Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Span sal moet vasvat teen Pumas

$
0
0
Span sal moet vasvat teen Pumas

Andrew Poolman - Die terugkeer van Rohan Kits­hoff en Darryl de la Harpe vir komende naweek is welkome nuus vir die beleërde Windhoek Draught Welwitschias, ná die vernederende honderdtal wat die Goue Leeus hulle toegedien het.

In die Namibiërs se grootlikse gesukkel om aan te pas by die formidabele tempo waarteen die Gautengers hul ding gedoen het, sal Kitshoff se spel by die afbreekpunte gewis terug verwelkom word. Hy was laas naweek vanweë 'n keelinfeksie onbeskikbaar.

Afrigter Lyn Jones het verskeie veranderinge aangebring aan sy span wat komende Sondag die Steval Pumas opnuut in 'n wegwedstryd in die SuperSport uitdaagreeks aandurf.

Dit sal een van twee opeenvolgende wedstryde wees wat Sondag regstreekse televisiedekking vanaf die Bill Jardine-stadion in Johannesburg sal kry. Eerste draf die Namibiërs teen die Laevelders uit (12:00 Namibiese wintertyd op SuperSport 4), gevolg deur die Goue Leeus se tuiswedstryd teen die Valke (14:00).

In die lostrio verdien Thomasau Forbes twee weke se blaaskans, nadat hy in die afgelope weke se fisieke wedstryde 'n baie hoë werkverrigting gelewer het.

Op slot is beide Muniovita Kasiringua en Mahepisa Tjeriko deur knieprobleme platgetrek. Dit bring mee dat hul jong klubmaat van FNB Unam, Thomas Kali, vertrou word om in die nommer viertrui te begin met Max Katjijeko langs hom.

Ruan Ludick is ook terug op die reserwebank, nadat hy een week afgelê het sedert 'n besige vertoning teen die Blou Bulle in Windhoek.

Die haker Gerhard Lötter het intussen siek geword. Sy plek word deur Shaun du Preez gevul en die jong Obert Nortjé bly op die bank.

Agterlangs is senter Darryl de la Harpe en vleuel Gino Wilson teruggeroep in die plekke van Francois Wiese en Aurelio Plato, wat weggelaat is om David Philander na heelagter te laat verskuif.

Waarnemers van klubrugby is opgewonde om te sien hoe Adriaan Booysen se bekendstelling in die SuperSport-reeks sal verloop.

Die gewese o.18 Cravenweek-kaptein van Elnatan 'n klompie seisoene gelede, het as student sy rugby in Bloemfontein gespeel, voordat hy vanjaar na Windhoek verhuis het en met sy kraglopies vir FNB Wanderers impak gemaak het.

'TEMPO EN FISIEKHEID'

Afrigter Jones het gister op 'n nuuskonferensie gesê die teleurstellende nederlaag met 112-14 teen die Leeus is vir alle Namibiese spelers 'n wekroep oor die vereiste vlak vir enigiemand wat ambisies van professionele rugby koester.

“Die voorseisoen van November tot Februarie is die tyd om fiks te word. Dit is 'n wet van die natuur – nie net my siening nie.

“Dis die tyd om nee dankie vir die vleisbraai te sê en ja vir die oefensessies,” het hy geskerts.

Die voormalige Walliese toetsflank van die 1990's het herhaal dat dit belangrik is om op die opbou na Namibië se groter rugbydoelwitte te fokus.

“In die provinsiale kompetisie het die Welwitschias verlede jaar twee honderdtalle teen minder gerekende opposisie as die Goue Leeus afgestaan.

“Dit is 'n kompetisie waarin daar min genade bestaan indien jy foute begaan of nie die pas kan volhou nie. Ons werk voortdurend daaraan om vyftien spelers op die veld te kan stuur wat as 'n eenheid opgewasse is om hul man op dié vlak te staan.

“Ons weet die Pumas is een van die kragtige unies en dat ons weer net 'n skrale wenkans sal staan indien ons alles reg doen. Ons opponente in die Curriebeker eerste liga sal meer volgens ons portuur wees.”

Jones sê die Namibiërs sal nie hul wedstrydplan in twyfel trek nie, maar dat dit die spelers se verantwoordelikheid is om die spoed en fisieke aanslag van hul Suid-Afrikaanse opponente te hanteer.

Die Windhoek Draught ­Welwitschias:

15 David Philander

14 Lesley Klim

13 JC Greyling

12 Darryl de la Harpe

11 Gino Wilson

10 Theuns Kotzé

9 Eugene Jantjies (kapt)

8 Roderique Victor

7 Leneve Damens

6 Rohan Kitshoff

5 Max Katjijeko

4 Thomas Kali

3 Andries Rousseau

2 Shaun du Preez

1 Collen Smith

Reserwes: Obert Nortjé, Christo McNish, AJ de Klerk, Ruan Ludick, Adriaan Booysen, Cameron Klassen, Heinrich Smit.

Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263