Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Kitshoff lei jong span na Tunisië-toets

$
0
0
Kitshoff lei jong span na Tunisië-toets

Andrew Poolman - Die verlies van 'n formidabele 202 toetse se gesamentlike ervaring om 'n verskeidenheid redes, spel reeds gevaar vir die Namibiese rugbyspan wat vandag 'n lang reis na Tunisië aanpak vir sy openingswedstryd van die 2017 Afrikabekertoernooi.

Beserings, werk- en kontraktuele verpligtinge asook familieredes was van die faktore wat dit glo 'n rowwe week in die kantoor van die Namibië Rugby-unie gemaak het om die mees kompeterende span vir die naweek in die veld te kan stoot.

Renaldo Bothma moes as kaptein vervang word omdat hy nie deur die Blou Bulle vrygestel is nie. Die vurige agtsteman staan glo 'n stewige kans om vir komende naweek se hervatting van Superrugby sy terugkeer vir die ligbloues te maak.

Hoewel Bothma in die tweede helfte van aanstaande maand by sy nuwe Engelse klub Harlequins moet gaan aanmeld, het hy gister aan die koerant gesê dit is nog te vroeg om met sekerheid te sê dat hy al Namibië se Afrikabekertoetse in Juliemaand gaan misloop.

Afrigter Phil Davies was in die gelukkige posisie om op Rohan Kitshoff se knoppie te kon druk om die kapteinskap oor te neem. Die Wanderers-flank het dié taak reeds vyf keer tevore verrig en is 'n veteraan van 30 toetse.

'n Gevoelige verlies is egter dat los­skakel Theuns Kotzé vir die eerste keer in jare nie in die prentjie sal wees om Namibië met sy taktiese brein en geleerde skopvoet te bestuur nie. Kotzé moes hom vanweë die finansiële jaareinde by sy nuwe werkgewer in Windhoek aan die toer onttrek. Die losskakel is die land se rekordhouer met 411 punte in 35 toetse.

Die lys van onbeskikbare spelers sluit 'n uitgelese groep Wêreldbeker-spelers in. Veral die verlies van die slotte Tjiuee Uanivi (20 toetse, skouerbesering), Pieter-Jan van Lill (45 toetse, verpligtinge in Frankryk) en Janco Venter (16 toetse, studieverpligtinge) laat 'n groot leemte.

Onder die losvoorspelers is Leneve Damens (liesbesering, 9 toetse) ook nog op die krukkelys.

Die senters Johan Deysel en JC Greyling (17 toetse elk) is ook buite rekening. Deysel het op die afgelope toer in Uruguay sy arm gebreek, terwyl Greyling vandeesweek om familieredes 'n laat onttrekking geword het toe sy oupa 'n hartaanval gekry het.

Die Vrystaat Cheetahs was ook nie bereid om hul staatmaker haker Torsten van Jaarsveld en vaskopstut Aranos Coetzee (13 toetse elk) vir Namibiese diens af te staan nie.

Ten laaste is Cliven Loubser, die belowende o.20-speler wat in Uruguay sy toetsdebuut met 'n paar minute speeltyd teen Rusland gemaak het, vanweë eksamen­verpligtinge ook nie vir die Tunisië-reis beskikbaar nie.

Elizma Theron, die NRU se waarnemende uitvoerende hoof, sê die nuwelinge wat nader geroep is, is egter ewe gretig om hul kanse aan te gryp en met goeie vertonings te wys dat hulle die nasionale trui waardig is.

“Die Afrikabeker is vanjaar belangrik vir Namibië. Ons wil vir die begin van 2018, wanneer die kwalifikasie vir die 2019 Wêreldbeker plaasvind, graag ons topposisie onder die moontlike kwalifiseerders behou sodat ons 'n gunstige loting met soveel as moontlik tuiswedstryde kan verwerf,” sê sy.

Die vier nuut gekose spelers sonder toetsondervinding is almal vanuit die geledere van FNB Unam, die plaas­like kampioen- en voorloperklub, nader geroep en het ook die stampe en stote van vanjaar se provinsiale SuperSport-reeks oorleef.

Hulle is die stut Desiderius Sethie, haker Obert Nortjé, slot Max Katjijeko en skrumskakel Helarius Kisting, wat ook as losskakel oorweeg kan word waar Eugene Jantjies waar­skynlik in die 10-trui sal begin.

Die toergroep na Tunisië is:

Stutte: Collen Smith (8), AJ de Klerk (14), Desiderius Sethie (0), Casper Viviers (22).

Hakers: Shaun du Preez (6), Obert Nortjé (0), Louis van der Westhuizen (11).

Slotte: Max Katjijeko (0), Mahepisa Tjeriko (2), Ruan Ludick (5).

Losvoorspelers: Thomasau Forbes (8), Wian Conradie (6), Rohan Kitshoff (kaptein, 30), Christo van der Merwe (3).

Skrumskakels en losskakels: Eugene Jantjies (onderkaptein, 55), Damian Stevens (8), Helarius Kisting (0).

Buite-agterspelers: Lesley Klim (1), Darryl de la Harpe (35), Justin Newman (1), Gino Wilson (6), Johann Tromp (28), David Philander (26), Chrysander Botha (43).

Die span word vergesel deur hoofafrigter Phil Davies, Roger Thompson (verdedigingsafrigter en spanbestuurder), Stuart Lewis (tegniese ontleder), Dafydd James (krag en kondisionering), Dominic le Roux (biokinetikus), Alica Mayo (fisioterapeut) en dr. Vernon Morkel (spandokter).

• Te danke aan 'n ooreenkoms wat Rugby Afrika met Kwese Sport getref het, sal alle wedstryde in vanjaar se Afrikabeker 1A-kompetisie regstreeks op NBC-televisie vertoon word.

Die res van Namibië se wedstryde is op 8 Julie teen Senegal (tuis), 15 Julie teen Zimbabwe (tuis), 22 Julie teen Uganda (weg) en 29 Julie teen Kenia (tuis).

Tags: 
Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263