Andrew Poolman - Die vlak van kondisionering waarop die topspanne in Wêreldrugby se sewesreeks verkeer, was een van die duidelikste aspekte wat as ''n rigtingwyser vir die Namibiese spel uitgewys is tydens laas naweek se Safland Sewes op Swakopmund.
Die patroon van opwarm, speel, rus, herhaal, soos wat spanne in sulke toernooie met drie of vier wedstryde op ''n dag deurmaak, sal uiteraard teen die einde van die tweede dag vir uitputting sorg.
In die oorblywende maande voordat Namibië vir sy volgende grote (die Hongkong Sewes, vroeg in April) aantree, lê harde werk dus voor in afrigters Jurie Booysen en Robbie Dickson se opbou om die uiteindelike uitsoekgroep van 12 spelers deeglik voor te berei.
Met die groot oop spasies van sewesrugby is dit feitlik onafwendbaar dat ''n verdedigingslinie binne die bestek van twee dae oomblikke sal ondervind waar die opposisie (of die spring van die bal) hulle belaglik laat lyk.
Die prestasie van die Blitsbokke se kampioenspan om net twee drieë (in die finaal teen Kenia) af te staan, wil dus gedoen wees. Toeskouers was bevoorreg om die Suid-Afrikaners se fiksheidsvlak eerstehands te beleef, soos in die HSBC Wêreldreeks.
Die Blitse se afrigter Neil Powell het ná die finaal aan Republikein vertel hoe hy die negatiewe gedagtes hanteer wat enige perfeksionis ''n slapelose nag sal gee.
“Dit gebeur soms in ''n toernooi dat jou span ''n baie deurslaggewende wedstryd verloor wat hulle kanse vir die finaal beëindig. Dit kos nogal baie om hulle dan weer te motiveer om dalk minder as ''n uur later weer op die veld te moet draf.
“Om ná die eerste aand die videomateriaal te moet ontleed en planne vir die volgende dag uit te werk, sal jou ook ''n slapelose nag gee, veral as dinge nie na wense verloop het nie. Sulke tye sal ek liewer vroegaand ''n slaappil drink en die volgende oggend vieruur opstaan om dié taak af te handel.”
Powell was in sy skik dat die Suid-Afrikaners so ''n suksesvolle oefenlopie vir volgende maand se Dubai Sewes kon hê. In twee oorwinnings op die laaste dag teen Kenia moes hulle op hul beste wees.
Om sonder noemenswaardige beserings uit die stryd te tree, is vir hom verder verblydend.
JONGER GESLAG
''n Totaal van 1 079 rugbyspelers was die naweek in aksie met die klubkategorie, asook laer- en hoërskole wat terselfdertyd op die A- en B-velde in aksie was. Die skole-afdelings is deur Realgood Chicken geborg.
Kudus het die klubkompetisie gewen deur die eindstryd teen hul Walvisbaaise buurklub die West Coast Sharks met 24-5 te beklink.
• Windhoek Gimnasium het albei die beskikbare hoërskoolafdelings ingepalm. Hul onder 17-span het naelskraap met 17-12 teen ''n ewe gedugte spannetjie van Windhoek Hoërskool oorleef. Met dieselfde telling het Walvisbaai die derde plek teen Moria van Outjo beklink.
Gimnasium se onder 15-span het in sy eindstryd teen Tsumeb Gimnasium met 17-14 die knoop deurgehaak.
Die o.13-kampioene was Walvisbaai Laerskool danksy hul oorwinning met 14-10 teen Elnatan van Stampriet.