Andrew Poolman - Twee Namibiërs sal vandag aan die kant van die Vodacom Blou Bulle teen hul landgenote van die Windhoek Draught Welwitschias wil wys dat hulle dalk nader aan internasionale gehalte is as wat hulle tot dusver gereken is.
Divan Rossouw (heelagter) en Alcino Izaacs (linkervleuel) het reeds etlike wedstryde dié seisoen in die kwalifiserende reeks vir die Curriebeker saamgespeel.
Vandag se botsing op Loftus Versfeld in Pretoria sal dus vir hulle nie naastenby die nuwe ondervinding wees wat op die Namibiese amateurspan onder kapteinskap van die senter Francois Wiese wag nie.
Die toekomsvisie is dat die provinsiale reeks sal bydra om mettertyd ’n geharde Namibiese span op te bou wat hou vir hou met Suid-Afrika se grotes kan saampraat – soos in die gloriedae toe Gerhard Mans se span van 1988 op Loftus Versfeld met 18-16 teen Naas Botha se Curriebekerkampioenspan verloor het.
Daar is egter geen bewyse om selfs te vermoed dat dié naweek se groepie gereed is naastenby só ’n vertoning te lewer nie.
Die 20-jarige Rossouw het Namibië in die laaste twee jaar op o.20-vlak en voor dit as Cravenweek-speler verteenwoordig. Die oudskolier van Windhoek Gimnasium moet op die langer termyn een van die kandidate wees om die Namibiese nr. 15-toetstrui by Chrysander Botha oor te neem.
Die 22-jarige Izaacs het sy eerste ernstige rugby by Namib High op Swakopmund geleer en het die land van o.16- tot o.19-vlak verteenwoordig, voordat hy drie seisoene by die Sharks se rugby-akademie gespeel en ook ’n paar drieë vir dié unie se Vodacombeker-span gedruk het. Die seun van die voormalige toetsslot Eben se rekord dui daarop dat hy tans een van die mees onderskatte Namibiese spelers op beroepsvlak kan wees.
Die Bulle se afrigter Hendré Marnitz beproef ’n nuwe lostrio teen die span wat onderaan die puntelys is.
Freddy Ngoza begin op agtsteman, terwyl Abongile Nonkontwana van slot af na die kant van die skrum verskuif met Tapiwa Tsomondo in die nr. 6-trui.
Tony Jantjies is ook terug as losskakel en langs hom op binnesenter is die Junior Springbok JT Jackson ingesluit.
Die vleuel Jade Stiglingh, senter Marquit September en skrumskakel André Warner is ook gesoute spelers en die enigste oorblywende lede van die span wat verlede jaar in die Vodacombeker-oorwinning met 44-0 in Windhoek gebaljaar het.
Die Vodacom Blou Bulle (15-1): Divan Rossouw, Jade Stiglingh, Marquit September, JT Jackson, Alcino Izaacs, Tony Jantjies, André Warner, Freddy Ngoza, Abongile Nonkontwana, Tapiwa Tsomondo, Aston Fortuin, Ruben van Heerden, Martin Dreyer, Alandre van Rooyen, Njabulo Gumede.
Reserwes: Jan-Henning Campher, Justin Forward, Eli Snyman, Jsuan-re Swanepoel, Ivan van Zyl, Joshua Stander, Ganfried May.
Min weerstand op Loftus verwag