Andrew Poolman - ’n Eerste ligapunt staan uiteindelik agter die naam van die Windhoek Draught Welwitschias danksy die vier drieë wat hulle teen Griekwas, onoorwonne voorloper in die kwalifiserende reeks vir die Curriebeker, gedruk het.
Griekwas het die grondslag vir sy aanskoulike oorwinning met 55-25 in die Hage Geingob-stadion opnuut met ’n paar vinnige drieë in die eerste helfte gelê.
Net 42 sekondes ná die eerste afskop het Griekwas se regtervleuel AJ Coertzen vir ’n drie deurgehardloop. Vyf minute later was ’n teenaanval deur Alshaun Bock die vonk vir ’n binneaangee na skrumskakel Tiaan Dorfling wat agter die pale gaan druk het.
Die twee heelagters, Johann Tromp en Gouws Prinsloo, het strafskoppe uitgeruil om die telling tot 17-3 op te stoot. In die 21ste minuut het Griekwas se losskakel Andre Swarts dit reggekry om Darryl de la Harpe af te stamp en onder die pale te gaan druk, voordat hul bonuspuntdrie op die halfuurmerk gevolg het. Tromp het met ’n moedige duikslag die bal uit senter JW Jonker se greep laat spat, maar die bal was steeds speelbaar vir Dorfling om dit op te pik en sy tweede drie te gaan druk.
Die Welwitschias het van die volgende afskop uiteindelik tot verhaal gekom. Toe Griekwas nie uitskop nie, het Tromp twee verdedigers ingetrek en sy linkervleuel Phillip Nashikaku deurgestuur vir die tuisspan se eerste drie (31-8).
Buitesenter JW Jonker se drie het opnuut effens te maklik gekom, ná ’n gesteelde bal op die grond. Die Namibiërs het die laaste sê voor rustyd gehad toe losskakel Heinrich Smit met ’n goeie aangee die sterk senter Francois Wiese vir ’n maklike drie deurgestuur het. Tromp se skop was mis (rustyd 38-13).
Dit het Griekwas ná rustyd 16 minute geneem om sy eerste punte met ’n drie deur vaskopstut Stephan Kotze by te voeg.
Met volgehoue aanvalle het die Namibiërs die kans geskep vir Justin Nel (plaasvervanger vir De la Harpe) om vanaf ’n tikskoppie langs die pale te gaan druk. Nel het self oorgeskop (45-20).
Griekwas se reserweflank Thabo Mabusa is ná 32 minute vir ’n drie oorgedryf, voordat regtervleuel AJ Coertzen vir sy tweede drie tussen sy ligter opponente Nashikaku en Riaan van Zyl deurgestorm het.
Die Welwitschias se drie met die heel laaste beweging sal straks een van die blywende indrukke van die wedstryd wees. Nashikaku is in sy eie helfte teen die kantlyn in besit gestel en het met sy vaartversnelling twee manne geklop. Naby die hoekvlag het hy nog ’n dekverdediger geklop voordat hy op die doellyn grond toe gebring is. Die reserwe-skrumskakel JC Winkler was egter op sy pos om die drie in die hoek te druk en hoewel Justin Nel se doelskop mis was, het die bonuspunt as ’n mate van troos gedien.
BESERINGS
Vir die Welwitschias was agtsteman Leneve Damens, sy kaptein Rohan Kitshoff en binnesenter Francois Wiese van die prominente spelers. Regtervleuel Malcolm Moore het een van sy beste vertonings op die aanval én verdediging gelewer, ná sy laat insluiting in die plek van Lesley Klim (enkel by oefening beseer).
Saam met Klim op die krukkelys is die flank/slot Tinus du Plessis, wie se terugkeer na die Hage Geingob-stadion net 18 minute geduur het voordat ’n pynlike dyspier begin pla het.
Johann Tromp en die stut AJ de Klerk het ook ongemak van beenbeserings gewys toe hulle afgekom het. Boonop is die flank Thomasau Forbes (enkel) en vleuel Tuna Amutenya (studies) ook nie meer in afrigter John Williams se opsies vir die komende wedstryde nie.
• Die Namibiërs het opnuut heelwat om aan te skaaf voordat hulle einde vandeesweek na Potchefstroom vertrek vir hul volgende botsing teen die Luiperds. Hul landgenote Johan Deysel en Louis van der Westhuizen was albei die naweek in aksie toe die Luiperds met 34-22 teen die Grens Bulldogs gewen het
Westelike Provinsie, met Janco Venter op flank en Damian Stevens en Christo van der Merwe as reserwes, was met 50-10 te sterk vir die OP Kings.
Die naweek se ander uitslae in die provinsiale reeks:
Vrystaat 19-13 Haaie; Boland 56-17 Griffons, SWD Arende 30-32 Valke; Blou Bulle 13-25 Pumas.