Andrew Poolman - Die maandelange frustrasie van ’n skorsing uit enige rugbybedrywighede is die voorland van die Namibiese skrumskakel Arthur Bouwer ná sy oënskynlik positiewe toets vir ’n anaboliese steroïed.
Die Namibië Rugby-unie het gister in ’n nuusverklaring bekend gemaak dat ’n nasionale speler gedurende die onlangse Junie-toer na Roemenië ’n positiewe toets vir ’n verbode middel gelewer het, soos in Wêreldrugby se regulasie 21 uiteengesit word.
“Die NRU word nie toegelaat om die speler se naam te verklap nie. Verdere ondersoek sal volg en dissiplinêre optrede sal deur die NRU gedoen word, afhangend van die uitslag van sodanige ondersoek.
“Die Rugby-unie beskou oortredings met verbode middels in ’n ernstige lig en pas geen verdraagsaamheid hiervan in rugby toe nie. Ernstige stappe word gedoen om spelers se bewustheid van verbode middels te vergroot,” sê die NRU-verklaring.
Republikein het egter enkele dae gelede reeds uit ander bronne verneem dat Bouwer die betrokke speler is.
Die opkikkertoets is glo in middel-Junie gedurende die Wêreldrugby Nasiebekertoernooi in Boekarest uitgevoer. Die speler het ’n beheervorm onderteken voordat die monsters na een van WADA se geakkrediteerde laboratoriums in Switserland gestuur is. Die uitslag was positief vir die teenwoordigheid van dehidrochlorometieltestosteroon.
Tot tyd en wyl die saak afgehandel is, bly die speler voorlopig geskors en word nie toegelaat om as lid van ’n span of oefengroep te speel of te oefen nie. Hy mag ook nie ’n afrigter, keurder, wedstrydbeampte, organiseerder, administrateur of promotor van enige georganiseerde rugby-aktiwiteit wees nie.
Volgens Wêreldrugby se rekords het die speler nie oor ’n vrywaringsvorm vir terapeutiese gebruik beskik wat in die behandeling van ’n werklike mediese toestand van toepassing kan wees nie. Derhalwe word sy moontlike oortreding van die opkikkerregulasies ondersoek.
Wêreldrugby se rekords toon ook geen vorige oortreding met verbode middels wat teen die speler aangeteken is nie.
Die 26-jarige Bouwer het sedert Julie 2012 in 15 toetse vir Namibië op die veld gedraf. Sy laaste verskyning was drie naweke gelede in die Afrikabeker-wegwedstryd teen Uganda in Kampala.
Meer inligting oor verbode middels kan aanlyn op keeprugbyclean.worldrugby.org nagespeur word.
Bouwer in sop oor steroïed