Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Kragtige Pumas seil voort

$
0
0
Kragtige Pumas seil voort

Andrew Poolman - Die sukkelende Windhoek Draught Welwitschias het hul laaste wedstryd van die SuperSport uitdaagreeks met 'n ietwat beter vertoning afgesluit, hoewel die Steval Pumas steeds gemaklik met 42-8 gewen het (rustyd 21-0).

Baie is al gesê oor die gaping wat Namibië tans probeer oorbrug tussen die amateurspelers uit sy plaaslike klub­liga en Suid-Afrika se beroepsunies. Die gaping was Saterdag steeds ooglopend ondanks die brawe vertoning deur die Namibiese spelers voor 'n kleinerige skare in die Hage Geingob-stadion.

Die Pumas het met dié oorwinning hul kanse vir die halfeindronde van die kompetisie lewendig gehou. Ná sewe wed­stryde elk in die noordelike groep is die Goue Leeus (31 punte) en die Blou Bulle (27) die voorlopers en die Pumas is derde (24), met laasgenoemde wat komende naweek in hul tuisstadion op Nelspruit teen die Valke afsluit.

Die fisieke spel van die Pumas en die tempo waarteen hulle te werk gaan, was opnuut die Namibiërs se grootste uitdaging. Drieë deur die skrumskakel Emile Temperman, vleuel JP Lewis en agtsteman Carel Greeff wat almal deur los­skakel Kobus Marais verdoel is, het hulle rustyd 'n voorsprong met 21-0 besorg.

Daar was kere dat die Welwitschias hulself in goeie posisies op die veld geplaas het, maar hulle kon net nie die knoop deurhaak nie. Die kaptein en flank Winmar Rust het een skuins strafskop pale toe gehad waarmee hy nie kon slaag nie.

Met 'n lynstaandryf het die flank Francois Kleinhans die Pumas se eerste drie ná rustyd gaan druk.

Sias Ebersohn, die plaasvervanger vir Marais, het oorgeneem en met elkeen van sy drie doelskoppogings geslaag, ná nóg 'n oorstootdrie vir Carel Greeff van 'n vyfmeterskrum en in die doodsnikke 'n drie deur Jannie Stander.

Die Welwitschias het nooit gaan lê nie en net tien minute van die wedstryd was oor toe Rust uiteindelik met 'n strafdoel hul nulletjie uitgewis het. Vier minute later het die Welwitschias 'n bal deurgeskop en gejaag, van waar losskakel Dirkie von Weidts weggebreek het vir 'n onverdoelde drie in die hoek.

Die Namibiërs sal in Augustus, ná die toetsperiode, hul provinsiale deelname in die Curriebeker eerste liga hervat.

RUSLAND KLOP NAMIBIë

Die Namibiese toetsspan het gister sy tweede nederlaag uit drie wedstryde by die Wêreldrugby Nasiebekertoernooi in Uruguay gely.

Rusland het die kragmeting oortuigend met 31-10 gewen nadat hy rustyd met 19-5 in beheer was.

Die Russe het in die skrums goed gevaar en het onder meer in die eerste helfte 'n strafdrie daarmee afgedwing.

Namibië se eerste onverdoelde drieë het van die heelagter Chrysander Botha gekom nadat hy die linkervleuel Gino Wilson op 'n lopie gestuur het en weer in posisie was om sy binneaangee te ontvang. Halfpad deur die tweede helfte het Theuns Kotzé en Botha vinnig hanteer om Wilson vir sy drie naby die pale oor te jaag.

“Ons het nie ons vaste fasette goed uitgevoer nie en het foute gemaak wat in Rusland se hande gespeel het.

“Ons het nie in die regte gebiede gespeel nie en het ook te veel besit in ons eie helfte verloor. Dit wys op 'n mate van onervarenheid, maar ons het op dié toer jong spelers kans gegee en ons kyk vorentoe,” het die kaptein Renaldo Bothma agterna in die TV-onderhoud gesê.

Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263