Andrew Poolman - Die Namibiese rugbyspan het in sy tweede wedstryd van die Wêreldrugby Nasiebekertoernooi skouspelagtig aan die gang gekom en het die Ontluikende Italië met 38-22 'n pak slae gegee.
Rustyd het dit egter glad nie goed gelyk in die Estadio Charrua in Uruguay se hoofstad Montevideo nie, want 'n agterstand van 22-7 het die Namibiërs in die gesig gestaar.
In die rustydpraatjie sou daar verskeie sagte oomblikke gewees het om op terug te kyk – veral wat die verdediging naby aan die losskrums betref.
Die hanteerwerk agterlangs, veral wanneer skoppe onder beheer gebring moes word, was ook gebrekkig.
Met hul uiteindelike ses drieë teen vier het afrigter Phil Davies se span die agterstand egter met groot oortuiging ingehaal en verbygesteek.
Die regtervleuel Lesley Klim het ná 28 minute sy eerste drie in die nasionale trui gaan druk (hoewel Namibië net wedstryde teen ander nasionale spanne as toetse erken).
Die vlugvoetige Klim is loshande die voorste agterspelervonds in Namibië in die laaste twee seisoene en het op volle vaart 'n vlak aangee van losskakel Theuns Kotzé raakgevat vir 'n betreklik maklike lopie doellyn toe.
Dit het ná rustyd elf minute geduur voordat Namibië se kaptein Renaldo Bothma met 'n tipiese kraglopie uit een laagvat gebars en ondanks nog twee duikvatte die doellyn gehaal het.
Kotzé se doelskop was regs verby, maar net vyf minute later het hy 'n grondskoppie verby die Italiaanse agterspelers gestuur. Darryl de la Harpe was daar om dit netjies op te raap en vinnig sy sentermaat JC Greyling weg te stuur om rondom die verdediging sy pad doellyn toe te vind.
Theuns Kotzé was net ná die uurmerk die volgende Namibiese driedrukker. Dit het begin met 'n tweede strafskop-lynstaan naby die doellyn, waar die voorspelers eers vasgemaak het voordat 'n swakkerige aangee na Kotzé eintlik ook vir hom die halwe gaping laat raaksien het om langs die regterpaal te gaan oorval.
Kotzé se taktiese skopvoet was nog lank nie klaar om drieë vir Namibië te skep nie en 'n dwarsskop na regs is sekuur in Klim se hande geplaas, wat een man voor hom geklop het om te gaan druk.
Met speeltyd verstreke het Gino Wilson ook sy drie in die hoekie gaan afrond nadat die 20-jarige toetsnuweling Cliven Loubser as plaasvervanger 'n rollende bal netjies opgepik en die linkervleuel op 'n lopie weggestuur het. Loubser en Justin Newman het in die laaste tien minute hul debuut van die bank af gemaak.
Kotzé het die wedstryd met elf punte afgesluit wat ook drie doelskoppe ingesluit het.
SOOS IN 2016
Vreemd genoeg het Namibië verlede jaar die Italianers met 'n bykans identiese telling (38-26) geklop toe die toernooi in Roemenië aangebied was.
Ontluikende Italië se kaptein, George Iacob, was agterna in die media-onderhoud bitter teleurgesteld. “Met so 'n groot voorsprong rustyd het ons beslis gedink ons het die wedstryd in die sak,” het hy erken.
Hy wou nie sy span se jeugdigheid as 'n verskoning voorhou nie.
“Die All Blacks het ook jong spelers van ons ouderdom wanneer hulle die Wêreldbeker wen.”
Namibië se Renaldo Bothma het uitgewys dat die spinnerakke van die samespel afgeskud moes word, want nadat Namibië in die laaste November-periode nie toetsrugby gespeel het nie, het bykans 'n jaar verloop vandat hulle laas bymekaar was.
“Ons het vandag nie goed begin nie, maarnamate die wedstryd begin vloei het, het ons ons vaste fasette beter begin uitvoer. Ons wedstrydplan het toe in plek begin val. Ons is 'n jong span en ek is baie bly dat ons die knoop deurgehaak het.”
Die Namibiërs, wat die toernooi met 'n naelskraapse nederlaag van 15-13 teen Spanje geopen het, sluit Saterdag met nog 'n toets teen Rusland af.
• Die uitslae van gisteraand se later wedstryde (Argentinië-A teen Spanje en Uruguay teen Rusland) was teen druktyd nie bekend nie.