Andrew Poolman - Genadiglik is die gesukkel vir 2016 verby, na afloop van die Windhoek Draught Welwitschias se laaste wedstrydverpligting in die Curriebeker eerste liga.
Die frustrasie is Saterdag met nog ’n teleurstellende nederlaag van 20-50 teen Rudy Joubert se Hino Valke afgesluit. Die Oos-Gautengers het rustyd met 19-6 voorgeloop.
Enige goeie werk wat die Namibiërs met tye in die eerste helfte gedoen het, is egter ná rustyd ongedaan gemaak.
Die Welwitschias het teleurstellend swak afgesluit met veral hanteerfoute in die agterlyn wat drie patetiese drieë afgestaan het wanneer hulle diep in hul eie helfte hulself al hoe dieper in die moeilikheid in gehardloop het. Twee daarvan was onderskepdrieë.
Die tuisspan het in sy laaste klompie wedstryde klaarblyklik op ’n patroon besluit om die bal so gou as moontlik wyd te neem – sonder dat ’n grondslag hiervoor noodwendig voorlangs gelê is. In twee vorige groot nederlae het dié benadering ’n bonuspunt vir vier drieë meegebring, maar teen die Valke het dit geboemerang.
Hierteenoor het die Valke puik daarin geslaag om verdediging in aanval te omskep. Een so ’n keerpunt was sowat tien minute ná rustyd, toe die Welwitschias se losskakel Chrysander Botha ’n aanvallende skoppie vir Phillip Nashikaku vorentoe gestuur het. Bykans op die doellyn het die bal danksy ’n verdediger losgespat en toe die Valke die bal met ’n aangee of twee wegskuif, was daar genoeg spasie vir hul binnesenter Grant Janke om op ’n opwindende lopie weg te trek en ’n drie aan die ander kant van die veld vir sy vleuel Etienne Taljaard te skep.
Hierdie drie het die telling van 26-6 na 31-6 gevoer. Met ’n halfuur oor was die punteverskil dus finaal buite bereik.
Selfs in die tydperk toe die Valke net 13 spelers op die veld gehad het, kon die Namibiërs nie punte byvoeg nie. Dit was toe die besoekers geel kaarte vir beide hul reserwe-voorspelers Jean-Pierre Mostert (68ste minuut) en Adriaan Pansegrouw (71ste minuut) te bowe moes kom.
Die skaal is kort daarna in ’n mate herstel toe Nian Berg, die Welwitschias se debutant vaskopstut wat die kaptein AJ de Klerk van die bank af vervang het, ook in die 76ste minuut ’n geel kaart gekry het toe hy in ’n duikslag nie sy arms gebruik het nie.
Kort voor rustyd was daar ’n opflikkering van humeure met beide spanne wat in ’n geroesemoes betrokke geraak het. Die uiteinde was dat elke span hul twee voorste losvoorspelers koelkas toe sien stap het – Rohan Kitshoff (Welwitschias) en Reg Muller (Valke).
Al die Welwitschias se punte is uiteindelik deur skrumskakel Eugene Jantjies aangeteken, wat twee verdoelde drieë gedruk en met twee strafdoele geslaag het.
Die toekenning vir die speler van die wedstryd is aan die Valke se binnesenter Grant Janke oorhandig, wat met sy sterk lopies enige plek op die veld groot gate in die Namibiese verdediging geruk het.
Die kleinerige skare het voor die afskop ’n minuut stilte gehandhaaf ter ere van Doug Jeffery en me. Monica Tromp (moeder van Johann Tromp) wat in die laaste dae oorlede is.
Punte:
Valke: Drieë deur vleuels Charles Mayeza (2) en Etienne Taljaard, agtsteman Reg Muller, skrumskakel Johan Pretorius (2) en die reserwe-skrumskakel Anrich Richter.
Welwitschias: Drieë deur Eugene Jantjies (2). Doelskoppe (2) en strafdoele (2) deur Jantjies.
Vyftigtal vir Valke was só onnodig