Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Renaldo kan toetskaptein word

$
0
0
Renaldo kan toetskaptein word

Andrew Poolman - Die 26-jarige agtsteman van die Blou Bulle, Renaldo Bothma, kan vir die eerste keer die kaptein van die Namibiese r­ugbyspan vir volgende maand se toer na Roemenië vir die Wêreldrugby Nasie­bekertoernooi in Boekarest word.
Afrigter Phil Davies het sy 2015 Wêreldbekergroep as die kern gebruik vir die komende ­toetsseisoen waarin Namibië met wedstryde teen Roemenië (9 Junie), Spanje vier dae later en Italië-A (18 Junie) begin.
Die ooglopende uitsonderings is Jacques Burger, wat as kaptein van die 2011 en 2015 Wêreldbeker sy rugbystewels opgehang het, tesame met die uitgetrede stutte Johnnie Redelinghuys, Jaco Engels en Raoul Larson, asook skrumskakel Eneill Buitendag en senter Danie van Wyk wat sover bekend ook nie vanjaar enige rugbyplanne het nie.
Die vleuels David Philander en Conrad Marais, wat in diens van hul klubs in onderskeidelik ­Nieu-­Seeland en Frankryk beserings opgedoen het, asook heelagter Chrysander Botha, wat op trou staan, is nog drie wat beslis nie sal saam toer nie.
Die Wêreldbeker-span se twee hakers Torsten van Jaarsveld (Cheetahs) en Louis van der Westhuizen (Luiperds) is nie vir die Namibiese toer beskikbaar gestel nie, terwyl vraagtekens ook nog oor die vrystelling van die Vrystaat Cheetahs se stut Aranos Coetzee hang.
Enkele spelers uit die plaaslike groep wat om Curriebeker-­kwalifisering meeding, sal ook die paal haal.
’n Verrassende insluiting met die oog op die toekoms is die nasionale o.20’s se haastige vleuel Gino Wilson – die enigste nuweling, wat nog nie eens ’n Curriebeker-verskyning gemaak het nie.
Beserings (die losvoorspelers Thomasau Forbes en Roderique Victor) en studieverpligtinge (vleuel Tuna Amutenya) het ook plaaslike aanspraakmakers buite rekening gehou.
Die voorlopige Namibiese toergroep wat komende Maandag in Windhoek moet aanmeld:
Stutte: Casper Viviers (Saint Nazaire, Frankryk), AJ de Klerk (Mariental), Quintin Esterhuizen (FNB Wanderers), Aranos Coetzee (Cheetahs).
Hakers: Gerhard Lotter, Shaun du Preez (beide Wanderers).
Slotte: Tjiuee Uanivi (Haaie), Janco Venter (Westelike Provinsie), PJ van Lille (Bayonne, Frankryk), Ruan Ludick (Wanderers).
Losvoorspelers: Renaldo Bothma (kapt, Blou Bulle), Rohan Kitshoff (Wanderers), Wian Conradie (Universiteit van Johannesburg), Leneve Damens (Unam), Tinus du Plessis (Wanderers, ook slot).
Skrumskakels: Damian Stevens (Westelike Provinsie), Arthur Bouwer (Wanderers).
Losskakels: Theuns Kotzé (Boland ­Kavaliers), Eugene Jantjies (Dinamo Bucuresti, Roemenië, ook skrumskakel).
Senters: Darryl de la Harpe (FNB Western Suburbs), Johan Deysel (Luiperds), JC Greyling (Wanderers).
Vleuels en heelagters: Johann Tromp (Wanderers, ook senter), Malcolm Moore (Wanderers), Gino Wilson en Russell van Wyk (beide Western Suburbs), Heinrich Smit (Wanderers).

Tags: 
Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263