Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Smit op 10, Krause flank teen Griekwas

$
0
0
Smit op 10, Krause flank teen Griekwas

Andrew Poolman - Afrigter John Williams het opnuut ’n paar wenkbroue laat lig met sy spankeuse vir môre se kwalifiserende Curriebeker-wedstryd teen ORC Griekwas in Windhoek se Hage Geingob-stadion (afskoptyd 15:00).
Die Windhoek Draught Welwitschias verwelkom Tinus du Plessis terug in hul geledere nadat die flank met die onblusbare werkvermoë ná die 2015 Wêreldbeker vir ’n paar maande by London Scottish gaan speel het.
Met vyf verloorwedstryde op ’n streep in die provinsiale reeks, raak die tuisspan se ondersteuners al behoorlik kriewelrig en Du Plessis se terugkeer word sonder twyfel verwelkom.
Die knoop is egter dat hy teen Griekwas as slot in die plek van die lange Ruan Ludick sal begin.
Ludick, Joe Hermann (flank, ligte harsingskudding), Shaun Kaizemi (losskakel, hou op die lip) en Russell van Wyk (vleuel, knie) is die vier manne wat dié naweek ’n welkome blaaskans kry ná die werkvrag wat hulle in die eerste vyf wedstryde gedra het.
Sodoende word nuwe geleenthede geskep vir manne soos losskakel Heinrich Smit en flank Herman Krause om vir die eerste keer vanjaar in die provinsiale reeks speelkans te kry.
Die veelsydige Smit was losskakel toe die Welwitschias in 2014 die Blou Bulle in Windhoek sterk besig gehou het en daar kan aangevoer word dat hy nog bitter min swak wedstryde in ’n Namibiese trui gespeel het.
Sy Wanderers-klubmaat Krause word egter in die diep kant ingegooi, want hoewel hy sedert vroeg vanjaar in die nasionale groep is, het ’n beenbesering hom reeds langer as ’n maand verhinder om selfs klubrugby te speel.
Afrigter Williams het gister opnuut beklemtoon dat die verbreding van die ondervinding van die plaaslike spelersbasis ’n belangrike oorweging bly.
In volgende week sal Phil Davies en sy krag- en kondisioneringsafrigter Wayne Proctor uit Wallis in Windhoek aankom om die toetsspan te begin voorberei met die oog op die Junie-toer na Roemenië, waar Wêreldrugby se jaarlikse Nasiebekertoernooi gespeel word.
Williams sê met deurlopendheid van sy kerngroep moet hy ook genoeg spelers wedstrydkans gee, omdat hy tydens die afwesigheid van die Namibiese toetsspan drie kwalifiserende Curriebekerwedstryde (Valke weg op 11 Junie, SWD Arende tuis ’n week later en Boland Kavaliers weg op 25 Junie) in die gesig sal staar.
Davies sal in dié internasionale vensterperiode vir toetsrugby sy spelers van buitelandse klubs en unies mag nader trek – hoewel Williams ook van die plaaslike staatmakers sal afstaan. Heelwat water moet nog in die see loop voor dié toergroep na Roemenië vorm aanneem.
“Tinus het toetservaring op slot en sy insluiting gee ons ’n ekstra losvoorspeler. Hy is ook ’n baie goeie organiseerder van ons vaste fasette,” het Williams gesê.
Griekwas is die onoorwonne voorloper in die provinsiale reeks en hoewel dié unie die kans aangegryp het om van sy staatmakers ruskans te gee, betekens dit nie dat die Namibiërs op ’n los gelukkie kan reken nie.
Die Windhoek Draught Welwitschias: 15 Johann Tromp, 14 Lesley Klim, 13 Darryl de la Harpe, 12 Francois Wiese, 11 Philip Nashikaku, 10 Heinrich Smit, 9 Arthur Bouwer, 8 Leneve Damens, 7 Herman Krause, 6 Rohan Kitshoff (kapt), 5 Tinus du Plessis, 4 Muniovito Kasiringua, 3 A.J. de Klerk, 2 Gerhard Lotter, 1 Shaun du Preez.
Reserwes: 16 Hauta Veii, 17 Quintin Esterhuizen, 18 Denzil van Wyk, 19 Zayne Groenewaldt, 20 JC Winkler, 21 Justin Nel, 22 Riaan van Zyl.
• Lees ook berig op bl. 53.

Tags: 
Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263