Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Spanje neem wraak teen Namibiërs

$
0
0
Spanje neem wraak teen Namibiërs

Die Namibiese rugbyspan sal Woensdag 'n veel meer afgeronde vertoning moet lewer as hy enigsins in die wedloop wil bly in vanjaar se Wêreldrugby Nasie­bekertoernooi wat vir die eerste keer in Uruguay aangebied word.

Die Namibiërs het heelwat foute begaan in hul openingsnederlaag met 15-13 teen Spanje.

Rustyd was die spanne nog gelykop op 3-3.

Namibië en Spanje is beide kandidate om vir die 2019 Wêreldbekertoernooi in Japan te kwalifiseer en dit is selfs moontlik dat hulle in dieselfde groep kan eindig – indien Namibië volgende jaar as die regstreekse Afrika-wenner en Spanje as die repechage-kwalifiseerder na vore tree.

'n Terugslag is dat die Sharks-senter Johan Deysel sy arm gebreek het toe hy op 'n bal geval het en raakgeskop is. Hy is ná 62 minute deur Darryl de la Harpe vervang.

Beide spanne het in die tweede helfte met meer aanvallende spel vorendag gekom as gedurende die eerste 40 minute, waarin strafskoppe deur Theuns Kotzé en Bradley Linklater die enigste punte was.

Namibië se heelagter Chrysander Botha het die eerste drie van die toernooi ná 49 minute gaan druk, nadat hy 'n goed geplaaste skoppie deur die senter Johan Deysel opgevolg het. Kotzé het verdoel.

In sy 42ste toets het Botha sy 20ste toetsdrie gedruk, om nou net een agter Eden Meyer te wees. Meyer (21 drieë in 21 toetse) is steeds tweede op die Namibiese rekordlys ná Gerhard Mans (27 drieë in 27 toetse).

Spanje het min gras onder hul voete laat groei voordat die Europeërs ná 56 minute teruggeslaan met 'n dryfbeweging ná 'n lynstaan wat in 'n drie deur die plaasvervanger Lionel Tauli afgerond is.

Linklater se doelskop het van die regoppaal weggespat.

In die 60ste minuut het Kotzé 'n strafdoel bygevoeg (13-8), maar Tauli het kort daarna sy tweede drie gaan druk. Hierdie keer het Linklater se skop getref vir die twee punte wat die verskil gemaak het.

Spanje het met dié oorwinning wraak geneem vir die ewe naelskraapse nederlaag met 34-32 teen Namibië in dieselfde toernooi 'n jaar gelede, toe Russell van Wyk die gelykmakende drie gedruk het en Theuns Kotzé die twee wenpunte met die skoen bygevoeg het.

Ná ses ontmoetings sover in toetsrugby het Spanje die telling nou vier-twee in sy guns gemaak en bly 'n doring in die Namibiese vlees.

Wanneer Wêreldrugby vandag vir die nuwe week sy ranglys op datum bring, sal Spanje in sy 18de posisie bly, terwyl Namibië met een plek na die 20ste plek sal terug­sak. Rusland skuif in die 19de posisie in.

Twee jong spelers van FNB Unam het hul debuut in die opdrafspan gemaak. Lesley Klim (22 jaar) het Namibië se toetsspeler nommer 299 sedert onafhanklikwording geword, met die slot Mahepisa Tjeriko (24) speler nommer 300. Tjeriko is in die 58ste minuut deur die 21-jarige Pukke-nuweling Johan Retief vervang.

Die Namibiese span was: 15 Chrysander Botha, 14 Lesley Klim, 13 JC Greyling, 12 Johan Deysel, 11 Johann Tromp, 10 Theuns Kotzé (onderkaptein), 9 Eugene Jantjies, 8 Renaldo Bothma (kaptein), 7 PJ van Lill, 6 Wian Conradie, 5 Tjiuee Uanivi, 4 Mahepisa Tjeriko, 3 Aranos Coetzee, 2 Torsten van Jaarsveld, 1 Casper Viviers.

Reserwes: Louis van der Westhuizen, AJ de Klerk, Collen Smith, Johan Retief, Christo van der Merwe, Damian Stevens, Cliven Loubser, Darryl de la Harpe. Al die reserwes behalwe Loubser is gebruik.

RUSLAND VERRAS

'n Passievolle Rusland het 'n oorwinning met 39-38 teen die Argentynse A-span behaal, wat ietwat ongelukkig was dat 'n potensiële wenskop in die laaste sekondes skeef geseil het. Rusland se kragtige skrumwerk het die Suid-Amerikaners verras en was 'n faktor in die wedstryd.

Die gasheerland Uru­guay het met 'n sege van 30-21 teen Ontluikende Italië weggespring.

In Woensdag se volgende ronde speel Namibië teen die Italianers (15:00 Namibiese tyd), gevolg deur die Argentyne teen Spanje en ten slotte Rusland teen Uruguay.

Die Namibiërs se laaste groepwedstryd is Saterdag teen Rusland.

Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263