Andrew Poolman - Die Windhoek Draught Welwitschias bevind hulle steeds met ’n groot agterstand en hul skrale aanspraak om dalk in die topvier van die Curriebeker eerste liga klaar te maak, het Saterdag finaal in die niet verdwyn.
Die Noord-Vrystaat se Griffons het die wedstryd in Welkom met 84-25 oorheers, nadat hulle rustyd met 42-15 voorgeloop het.
Dit bly ’n baie skrale troos dat die punteverskil darem gekrimp het vandat die Vrystaters ’n tyd gelede die kragmeting in Windhoek met 101-0 oordonder het.
Die Namibiërs se tweede bonuspuntjie vir vier drieë is ook ’n seldsame teken van verbetering, hoewel dit in die groter prentjie van die kompetisie nie veel help om die Welwitschias uit hul laaste plek op die puntelys te lig nie.
Die senter Lesley Klim moet gewis tel as een van Namibië se voorste vondse uit die afgelope seisoen se terugkeer na die Curriebeker-struktuur. Met sy sewende drie hierdie seisoen het Unam se gewese nasionale o.20-speler hom reeds as die Welwitschias se voorste driedrukker uitgesonder.
Flank Morné Blom, die reserwevleuel Malcolm Moore en Shaun Kaizemi het die Namibiërs se ander drieë gedruk, terwyl net ’n enkele doelskop en een strafdoel van skrumskakel Eugene Jantjies sekuur deur die pale was.
Kaizemi is ná net 29 minute as ’n plaasvervanger in die plek van binnesenter Darryl de la Harpe opgestuur. Net drie minute later het Muniovita Kasiringua in die plek van Ruan Ludick gevolg.
Die Griffons se linkervleuel Warren Williams was opnuut een van hul giftige aanvallers wat vier drieë gaan druk het, ná sy drietal in Windhoek. Die agtsteman De Wet Kruger het ook altesame drie keer oor die doellyn geploeg.
Hul mededriedrukkers was slot Dennis Visser (2), stut Daniel van der Merwe, flank Boela Venter en die reserwe-heelagter Reinhardt Erwee.
Die Griffons se losskakel George Whitehead was net soos in Windhoek ’n doring in die Namibiese vlees met sy dodelike skopwerk pale toe. Twaalf uit twaalf doelskoppe het hom met 24 punte vir die wedstryd besorg en het verseker dat sy span se telling netjies in veelvoude van sewe bly aangroei het. In Windhoek was sy treffers 13 uit 15.
Ondanks die tuisspan se gerieflike voorspronge het dit aan die Namibiese kant met tye tog gelyk asof ’n verrassende oorwinning nie onmoontlik sou wees nie, wanneer hulle wel aan die speel geraak het.
Ongedwonge foute en swak verdediging wat reg in die opposisie se hande speel, was egter ’n tema van die Namibiese seisoen wat steeds nie die wyk geneem het nie.
• Een laaste geleentheid bly komende Saterdag op die Namibiërs se tuisveld oor om hul seisoen op ’n wennoot af te sluit.
Dit is die herontmoeting met die Valke, wat in die kwalifiserende rondte ’n wegholsege met 66-5 behaal het.
Die Valke is laas Vrydag in Kemptonpark met 29-54 deur die besoekende Grens Bulldogs oorskadu.
• Die Curriebeker eerste liga se enigste onoorwonne span, die Luiperds, het op Potchefstroom ’n gemaklike oorwinning met 49-31 teen die SWD Arende verseker. Die Namibiese senter Johan Deysel het ses doelskope bygedra om te help verseker dat die Noordwesters ’n tuishalfeindstryd sal hê.
• Die naweek se tellings in die Curriebeker premierliga (tuisspanne eerste): Pumas 14-41 Blou Bulle; Cell C Sharks 30-38; Goue Leeus 58-32 Westelike Provinsie; Griekwas 46-22 Boland Kavaliers.
Vier drieë te min teen Griffons se 12