Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Phil se kaarte geskommel teen Italianers

$
0
0
Phil se kaarte geskommel teen Italianers

Andrew Poolman - Afrigter Phil Davies het vir Namibië se tweede wedstryd by die Wêreldrugby Nasiebekertoernooi in Uruguay die spelers nader geroep wat nie in laas naweek se naelskraapse nederlaag teen Spanje betrokke was nie.

Om 15:00 Namibiese tyd (11:00 in Montevideo) skop die Namibiërs se wedstryd teen die Ontluikende Italianers af.

Beide spanne sal met hernude dringendheid opdraf om vir hul bloedneuse in die eerste ronde te vergoed. Namibië is met 15-13 deur Spanje geklop, terwyl Italië hom met 30-21 teen die gasheerland Uruguay vasgeloop het.

Toe die Namibiërs in verlede jaar se toernooi in Boekarest, Roemenië in sy laaste wedstryd teen Ontluikende Italië te staan gekom het, was dit die avontuurlike aanvalle deur die agterlyn wat 'n puik oorwinning met 38-26 help opstapel het.

Môre begin beide spanne egter op 'n skoon bladsy – veral met die string veranderinge in die Namibiese span.

Spelers wat uit die 23-tal gelaat is, sluit in die senter Johan Deysel wat met 'n gebreekte arm huis toe gestuur is en die haker Torsten van Jaarsveld, wat ná die naweek las van sy nek ondervind het en gespaar word om reg vir die finale toets Saterdag teen Rusland te wees.

Heelagter Chrysander Botha kry ook ruskans, met sy OP Kings-spanmaat Johann Tromp wat van linkervleuel na die laaste vesting verskuif. Tromp se 11-trui word deur die haastige Gino Wilson ingeneem, wat in laasjaar se ontmoeting met die Europeërs twee drieë afgerond het.

Damian Stevens begin in die 9-trui in Eugene Jantjies se plek.

Op agtsteman bly Renaldo Bothma in sy posisie, maar met twee nuwe flankmaats in Janco Venter en Christo van der Merwe, wat beide in die Westelike Provinsie rugby speel.

In Venter se plek kry Ruan Ludick sy kans om die slotmaat vir Tjiuee Uanivi te word.

Stut Collen Smith en haker Louis van der Westhuizen kry ook hul kans in die beginspan in die plekke van Casper Viviers en Van Jaarsveld.

Op die reserwebank is die senter/vleuel Justin Newman en losskakel Cliven Loubser die enigste potensiële nuwelinge wat nog nie 'n toets agter hul naam het nie.

Die Namibiese kaptein Renaldo Botha is positief dat die Namibiërs hul kans sal aangryp om hulself te bewys.

“Ek dink ons het (teen Spanje) onder omstandighede nie sleg gedoen nie. Ons het amper 'n jaar laas saam gespeel en ons het net 'n week saam gehad. Plus die skeidsregter het glad nie goed geblaas nie, maar ons gaan dit nie as verskoning gebruik nie.

“Ons moet aanpas wanneer daar omstandighede buite ons beheer is, maar ek het steeds baie vertroue in die span. Dit is rerig 'n baie talentvolle en goeie span.”

“Die atmosfeer in die groep is uitstekend en die ouens het geleer uit die ondervinding teen Spanje. Ons wil die grondslag lê om in die Afrikabekertoetse in Julie en Augustus deeglik voorbereid te wees.”

Die Namibiërs het intussen ook een oefensessie saam met Argentinië-A gehad om foute te help uitstryk.

Die Namibiese span vandag:

15 Johann Tromp

14 Lesley Klim

13 JC Greyling

12 Darryl de la Harpe

11 Gino Wilson

10 Theuns Kotze (onderkaptein)

9 Damian Stevens

8 Renaldo Bothma (kaptein)

7 Janco Venter

6 Christo van der Merwe

5 Tjiuee Uanivi

4 Ruan Ludick

3 Aranos Coetzee

2 Louis van der Westhuizen

1 Collen Smith

Reserwes: Shaun du Preez, AJ de Klerk, Casper Viviers, Wian Conradie, PJ van Lill, Eugene Jantjies, Cliven Loubser, Justin Newman.

• Vandag se later wedstryde: Argentinië-A tn Spanje; Uruguay tn Rusland.

Regstreekse videostroom behoort op www.worldrugby.org te wees.

Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263