Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Poubloues sal tuisspan nie lig skat, sê uniebaas

$
0
0
Poubloues sal tuisspan nie lig skat, sê uniebaas

Andrew Poolman - Griekwas verwag ’n “helse wedstryd” wanneer die afskopfluitjie môre teen die Windhoek Draught Welwitschias blaas.
Só sê die besoekende unie se president, mnr. Jannie Louw, wat gister uit Oshakati met die koerant gesels het voordat hy môre ’n toeskouer by die kwalifiserende Curriebeker-wedstryd in die Hage Geingob-stadion sal wees.
“Ek ken julle kaptein Rohan Kitshoff baie goed, wat tevore ook harde rugby vir Griekwas gespeel het. Ons weet dat ’n span met ’n string verlooruitslae soos wat julle beleef, desperaat is om daardie draaipunt te bereik waar sake begin reg loop en waar jy weer met selfvertroue kan speel.
“Ons afrigterspan het besluit dis tyd om ’n paar staatmakers te laat rus, maar die insluiting van tien nuwelinge sê nie ons dink ’n wen gaan sommerso kom nie. Ons weet die Welwitschias is honger vir ’n oorwinning.”
Louw sê sy ma is ’n gebore Namibiër en hy is deeglik bewus van die sterk, jarelange bande wat tussen die twee rugby-unies heers. ’n Man soos André Markgraaff was byvoorbeeld in sy speeldae in die 1980’s kaptein van beide Suidwes-Afrika en Griekwas voordat hy later die Springbokke afgerig het.
In Markgraaff se voetspore het Namibiërs soos Danie Vermeulen, Hugo Horn, Jacques Burger, TC Losper, Kitshoff en Danie Dames in die laaste klompie jare gevolg om die ‘Kwaste se trui op provinsiale vlak te dra.
“In Griekwas se amateurstruktuur weet ek dat spelers soos Jood Opperman, Frans Fisch, Jacky Bock, Heini Bock en Chrysander Botha ook by ons gespeel het. Ek self het ook rugby saam met die Bock-broers se pa Buks (’n latere NRU-president) gespeel,” vertel Louw.
Die Griekwas-baas sê mediaberigte uit Suid-Afrika vandeesweek is ietwat uit verband geruk waarin die unie se hoofafrigter, Peter Engledow, aangehaal word met ’n paar stellings wat krities oor die formaat van die huidige provinsiale reeks mag voorkom.
Onder meer het die gebruik van wedstrydgroepe van 22 spelers (eerder as 23) in die reeks ter sprake gekom, asook die opvatting dat Griekwas voortdurend misgekyk word in vergelyking met die unies wie se plek in die Curriebeker verseker is.
“Ons is nie gefrustreerd of in opstand teen die SA Rugby-unie nie, want die besluite oor die formaat van die kompetisie is behoorlik bespreek en is eenparig geneem.
“Namate ’n kompetisie soos hierdie vorder, word dit gewoonlik duidelik waar ’n mens verbeteringe kan aanbring en afrigters se perspektief en insette is altyd waardevol,” het Louw gesê.
“Griekwas ondersteun die insluiting van Namibië in die Curriebekerreeks ten volle.
“Ek sal byvoorbeeld geensins huiwer indien by Saru gestem word oor die Namibië Hoërskolerugbyvereniging se voorstel dat die o.18 Cravenweektoernooi in een van die komende jare hier aangebied word nie.”

Tags: 
Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263