Namibië se nasionale rugbyspan het sy erns om die Afrikabeker vir die vierde jaar op 'n streep te wen, verklaar toe hy Tunisië Saterdagaand in die kusdorp Monastir met 53-7 oorrompel het.
Dit is Namibië se grootste oorwinning nóg oor die Noord-Afrikane en oortref die wentelling van 45-13 in Dakar vier jaar gelede.
Rustyd was die kampioene net met 17-7 voor.
Vanweë verskeie beroepspelers se onbeskikbaarheid moes veranderinge verlede week aangebring word en soos voorspel kon word, was dit nie 'n seepgladde of foutlose vertoning aan die Namibiese kant nie. Die span het egter wel sy taak verrig om met 'n oortuigende bonuspunt-sege huis toe te keer.
Die kaptein en flank Rohan Kitshoff het soos gewoonlik van die voorpunt gelei. Hy het drie drieë in die wedstryde gedruk en het weer gemaklik ingepas nadat hy die nasionale span se toer verlede maand na Uruguay misgeloop het.
Ná sy 31ste toetsverskyning het Kitshoff nou 16 drieë. Net die agterspelers Gerhard Mans (27), Chrysander Botha (21) en Eden Meyer (21) is voor hom op die algehele Namibiese rekordlys.
Die ander driedrukkers teen Tunisië was die agtsteman Wian Conradie (twee), senter Justin Newman en die plaasvervanger-agterspelers David Philander en Helarius Kisting.
Losskakel Eugene Jantjies het met vier doelskoppe en 'n strafdoel geslaag en Kisting met een doelskop.
Afrigter Phil Davies het vooraf in 'n media-onderhoud verklaar dat Namibië niks as vanselfsprekend sal aanvaar, soos die algemene opvatting dat Kenia die sterkste uitdager behoort te wees nie.
Die Tunisiërs was uiteindelik nie rêrig teenstand vir die veel meer gedissiplineerde Namibiese eenheid nie, wat met meer akkuraatheid selfs verder kon gewen het.
Al die plaasvervangers is opgestuur, wat meebring dat FNB Unam se drietal Desiderius Sethie, Helarius Kisting en Max Katjijeko hul toetsdebuut gemaak het.
Die Namibiese span was: 15 Chrysander Botha, 14 Lesley Klim, 13 Justin Newman, 12 Darryl de la Harpe, 11 Johann Tromp, 10 Eugene Jantjies, 9 Damian Stevens, 8 Wian Conradie, 7 Christo van der Merwe, 6 Rohan Kitshoff (kaptein), 5 Ruan Ludick, 4 Mahepisa Tjeriko, 3 AJ de Klerk, 2 Louis van der Westhuizen, 1 Casper Viviers.
Reserwes: Shaun du Preez, Collen Smith, Desiderius Sethie, Max Katjijeko, Thomasau Forbes, Helarius Kisting, Gino Wilson, David Philander.
• In Saterdag se ander Afribekerwedstryd wat in Dakar gespeel is, het Uganda naelskraaps met 17-16 teen Senegal gewen.
Die Wes-Afrikaanse tuisspan het hulle na bewering aan verskeie insidente van vuilspel skuldig gemaak.
Senegal speel komende naweek teen Namibië in Windhoek, met losskakel Theuns Kotzé wat weer beskikbaar behoort te wees nadat hy die afgelope naweek weens werkverpligtinge nie kon saam toer nie.
Die stand van die Afrikabeker ná die eerste twee naweke (in volgorde van wedstryde gespeel, gewen, gelykop, verloor, punte vir en teen, bonuspunte, ligapunte):
Uganda 2 1 1 0 50 49 1 0 6
Namibië 1 1 0 0 53 7 46 1 5
Zimbabwe 1 1 0 0 28 16 12 1 5
Kenia 1 0 1 0 33 33 0 1 3
Senegal 2 0 0 2 32 45 -13 1 1
Tunisië 1 0 0 1 7 53 -46 0 0