Andrew Poolman - Met die nasionale span terug van sy toer in Uruguay en die Windhoek Draught Welwitschias se aanspraak op die SuperSport-reeks daarmee heen, is dit 'n relatief stil week vir Namibiese rugby.
Lyn Jones, afrigter van die span in die provinsiale kompetisie, het vir 'n paar dae na sy geboorteland Wallis teruggekeer, maar het vooraf reeds met die klubs gekommunikeer oor watter spelers vrygestel is om komende naweek klubrugby te mag speel.
Die spelers in die nasionale groepe sal soos normaalweg by die Namibië Rugby-unie se hoëprestasiesentrum met hul gimnasium- en kondisioneringsprogram voortgaan.
Phil Davies, afrigter van die nasionale span, wag in sommige gevalle nog op terugvoer van die professionele klubs en unies van wie vrystelling van Namibiese spelers gevra is. Teoreties het nasionale unies gedurende die vensterperiode van Junie tot Augustus die eerste keuse en mag klubs nie in spelers se pad staan wat vir toetsrugby opgeroep word nie.
Die 2017 Afrikabekerreeks begin vir Namibië, as verdedigende kampioen van die afgelope drie jare, op 1 Julie wanneer hulle in Tunisië gaan besoek aflê.
Daarna volg nog wedstryde op elke Saterdag in Juliemaand, onderskeidelik teen Senegal (tuis), Zimbabwe (tuis), Uganda (weg) en Kenia (tuis).
Elke span in vanjaar se kompetisie se vernaamste doelwit sal wees om nie laaste te eindig en sodoende vir 2018 gerelegeer te word nie. Volgende jaar se Afrikabeker A-afdeling sal immers as die kwalifiserende wedstryde vir die 2019 Wêreldbeker in Japan dien.
Davies het tevore 'n aggressiewe doelwit verklaar dat Namibië moet streef om hom teen daardie tyd na die 15de plek op die wêreldranglys op te werk.
In die laaste twee weke het Namibië egter met twee plekke teruggesak tot 21ste. Dit was die gevolg van hul nederlae teen Spanje en Rusland by die pas afgelope Wêreldrugby Nasiebekertoernooi wat in Uruguay gehou is.
Met die langer termyn in gedagte was dié uitslae nie katastrofies nie, want 'n doel was vir die toer gestel om 'n paar nuwelinge in die nasionale groep te integreer. Lesley Klim (vleuel), Justin Newman (senter), Cliven Loubser (losskakel), Johan Retief en Mahepisa Tjeriko (slotte) is die spelers wat op die toer hul toetsdebute gemaak het.
Een ervare speler wat gewis buite rekening vir diens in die Afrikabeker is, is die Sharks se senter Johan Deysel wat in die toets teen Spanje sy arm gebreek het.