word, het die samespel met tye nie heeltemal gevlot nie.

Die gasheerspan Uruguay het die toernooi gewen deur sy opwindende laaste wed­stryd teen Spanje met 21-14 te beklink.

Argentinië se A-span het die derde plek opgeëis deur Ontluikende Italië met 15-10 te klop.

Die spanne se eindposisies was dus: 1 Uruguay, 2 Rusland, 3 Argentinië-A, 4 Namibië, 5 Spanje, 6 Ontluikende Italië.

Sedert Namibië die toernooi in 2010 gewen het, het hy min opflikkeringe getoon om te wys dat hy benewens sy string Afrika-titels na die volgende vlak kan opskuif.

AFRIKABEKER

Die Namibiërs, wat gisteraand reeds vanaf Sao Paulo op pad terug na Johannesburg was, se fokus verskuif nou na die Afrikabekertoernooi se A-afdeling wat vanjaar met twee spanne vergroot is.

Namibië spring op 1 Julie weg met 'n besoek aan Tunisië en speel 'n week later tuis teen Senegal. Op 15 Julie kom speel Zimbabwe in Windhoek en die volgende naweek het Uganda 'n kans om voort te bou nadat hulle verlede jaar die beste opposisie vir die kampioenspan Namibië was.

Op 29 Julie is Kenia die laaste span wat in Windhoek kom besoek aflê.

Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Trending Articles