Andrew Poolman - Renaldo Bothma, Torsten van Jaarsveld en Aranos Coetzee sal afwesig wees wanneer Namibië komende Saterdag sy onoorwonne tuisrekord verdedig teen ’n Kenia-span propvol selfvertroue in hul Afrikabeker 1A-rugbytoets in Windhoek se Hage Geingob-stadion.
Die Keniane het laas naweek hul grootste oorwinning nóg teen Zimbabwe opgestapel toe hulle in Harare met 61-15 aan die wenkant was.
Die Namibiese toetsspan is nog nie aangekondig nie, maar die feit dat Bothma nie deur die Blou Bulle vrygestel is nie, bring mee dat Tjiuee Uanivi beslis as kaptein sal voortgaan. Die lang slot was twee naweke gelede vir die eerste keer die spanleier toe Uganda in Kampala met 40-31 geklop is.
Kenia lyk beslis na die sterkste uitdager vir Namibië se status as kampioen van die Afrikabeker. In verlede jaar se wedstryde (beide tuis) het die Namibiërs met 46-13 verby Kenia gestorm en vir Zimbabwe met 80-6 verneder.
Dit bly egter raadsaam om te onthou dat Saterdag se wedstryd opnuut op ’n skoon blad begin en dat Kenia brand om munt te slaan uit die swak Namibiese verdediging wat in Kampala te sien was. Die Simbas het al oorwinnings teen Namibië in Nairobi (2006) en meer onlangs in 2014 in Madagaskar behaal en die groot mylpaal in Windhoek lyk skielik nie meer so ondenkbaar nie.
‘VERGEET VAN MAKLIK’
Die Namibiese skeidsregter Danie Koen was laas Saterdag ’n vlagman in Harare en sê die Keniane het hom beïndruk.
“Hulle is almal goed gekondisioneer en het ’n baie gedissiplineerde vertoning gelewer. Zimbabwe is baie gestraf vir hoogvatte, of duikvatters wat op die grond nie wegrol nie, of ondersteunende spelers wat van die kant af aansluit.
“Die tuisspan het sy bes probeer op die aanval, maar was nie bestand teen die tempo waarteen Kenia hulle gestraf het vir enige verlore balbesit nie. Kenia het sterk geskrum en hul agterspelers is nie net vinnig nie, maar ook groot. Namibië moenie dink dit gaan maklik wees nie.”
’n Minder opsigtelike faktor wat Koen reken ook in die Oos-Afrikane se guns kan tel, is dat hulle vir die tweede naweek ná mekaar sal weet wat om van die Suid-Afrikaanse skeidsregter Marius van der Westhuizen te verwag.
“Kenia is ook reeds sedert Sondag in Windhoek. Hulle het sommer uit Harare die direkte vlug met Air Namibia hierheen geneem en behoort dus aangepas te wees by die hoogte bo seespieël.”
CURRIEBEKER
Die Windhoek Draught Welwitschias se span is ook bekend wat môre om 16:00 Namibiese tyd op Loftus Versfeld in Pretoria teen die Vodacom Blou Bulle te staan kom.
Die span is (1-15): Schalk Bergh, Petri Burger, Hauta Veii, Alberto Engelbrecht, Lodewyk Davis, Zayne Groenewaldt, Morné Blom, Johan Wohler, Cameron Klassen, Mahco Prinsloo, Malcolm Moore, Francois Wiese (kapt), Phillip Nashikaku, Justin Nel, Riaan van Zyl. Reserwes: Niël van Vuuren, Ignus Tripodi, Johan Luttig, Max Katjijeko, JC Winkler, Shaun Kaizemi, MP Pretorius.