Welverdiende ruskans vir staatmakers soos Johann Tromp en Leneve Damens is ’n opvallende kenmerk van die Windhoek Draught Welwitschias se span wat môre die aanslag van die Griffons in Windhoek moet afweer (afskoptyd om 15:00).
Swem of sink, is opnuut die boodskap met afrigter John Williams se spankeuse wat sy vertroue in ’n paar baie onervare spelers wys.
Zayne Groenewaldt, flank van Trustco United, neem Damens se plek in die lostrio ná ’n paar kortstondige verskynings van die bank af.
Tromp se plek in die laaste vestig word deur Riaan van Zyl geneem, wie se waagmoed en vaart altyd die skare in die Hage Geingob-stadion laat regop sit.
Moet ook nie die opwindende jong buitesenter Lesley Klim miskyk nie.
Uit Petrie Burger, Aleck Botha, Thomas Khali en Aurelio Plato is eersgenoemde die enigste van die nuwe plaasvervangers wat al ’n proesel provinsiale rugby gesmaak het. Khali is ’n bloedjong Unam-voorspeler wat seer sekerlik minder as ’n hand vol premierliga-verskynings agter die blad het – insluitend verlede naweek teen Western Suburbs.
• Die Noord-Vrystaters kom in Windhoek aan met Tertius (Taro) Maarman en Boela Abrahams terug in hul midde.
Maarman se ervaring van meer as 100 wedstryde in die pers trui is goud werd en sy insluiting bring mee dat Selvyn Davids terugskuif regtervleuel toe.
Abrahams begin weer in die 9-trui aan George Whitehead se binnekant, met Japie Nel op binnesenter.
Die Griffons-agterlyn het ’n mengsel van krag en vaart, asook ervaring en jeug.
Die Perses se agttal is onveranderd met Dirk Grobbelaar (agtsteman), Boela Venter en Thato Mavundla die lostrio.
Die Griffons (sesde op die puntelys) teken tans gemiddeld vyf drieë per wedstryd aan en die Welwitschias (15de) staan sewe per wedstryd af.
Selvyn Davids is tans die voorste driedrukker in die provinsiale reeks met nege in ses wedstryde, met George Whitehead die voorste puntemaker in die liga.
Die Griffons-haker Niel Rautenbach kwalifiseer om vir Namibië te speel, maar het tot nou toe sulke uitnodigings van die hand gewys – insluitend na die 2015 Wêreldbeker.
Die spanne is:
Windhoek Draught Welwitschias (1-15): Casper Viviers, Gerhard Lotter, Collen Smith, Muniovita Kasiringua, Ruan Ludick, Rohan Kitshoff (kapt), Zayne Groenewaldt, Joe Hermann, Cameron Klassen, Shaun Kaizemi, Russell van Wyk, Francois Wiese, Lesley Klim, Phillip Nashikaku, Riaan van Zyl
Reserwes: Petrie Burger, Aleck Botha, AJ de Klerk, Thomas Khali, JC Winkler, Aurelio Plato, Justin Nel.
Down Touch Griffons (1-15): Daniel van der Merwe, Niel Rautenbach, Heinrich Roelofse, Samoora Fihlani, Gavin Annandale (kapt), Thato Mavundla, Boela Venter, Dirk Grobbelaar, Boela Abrahams, George Whitehead, Warren Williams, Japie Nel, Duan Pretorius, Selwyn Davids, Tertius Maarman.
Reserwes: Hennie Venter, George Marich, Martin Sithole, Zing April, Ossie Nortje, Lohan Lubbe, De Wet Kruger.
Griffons se ervaring maak sake nie makliker