Andrew Poolman - Oorwinnings vir FNB Wanderers, FNB Western Suburbs, Rehoboth Rugbyklub en Kudus het dié vier spanne die voortou laat neem op ’n eerste naweek van die Namibië Rugby-unie se premierliga waarin die verdedigende kampioen Unam aarde toe gebring is.
By Gemsbokpark is Trustco United se 100-jarige bestaansvieringe bederf toe Wanderers hom met 36-31 gekarnuffel het.
Kaptein Shaun du Preez en sy manne kon gevolglik die eerste voggies van die nuwe seisoen drink uit die Neels Dodds derbytrofee wat al jare tussen die twee klubs op die spel staan.
Met ses drieë teen een was daar min teenspraak dat die Wit Hingste die span van die dag was – hoewel United dit reggekry het om sake rustyd op 19-19 te hou.
Heelagter Léan Stoop het met sy teenaanvalle en vernuftige voetwerk verskeie United-verdedigers in die lug laat gryp en sy vertoning was waarskynlik een van sy heel bestes wat die afgelope jare gesien is.
Vanaf die kantlyn sou sy legendariese oom, André Stoop, dié vertoning beslis baie geniet het.
Dit is dalk nie tradisioneel dat Wanderers só met sy agterlyn teen United baljaar nie. Binnesenter Francois Wiese het sy bynaam Vullis gestand gedoen – én sy groeiende aansien as ’n derduiwel wat bykans nooit agter die voordeellyn gekeer word nie.
Langs hom was Johann Tromp soos altyd die vernuftige spelskepper wat die laaste aangeë vir beide linkervleuel Riaan van Zyl se twee drieë gegee het. Tromp het in die eerste helfte sierlik vir ’n “drie” van sy eie oorgeduik, maar is teruggeroep vir ’n aanslaan vroeër in die beweging. In die tweede helfte het hy wel vanuit sy eie helfte ’n gaping geslaan om in die regterhoek te gaan druk.
Voorlangs het haker Gerhard Lotter die eerste vyf punte vir Wanderers behaal. Hy het van naby die doellyn oorgebars toe skrumskakel Enim Kritzinger gebreek en vanuit ’n duikslag sy aangee weggekry het.
Flank Rohan Kitshoff het in sy Wanderers-debuut vir die voorlaaste drie oorgedryf, nadat die United-haker naby sy eie doellyn bo-oor Winmar Rust gegooi het.
Twee minute later is Lotter ook deur twee manne grond toe gebring, maar het sy aangee weggekry na nog ’n plaasvervanger, Arthur Bouwer, wat van die halflyn af deurgesny het.
United se skopmasjien Winmar Rust se sewende strafdoel was die laaste punte van die dag, wat vir sy span ’n verloor-bonuspunt gered het.
Skeidsregter Zaid Izaacs het om dit sagkens te stel, nie hierdie toets geslaag of hy wedstryde in die premierliga kan hanteer nie. Veral in die tweede helfte het sy openlik eensydige string strafskoppe keer op keer ’n ommeswaai in United se guns bewerk. Te midde van ’n stortvloed kritiek vanaf die kantlyn was dit duidelik dat ernstige bedenkinge oor sy neutraliteit bestaan.
Puntemakers:
Wanderers: drieë deur vleuel Riaan van Zyl (2), haker Gerhard Lotter, senter Johann Tromp en die plaasvervangers Rohan Kitshoff (flank) en Arthur Bouwer (skrumskakel). Doelskoppe deur MP Pretorius en Riaan van Zyl (2).
United: Drie deur senter Claude Bouwer. Strafdoele (7) en doelskop deur slot Winmar Rust, skepdoel deur Robbie Dickson.
• Wanderers se tweede span het die verdediging van sy titel in die NRU reserweliga goed begin deur United II met 26-12 te klop. Wanderers se derde span (28-10) en selfs die Ou Krokke het gesorg dat die Wit Hingste skoonskip op die rugbyveld gemaak het. Regard Kruger het in laasgenoemde wedstryd ’n driekuns behaal.
UNAM GLY TEEN SUBURBS
In nog ’n derbystryd het FNB Western Suburbs teen sommige verwagtinge in met die verdedigende kampioen, die Universiteit van Namibië, afgereken.
Slim gebruik van die plaasvervangerbank was ’n faktor toe die Khomasdallers ’n agterstand van 9-17 met rustyd uitgewis het om met 26-20 die knoop deur te haak.
Hul skopheld was heelagter Ricardo Swartz, wat met drie strafdoele en twee doelskoppe raak gekorrel het. Senter Justin Nel het benewens sy drie ook met ’n vroeë strafdoel geslaag, met agtsteman Roderique Victor die ander driedrukker vir die wenspan.
Met Shaun Kaizemi en Russell van Wyk wat as reserwes tot later teruggehou is, het afrigter Sergio de la Harpe klaarblyklik sy kaarte reg gespeel om op die kampioene se tuisveld die oorhand te kry.
Dit het eers nie so gelyk nie, toe die aanvallende studentespan binne 15 minute met hul losskakel Hilarius Kisting se tweede drie die voortou met 14-3 geneem het.
Die skopvoete van Nel en Swartz het in die 53ste minuut die agterstand tot net vyf punte (17-12) laat krimp, voordat Victor en Nel hul verdoelde drieë gaan afrond het.
Aan Unam se kant is die skopwerk gedeel tussen heelagter Lorenzo Louis en losskakel Kisting, elk met ’n doelskop en ’n strafdoel.