Andrew Poolman - Namibiese rugby kan net hoop om vanaf vandag die stukke te begin optel ná Danie Vermeulen se bedanking as nasionale afrigter te midde van vingerwysings oor die rol wat die Namibië Rugby-unie die afgelope maande gespeel het.
Vermeulen se bedankingsbrief aan die NRU was net twee sinne, waarvan die tweede sy frustrasie verklap het: “Ek voel dat ek nie langer tot die span se voorbereiding vir en sukses in die Wêreldbekertoernooi kan bydra nie, vanweë die Unie se gebrek aan ondersteuning op verskeie vlakke.”
Die afrigter het intussen die naweek op sosiale media in ’n onthullende nuusverklaring oor wat agter die skerms gebeur, die agtergrond van sy besluit geskets.
“Die rede vir my bedanking kom sedert kwalifisering vir 2015 Wêreldbeker in Madagaskar in 2014. Baie mense kon nie verstaan hoe ons so swak kon speel teen Kenia en Zimbabwe in die eerste twee wedstryde nie, maar tog daarin kon slaag om die WP te klop en teen die Bulle se Superrugbyspan vir 60 minute kompeterende rugby te speel twee weke tevore.
“Wat die publiek nie geweet het nie, was dat ek deur die NRU opdrag gegee is om my oefeninge te beperk tot net twee sessies per week aangesien hulle gevoel het die spelers moet eerder klubrugby speel. Dit het veroorsaak dat die spelers onvoldoende gekondisioneer was en nie die spelpeil kon handhaaf vir vier wedstryde in ’n ry nie; en dit in ’n Wêreldbeker kwalifiserende jaar. Dat ons wel gekwalifiseer het, is in my oë ’n wonderwerk en soos die Engelsman sou sê ‘an act of God’.
“Ná kwalifisering het die NRU weer besluit die spelers moet klubrugby speel terwyl ons liewer moes voorberei vir die komende Europese toer in November 2014, wat my weer met beperkte tyd gelaat het, veral met kondisionering om spelers voor te berei vir die uitdaging wat voorlê. Nodeloos om te sê, ons het nie een wedstryd gewen nie.
“Wat die skokkendste was, was die inmenging van die raad se kant met die kies van die toergroep. Die groep sou aanvanklik net uit 28 spelers bestaan en toe ek nie ’n sekere speler kies nie, toe word die groep vergroot na 29 en is ek net ingelig die betrokke speler gaan saam.
“Na afloop van die November-toer is ek in my toerverslag meegedeel dat klagtes van rassisme deur die gekleurde spelers teen my ingedien is en dat die klagtes skokkend is. Ek het versoek om die klagtes te sien, maar het dit tot vandag nog nie ontvang nie. Ek het tot vandag toe nog geen verduideliking van NRU oor die aangeleentheid ontvang nie en die punt is nooit uitgeklaar nie.”
Wolk
In afsonderlike korrespondensie aan die koerant het Vermeulen verklap dat die wolk van “rassisties gedrewe” spankeuses reeds aan die einde van verlede jaar oorwegings van bedanking by hom tuisgebring het, omdat sulke opvattings die eenheid van die span sou ondermyn.
“Die hele situasie rondom my gaan oor vertroue. Sekere raadslede wil en sal my nooit vertrou nie, hulle sien my as ’n rassis en niks wat ek doen, sal daai siening verander nie, dink ek. Die feit dat ek in 2001 ’n tradisionele wit klub begin afrig het en dit in 2012 gelos het met ’n byna 50/50 kleurverhouding, sien of wil hulle nie raaksien nie. Die feit dat verskeie spelers van kleur onder my hande vir Namibië gespeel het, sien hulle ook nie raak nie,” het hy in Desember 2015 aan die visepresident mnr. Danie Strauss geskryf.
“Ek word nie vertrou om die span af te rig nie. Dit is duidelik dat sekere raadslede en Steph (Nel) ingesluit nie vertroue het in my vermoëns nie. Ek het nie insae in hoe my span wil voorberei nie. As ek my mening gee, word ek geïgnoreer , my versoeke word nie aan voldoen nie. Dit is duidelik dat daar nie vertroue in my vermoë is nie.
“Die feit dat ek nou as ’n rassis uitgemaak word, gaan my verhouding met alle spelers van kleur hiervandaan vorentoe beïnvloed. Spelers van kleur gaan my nie weer vertrou nie, want ’n persepsie van wie ek is, is nou geskets en of dit waar is of nie dit gaan nie ’n rol speel nie.”
Afrigterspan
Vermeulen is uiters besorg dat Henry Kemp (hulpafrigter), Roger Thompson (verdedigingsafrigter) en dr. Vernon Morkel (spandokter) nou die enigste lede van die afrigter- en mediese span is wat oor Namibiese burgerskap beskik. Dit voorspel volgens hom niks goeds vir die nalatenskap van kundigheid ná die Wêreldbeker nie.
“In Desember 2014 woon ek ’n vergadering by waar menere Mark Egan en Steph Nel van Wêreldrugby ook teenwoordig was en word ek versoek om nie die Vodacombeker af te rig nie, aangesien die politieke druk op die raad en op my te veel is en om die druk te verlig, voel hulle ek moet liewer as afrigter terugstaan, wat ek wel gedoen het.
“In Januarie 2015 by ’n finansiële beplanningsessie het die NRU-president mnr. Bradley Basson my voor die NRU-raadslede meegedeel dat hy geen meer vertroue in my vermoëns as afrigter het nie.
“Met die vergadering in Desember het ek dit baie duidelik gestel dat die NRU ’n gekwalifiseerde kondisioneringsafrigter moes aanstel, aangesien Michiel Greeff bedank het ná herhaalde kritiek deur Steph Nel en John Williams. (Michiel is die enigste Wêreldrugby geakkrediteerde kondisionerings afrigter in Namibië en besit ook ’n meesters graad in biokinetika). Dit is nooit gedoen nie en is vyf maande gemors in die Vodacombeker wat ’n direkte invloed op die span se vertoning gehad het nou in die Nasiesbekertoernooi in Roemenië (statistiek van kondisionering is beskikbaar).
“Walter Don, die agterlyn-afrigter, het in September 2014 bedank ná ’n vergadering met raadslede waar ek soos ’n skoolseun deur mnr. Bradley Basson vergil is omdat ek durf waag het om die raad te kritiseer vir hul onvermoë om my genoeg tyd te gee om span vir die Europese toer voor te berei. Na afloop van die vergadering het Walter my ingelig dat hy nie verder kans sien om onder dié omstandighede af te rig nie.
“Ná Walter (se vertrek) het ek verskeie kere die NRU versoek om ’n agterlyn-afrigter aan te stel wat tot en met my bedanking nie gebeur het nie. Dit het ’n wesenlike effek op die agterlynspel by die Nasiesbeker gehad en weereens moes die spelers die prys betaal.
Rusland
“In April 2015 ontvang ek ’n e-pos wat verkeerdelik aan my gestuur is waarin Phil Davies, die Walliese konsultant, versoek dat hy en Wayne Proctor en John Williams volmag moet kry om die nasionale span voor te berei en te kies, was dit nie ’n skok vir my nie.”Die week voor ons vertrek na Tunisië en Roemenië het ek die lys van die groep buitespelers wat deel is van die voorlopige WB-groep van 50 na John Williams deurgestuur sodat die vrystellings vir die betrokke spelers by hul onderskeie klubs en provinsies aangevra kon word.
“Op 18 Junie terwyl ek in Roemenië is, kontak ek sewe spelers om te hoor wanneer hulle in Windhoek gaan wees in Julie. Vier van die spelers bevestig dat hulle nog geen kennisgewing van die NRU ontvang het dat hulle in Windhoek moet aanmeld nie. Tot en met my bedanking kon die NRU my nie ’n lys voorsien met datums wanneer al die spelers in Windhoek sou wees om vir die komende Rusland-toetse voor te berei nie.
Hennie Skorbinski
“In die groep van 50 het ek ’n speler van die Pumas gekies (Hennie Skorbinski). Hy is ’n uitstekende senter, kan losskakel ook speel en is ook ’n baie goeie stelskopper. Ek het die NRU reeds in Februarie meegedeel om my met die speler se aansoek om burgerskap by te staan aangesien sy ma ’n gebore Namibiër is.
“Toe ek die groep deurstuur, word ek deur die NRU Hoëprestasie komitee meegedeel dat die speler nie Namibiese burgerskap het nie en dat hy nie oorweeg kan word nie. Toe ek navraag doen hoekom die NRU nie met die aansoek gehelp het nie, word ek meegedeel dat dit ’n raadsbesluit was. Ek het onmiddellik versoek hoekom ek nie ingelig was van die besluit nie, maar het tot op hede nog geen antwoord van die CEO ontvang nie. Dit beteken in die WB-groep van 50 is net een erkende stelskopper, Theuns Kotzé.
“Hierdie is net ’n paar voorbeelde van voorvalle wat in my tyd as afrigter van die nasionale span gebeur het, maar daar was vele meer gevegte.
“Met dit as agtergrond het ek tot die besef gekom dat ek die oorsaak is hoekom spelers en die span benadeel word. Dat ek tussen sukses by die Wêreldbeker staan en met klagtes van diskriminasie hangende teen my, ’n raad wat in my spankeuses inmeng, ’n president wat nie meer vertroue in my vermoëns het nie, geen aangestelde agterlyn-afrigter en geen idee wanneer ek my spelers gaan hê om vir die toetse teen Rusland voor te berei nie.”
Laaste strooi
“Die laaste strooi was my rolstoel situasie. Met ons aankoms in Tunisië op 4 Junie was my stoel weg.
“Ons skakelbeampte van Tunisië het op die lughawe een van die lughawe se stoele gesteel net dat ek ’n stoel moet hê om mee te beweeg. Nou dit is geen geheim dat parapleë nie beheer oor ons maag en blaas het nie. Dus behalwe die feit dat ’n rolstoel belangrik is vir my om span af te rig, is dit noodsaaklik vir my lewensgehalte.
“Met ons koms in Roemenië het ek uit my sak (N$6 000) vir my ’n basiese stoel gaan koop net om bietjie meer mobiel te kan wees om die span af te rig. Met my aankoms in Windhoek op 24 Junie is ek meegedeel dat die versekering wat NRU uitgeneem het vir bagasie net N$30 000 dek. Ek het die 25ste weer navraag gedoen by die CEO, maar het tot vandag toe nog nie ’n antwoord op my e-pos gekry nie, ook nie ’n apologie nie, want niemand by NRU wil verantwoordelikheid vir die situasie vat nie.
“My koste beloop tans vir rolstoele sedert my stoel weggeraak N$127 550. Die NRU het my (Donderdag) in kennis gestel dat die versekering N$30 000 en die NRU ex gratia betaling van N$19 000 aan my sal maak, wat my los met N$78 550 uit my sak. Tot en met Donderdag het ek nog geen betaling van versekering of NRU ontvang en het ek intussen alles uit my sak betaal.
“Is dit wat ek vir die NRU werd is? Moet ek vir die gelag betaal as NRU onvoldoende versekering uitneem? Alles in aanmerking geneem, het ek tot die besluit gekom dat die NRU nie regtig waarde in my as afrigter sien nie en het ek geen ander rede gehad as om te bedank nie.”
Reaksie
Kort voor druktyd gisteraand is ’n ewe lywige reaksie van die Namibië Rugby-unie ontvang wat vir vandag se koerant verwerk sal word.