Andrew Poolman - Die rugbyklub FNB Wanderers sal heel moontlik op die agtervoet wees wanneer hy komende naweek in Johannesburg sy debuutwedstryd in die Gold Cup kompetisie speel.
Hul opponente is Pirates – die Goue Leeus Rugby-unie se verteenwoordiger in die Suid-Afrikaanse klubkompetisie waarin elke provinsie se voorste oop klub meeding (universiteitspanne uitgesluit).
Die slot Nico Esterhuyse, wat kaptein was toe die Wit Hingste vanjaar in die NRU premierliga-eindstryd teen FNB Unam verloor het, het glo ’n nekbesering en sal na verwagting die naweek by die huis moet bly.
Dit is egter nog lank nie waar die ontwrigting ophou nie, want die Welwitschias speel ook komende naweek ’n klipharde wegwedstryd (teen die Griffons op Welkom). Wanderers se afrigter JP Nel sal dus eers moet hoor watter spelers vir Namibiese diens opgeroep word voordat hy sy spankeuse kan afhandel.
Manne soos die stut AJ de Klerk wat vir die laaste weke kaptein van die Welwitschias was, haker Gerhard Lotter, slot Ruan Ludick en vleuel Heinrich Smit is maar enkele spelers wat na verwagting die reis na Noord-Vrystaat, eerder as Johannesburg kan aanpak.
Die flank Rohan Kitshoff (werkverpligtinge), Tinus du Plessis (beseer), stut Quintin Esterhuizen (studieverlof), losskakel MP Pretorius (beseer) is glo ook buite rekening vir JP Nel se planne.
Dit is afgesien van die giftige agterspelers Johann Tromp en JC Greyling wat intussen die skuif na die OP-Kings gemaak het en in die Curriebeker premierliga speel.
Wanderers erg uitgedun vir Gold Cup debuut