Andrew Poolman - Die Namibiese sewesrugbyspan is vasberade om ''n paar spanne wat in ''n hoër gewigsklas gereken word, grond toe te bring wanneer die internasionale Safland Sewes môre in erns op Swakopmund begin.
Wedstryde in die afdelings vir klubs, hoërskole en laerskole begin reeds vandag vanaf 15:00 by die rugbyveld langs The Dome, maar dit is van môre af dat die internasionale spanne bykom om die poppe behoorlik te laat dans.
Die Namibiërs begin môre met ''n veeleisende vier groepwedstryde kort ná mekaar. Dit is naamlik teen die SA All Stars (11:40), die kragtige Kenia (13:00), Duitsland (14:40) en laastens Neil Powell se Suid-Afrikaanse span, die huidige titelhouers, om 16:00.
Die skrale troos is dat hulle dan Sondagoggend ''n loslootjie het terwyl die ander spanne in groep X nog in een ronde uitspeel, voordat die uitklopfase begin.
In die ander groep Y sal die Namibiese Akademiespan môre teen die SA Living Legends (12:20), daarna die SA span Eye of the Tiger (13:40) en Botswana (15:20) opgeweeg word. Hul laaste opponent is Sondagoggend teen Botswana om 10:20.
Vir afrigter Jurie Booysen sal hierdie toernooi sy eerste groot toets op tuisbodem wees. Enkele maande gelede het hy bo verwagting goed gevaar toe die Namibiërs die silwermedalje by die Afrika-seweskampioenskap in Nairobi ingepalm het. Net Uganda het hulle in die finaal geklop, nadat Booysen by die proewe nie geweldig baie gehad het om uit te kies nie.
Sedertdien het Booysen meer tyd gehad om spelers wat destyds nog verpligtinge in vyftienmanrugby gehad het, in sy oefengroep te integreer. Die afrigter het die afgelope weke klem gelê dat enige speler met sewes-aspirasies bereid moes wees om van die onderpunt af, soos enige ander kandidaat, sy plek in die oefengroep te verdien.
Drie spelers is bygevoeg tot die laaste toergroep na Kenia, naamlik Lesley Klim, Quinton Fielding en Riaan van Zyl wat almal uit hul nate sal bars om hul merk op die speelveld te maak.
Hierteenoor moes Tuna Amutenya plek maak om in die Akademiespan leiding te verskaf, terwyl Sunday Haitembu deur ''n enkelbesering en studieverpligtinge buite rekening is.
“Ek glo ons is so voorbereid as wat ons kan wees. Met tien spanne in die toernooi, gevolg deur agt in die kwarteindstryd, is daar geen verskoning hoekom ons nie minstens die semifinaal kan haal nie.
“Ons is deeglik bewus dat Suid-Afrika, Kenia en Duitsland niemand se speelmaat is nie en dat jy inderdaad geen span mag onderskat nie,” sê Booysen.
Namibië: Ngumee Nguaiko (Kudus), Handré Bezuidenhout (Trustco United), Mbimbo Mbai (FNB Unam), Phillip Nashikaku (Trustco United), JR Jacobs (Kudus), Ricardo Swartz (FNB Western Suburbs), Quinton Fielding (Dolphin), Lesley Klim (FNB Unam), Riaan van Zyl (FNB Wanderers), Helarius Kisting (FNB Unam), Nandivatu Karuuombe (Trustco United), Shareave Titus (FNB Unam)
Namibiese Akademiespan: Allistor Jacobs (FNB Western Suburbs), Tuna Amutenya (Trustco United), Heathlin Cloete (FNB Unam), Maurice Kotzee (Dolphin), Elmo van der Byl (Kudus), Johannes Namene (FNB Western Suburbs), Casio Schoombe (Kudus), Naudé Neethling (Trustco United), Cameron Stevens (Kudus), Lovelle Delie (Kudus), Carlton Stevens (Kudus), Jean-Louis Grobler (West Coast Sharks), André Jordaan (Pro-Ed Akademie).
Kaartjies vir die naweek kos N$40 vir kinders (6-17) en N$150 vir volwassenes.