Andrew Poolman - FNB Western Suburbs sal op 22 Julie met beide sy eerste en tweede spanne in die semifinale van die Namibië Rugby-unie se premierliga en reserweliga meeding.
Die direkteur van rugbysake, mnr. Walter Don, het 'n nuwe ondersteuningspan aangekondig om die rugbyklub se langtermyndoelwitte oor die volgende drie seisoene te help bereik.
Shaun Kaizemi is as die nuwe hoofafrigter aangestel in die plek van Rudolf Witbooi, wat onlangs uit die pos getree het om meer tyd aan sy familie- en werkverpligtinge te kan bestee.
Volgens Don sal die nuwe struktuur die klub se kapasiteit van afrigters verseker, deurdat gewese staatmakers van Western Suburbs wat almal as spelers tot die topvlak gevorder het, ingespan word om die klub se waardes te help vaslê.
“Die herstrukturering sal ons kapasiteit vir die toekoms van die klub vergroot. Ek is verheug dat ons in die afgelope drie maande suksesvol was om oudspelers te werf om die afrigtersposte by Western Suburbs te aanvaar sodat ons weer as 'n kompeterende krag gevestig kan word,” sê Don.
Onder leiding van Don, Kaizemi en sy afrigterspan is hy positief dat die spelers oor die volgende drie jaar behoorlike afrigting sal kry om aan die eise van moderne rugby te kan voldoen.
“Die afrigters het hulle daartoe verbind dat die klubwaardes van dissipline, 'n positiewe ingesteldheid, spanwerk en 'n strewe na uitmuntendheid sentraal sal wees in alles wat hulle doen.
“Ek verwelkom hulle amptelik terug by die klub en sien daarna uit om met hulle saam te werk.”
Die volledige afrigterspan is oudspelers wat in Suburbs se premierliga-kampioenspanne van 2008 en/of 2012 betrokke was:
• Shaun Kaizemi as hoofafrigter. Die 29-jarige oudskolier van Mariental Hoërskool het as ontluikende speler deur die nasionale ouderdomspanne, insluitend die o.20's, gevorder.
Hy het Namibiese kleure in sewesrugby verwerf en het ook op Curriebeker- en Vodacombeker-vlak gespeel. Nadat hy dié seisoen by die afrigtng betrokke begin raak het, is hy gereed om sy ondervinding oor te dra.
• Munee Tjiueza as voorspeler-afrigter. Met sy sterk lopies as baldraer en veelsydigheid tussen slot en flank was hy altyd 'n staatmaker in Suburbs se agttalle. Tussen 2012 en 2014 het hy in nege toetse gespeel, insluitend die finale Wêreldbeker kwalifiserende toernooi in Madagaskar.
Ongelukkig kon hy 'n knaende rugbesering nie afskud nie en hoewel hy net 25 jaar oud is, moes hy sy rugbystewels vir goed ophang.
• Llewellyn Winkler, as kondisioneringsafrigter, was 'n vleuel in die Wêreldbekerspan van 2011 in Nieu-Seeland en het met 'n lugskoppie vir homself die gedenkwaardige drie van die buitesenter Danie van Wyk teen Samoa aangevoor.
In totaal het hy twaalf toetse gespeel, asook 'n internasionale wedstryd teen Skotland A by die Nasiebekertoernooi in Roemenië, waar Namibië as kampioene bekroon is.
Die 29-jarige oudskolier van Hoërskool Jan Möhr het ook ondervinding op Varsitybeker-vlak vir Maties se wenspanne van 2007 en 2008, voordat hy in die Vodacombekerreekse van 2009 en 2010 gespeel het. Beserings het hom egter ná die 2011 Wêreldbeker uit die spel gedwing.
• Attie du Plessis (34) neem as agterlyn-afrigter oor. As Suburbs-verteenwoordiger wat ook draaie by Reho Falcon en Rehoboth-rugbyklub gemaak het, het hy die nasionale sewespan gehaal.
Sy twee toetse vir Namibië was beide as 'n plaasvervanger op 2010 se toer in Spanje en Portugal, maar hy is bekend as 'n veelsydige agterspeler met flair wat ook 'n handige stelskopper was.
• In die groter prentjie van Namibiese rugby is die afrigtersgeledere van Western Suburbs 'n vrugbare teelaarde vir hoër louere, insluitend by nasionale spanne.
Walter Don, Johan Diergaardt, Roger Thompson, Russell van Rooi en Sergio de la Harpe is almal manne wat die afgelope jare op Suburbspark spore getrap het.