Andrew Poolman - Ná die uittrede van Jacques Burger is daar groot leë skoene om te vul van Namibiërs wat die land se rugby in Europa se hoogste ligas in die openbare oog hou.
’n Sterk kandidaat het egter die naweek na vore begin tree.
Die agtsteman Pieter-Jan van Lill was een van die helde vir sy klubspan Bayonne wat die grootste skok van die openingsronde van die Franse Top 14-seisoen gelewer het.
Op sy tuisveld het Bayonne, wat bevorder is om tot die Top 14 terug te keer, die sterbelaaide Toulon met 28-23 verneder wat verlede seisoen die eindstryd gehaal het. Rustyd was die spanne op 13-13 gelykop.
Van Lill het die eerste 57 minute in die ligbloues se nommer 8-trui gespeel.
’n Raserige en eenogige skare geklee in Bayonne se ligblou het gesorg dat daar deurgaans elektrisiteit in die lug van die Stade Jean Dauger was.
Vir Toulon se nuwe Italiaanse afrigter, Diego Dominguez, is dié uitslag ’n nagmerrie-wegspring aan die stuur van die klub wat bekendheid verwerf het vir die groot bedrae wat uitgehaal word om die topspelers uit elke deel van die wêreld te werf.
Sonder ’n klompie staatmakers wat vir die Suidelike Halfrond se Rugbykampioenskap onttrek is, kon Toulon nie die agterstand inhaal nie en geen punte is in die laaste tien minute aangeteken nie.
Aan die kant van Toulon was nietemin ’n string bekende internasionale spelers. Die lostrio van die beginspan was Georgië se reuseflank Mamuka Gorgodze, die ervare Argentyn Juan Martin Fernandez Lobbe en die Fransman Charles Ollivon, met die oud-Springbok Juan Smith wat as ’n plaasvervanger in die 56ste minuut opgestuur is en sommer kort daarna ’n geel kaart gekry het.
Leigh Halfpenny (Wallis se heelagter), die Franse snellers Mathieu Bastareaud, Maxime Mermoz en Francois Trinh-Duc, die gewese All Black-legende Ma’a Nonu, die Springbokstut Marcel van der Merwe asook die VSA se gerekende agtsteman Samu Manoa was ook in Toulon se wedstrydgroep.
Bayonne se Suid-Afrikaanse losskakel Willie du Plessis het agt punte met twee strafdoele en ’n doelskop bygedra. Gedurende die Wêreldbeker verlede jaar het hy ook as tydelike leenspeler die Toulon-trui gedra. Bayonne se Franse haker Gregory Arganese het twee drieë gedruk.
Bayonne, wat hom ná die openingsnaweek in die vyfde plek op die puntelys bevind, sal uitsien na nog ’n tuiswedstryd komende naweek teen Castres. Laasgenoemde het ook goed begin met ’n oorwinning van 28-11 teen Pau, ondanks die rooi kaart wat die skrumskakel Rory Cockott, voorheen van die Sharks, halfpad deur die eerste helfte gekry het toe hy ’n opponent teen die enkel getrap het.
Die 32-jarige Van Lill het tevore ook vir die Franse klub Dax uitgedraf nadat hy sy loopbaan as tandarts opsy geskuif het om beroepsrugby na te jaag. As slot het hy verlede jaar in Engeland inklimspel in al vier wedstryde van die Wêreldbekertoernooi (sy tweede) gelewer – onder meer teen Gorgodze se Georgiërs.
Vanjaar het sy familie- en klubverpligtinge egter verhinder dat hy die Namibiese trui kon aantrek om sy totaal van 43 toetse verder op te stoot.
PJ se Bayonne laat tuimel Toulon