Niks minder nie as ’n oorwinning sal vanaand vir die Namibiese rugbyspan goed genoeg wees indien hy nog enige aanspraak op Wêreldrugby se Nasiebekertoernooi in Boekarest wil behou.
Spanje (0) en Namibië (0) is die twee spanne wat in die eerste stel wedstryde die aftog teen onderskeidelik Roemenië en die Argentynse Jaguars moes blaas.
Die gasheerspan Roemenië het vier keer in sy geskiedenis teen die Welwitschias in toetse te staan gekom en was drie keer aan die wenkant.
Die enigste uitsondering was in 2010, toe afrigter Johan Diergaardt en kaptein Jacques Burger se span vir die eerste keer as wenners van dié toernooi na vore getree het met ewe geskiedkundige oorwinnings teen Roemenië (21-16), Skotland-A en Georgië (21-17).
Die ander drie kere was Roemenië se nasionale span, bekend as die Eike, beide kere aan die wenkant. Die eerste keer was by die Wêreldbekertoernooi van 2003 in Launceston in die Australiese staat Tasmanië, toe die rampspoedige toernooi vir Dave Waterson en Sean Furter se span met ’n nederlaag van 37-7 afgesluit is.
In 2007 se Nasiebekertoernooi in Boekarest het die tuisspan ook ’n oorwinning met 28-16 teen Kees Lensing se manne behaal. In die 2011-weergawe was dit ook Roemenië wat met 13-11 hul arms omhoog kon gooi.
• Anders as die afgelope naweek se wedstryd teen die Argentynse A-span, die Jaguars, is vanaand se botsing ’n volwaardige toets wat vir beide spanne tot hul plek op die wêreldranglys bydra.
Net toetse tussen lande se amptelike nasionale spanne word gebruik om Wêreldrugby se ranglys op datum te hou – hoewel spelers hierdie internasionale kragmeting wel as ’n verskyning in hul nasionale trui kan tel, net soos wanneer wedstryde teen spanne soos die Britse of Franse Barbarians, of toerwedstryde teen provinsiale unies gespeel word.