Andrew Poolman - ’n Belangrike grondslag vir wat ’n relatief pynlose kwalifikasie vir die volgende Wêreldbekertoernooi behoort te wees, is Saterdag in die Hage Geingob-stadion gelê.
Namibië se oorwinning met 56-21 teen Kenia laat lyk dit baie waarskynlik dat afrigter Phil Davies se manne twee tuiswedstryde en net een wegwedstryd (teen span nommer 4) in die 2017 Afrikabekerreeks sal speel.
Volgende jaar se kampioen sal regstreeks tot die 2019 Wêreldbeker in Japan deurdring.
Namibië se beproefde ou wenresep om Kenia te klop, is Saterdag weer foutloos uitgevoer toe dit saakgemaak het. Kaptein Tjiuee Uanivi en sy agttal het vanaf die eerste afskop ’n wurggreep op die besoekers verkry wat eers afgeskud kon word toe dit reeds te laat was.
Dodelike aggressiewe verdediging en die geleerde skopvoet van Theuns Kotzé was die ander bestanddele wat Kenia op 42-0 ná 28 minute skoon uit die wedstryd gehaal het.
Agtsteman Tinus du Plessis het twee drieë in die eerste helfte gedruk en is as die speler van die wedstryd bekroon. Die twee flanke Janco Venter en Rohan Kitshoff sou ewe waardige kandidate gewees het in hul onderskeie rolle om ’n doring in Kenia se vlees te wees.
Spel was nog vir minder as ’n minuut aan die gang, toe die SA skeidsregter Marius van der Westhuizen sy geel kaart aan Kenia se slot Simon Muniafu gewys het. Volgens die blaser was dit ’n siniese oortreding toe hy skrumskakel Eugene Jantjies geduik het, skaars twee treë nadat hy ’n vinnige tikskop geneem het.
Drie minute was verstreke toe kaptein Uanivi die eerste Namibiese drie van die gevolglike lynstaandryf gedruk het.
Op sy 29ste verjaardag het Theuns Kotzé nie een van sy agt doelskoppe vir die dag laat skeef trek nie. Kotzé het sy nasionale punterekord in toetsrugby tot 388 in 33 toetse opgeskuif. Sy taktiese skoppe om Kenia te laat omdraai, het ook deurgaans die druk op die besoekers verplaas.
Die telling het 14-0 geword toe Kenia in die sewende minuut van sy skrumbal afgestoot is. Kotzé en Darryl de la Harpe het hanteer om Chrysander Botha in die linkerhoek oor te stuur vir ’n drie wat die Walvisbaaier op 19 toetsdrieë net twee agter Eden Meyer se tweede plek op die nasionale rekordlys plaas.
Die Namibiese agttal was in ’n onversetlike bui en toe Kitshoff in die 15de minuut ’n lynstaandryf afrond, was die telling gerieflik voor die horlosie (21-0).
’n Hoë skop van Kotzé is teruggewen en deur die hande geneem vir vleuel Gino Wilson om sierlik in die linkerhoek oor te duik (28-0 ná 19 minute).
Tinus du Plessis het die volgende twee drieë ná 24 en 28 minute onder die pale gedruk – eers van agter ’n vyfmeterskrum en toe nadat Janco Venter sy aangee in ’n duikslag weggekry het.
Voor rustyd was daar nog tyd vir Kenia se losskakel Isaac Adino om op die voorvoet ’n verdediger te systap en onder die pale te druk (42-7). Chrysander Botha het ook ’n geel kaart vir ’n oortreding op die grond ná ’n duikslag gekry.
Regtervleuel Russell van Wyk is sowat ses minute ná rustyd op volle vaart weggestuur vir ’n tipiese drie. Tien minute later was Johan Deysel se drie ewe maklik nadat Venter en Kitshoff met stormlope en De la Harpe met vinnige hande vir hom spasie geskep het.
Al die Namibiese reserwes is in die tweede helfte opgestuur, maar die intensiteit kon nie volgehou word nie en die oop rugby het posgevat wat Kenia se kos is. Drie drieë deur hul plaasvervangers James Kangethe, Fabian Olando en Dan Sikuta was die gevolg.
Geen nonsens van Kenia gevat