Dit sal uithaal en wys kos, maar Renaldo Bothma en sy Namibiese rugbyspan kan dalk die Wêreldrugby Nasiebekertoernooi in ’n respektabele derde plek of selfs tweede afsluit.
Die Namibiërs draf môre om 18:00 plaaslike tyd (16:00 in Namibië se wintertyd) in Boekarest, Roemenië in hul laaste wedstryd teen die Ontluikende Italië-span op die veld.
Die kampioenskap sal waarskynlik in die daaropvolgende wedstryd bepaal word, tussen die gasheerspan (nege ligapunte) en Argentinië-A (tien punte).
Danksy die vyf punte wat Namibië met sy dramatiese oorwinning van 34-32 Maandag teen Spanje ingeoes het, het die Afrikane reeds beter presteer as in verlede jaar se wenlose vertoning in Boekarest.
Afrigter Phil Davies se manne sal wel nie soos Johan Diergaardt- en Jacques Burger-hulle in 2010 die trofee omhoog hou nie, maar sal gewis môre hul toer op ’n hoogtepunt wil afsluit.
Italië is vandeesweek 14de op die wêreldranglys en Namibië 21ste.
Die Italiaanse “jongspan” sal soos dié land se Sesnasies-span voorlangs ’n bul van ’n uitdaging stel. Hulle is immers net met 30-40 deur die Argentynse A-span ondergekry en spog soos Namibië ook met vyf ligapunte danksy ’n vroeër oorwinning teen Uruguay (26-24).
Regstreekse videostroom van die toernooi word op www.rugbytv.ro vertoon.
KLUBRUGBY
Die naweek se program van wedstryde in die Namibië Rugby-unie premierliga is soos volg:
VANAAND: 20:15 United 1 tn Unam 1 by United
MôRE: 15:15 Rehoboth 1 tn Western Suburbs 1 op Rehoboth; 15:15 Wanderers 1 tn Kudus 1 by Wanderers; 15:15 Walvisbaai 1 tn Dolphins 1 op Walvisbaai.
SKOLERUGBY
Môre in die Momentum onder 19 premierliga is die bepalings soos volg:
11:00 Tsumeb Gimnasium I tn Walvisbaai I op Tsumeb
13:20 HTS I tn Windhoek Gimnasium I by HTS
11:20 WAP I tn Windhoek Gimnasium II by WAP
12:20 Elnatan I tn WHS I op Stampriet (FNB Classic Clash)