Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Seges vir WHS, Affies en Gim-Leeus

$
0
0
Seges vir WHS, Affies en Gim-Leeus

Andrew Poolman - Die eerste rugbyspan van Samsung Windhoek Hoërskool het onoorwonne gebly toe hy Saterdag die jong span van Supersand Elnatan met 59-0 oordonder het.

Die wedstryd by die Vegkop-stadion was deel van beide die FNB Classic Clashes én die Momentum o.19 premierliga, waarin die Koedoebulle die verdedigende kampioenspan is.

WHS se atletiese agsteman en kaptein Oderich Mouton is agterna as die speler van die wedstryd bekroon. Hy het twee drieë gedruk, terwyl die buitesenter Elmarco Beukes 'n driekuns behaal het.

Nog drieë het van sy sentermaat Justin Muir, die slot Christiaan Hennig, losskakel Xander Coetzee en heelagter Delron Brandt gekom.

Brandt se skopvoet het ook ses doelskoppe deur die pale gestuur, terwyl Elmarco Beukes sy enkele kans pale toe laat tel het.

Die span van Stampriet het deurgaans gesukkel om al die gate toe te stop, maar behou 'n positiewe ingesteldheid in die wete dat bykans die helfte van sy huidige eerste span nog nie in hul matriekjaar is nie.

• Op Tsumeb het Ricoh Windhoek Gimnasium waardevolle punte in 'n wegwedstryd ingepalm.

Die Leeus het Rubicon Tsumeb Gimnasium met 25-18 geklop.

Afrigter Jaco Engels het vanjaar 'n betreklike jong span wat selfvertroue sal kan put dat hulle die knoop deurgehaak het op wat selde 'n maklike venue is.

Vir die wenspan het heelagter Morgan Esterhuizen, André van der Merwe (plaasvervangerslot) en die haker Louw Steenkamp drieë gedruk, terwyl losskakel Cornez Liebenberg en sy latere plaasvervanger Sammy Poulton elkeen met een doelskop en 'n strafdoel geslaag het.

Vir Tsumeb het skrumskakel Johandre Potgieter, stut Tinus van Zyl en heelagter Niell Niehaus drieë gedruk, terwyl die binnesenter Siegfried Potgieter met een strafdoel en 'n doelskop geslaag het.

Tsumeb Gimnasium se afrigter, Wouter Niehaus, sê: “Dit was 'n baie harde wedstryd. Die rustydtelling was 8-7 vir Tsumeb Gimnasium en sowat 15 minute voor die einde was ons met 18-10 voor.

“Toe kom Windhoek Gim sterk terug, maar op 22-18 vir die besoekers en met twee minute speeltyd oor was ons op die aanval.

“'n Baie bepalende strafskop in ons guns is omgedraai na 'n strafskop vir Windhoek Gim. Uiteraard het hulle toe soveel tyd as moontlik bestee aan die skop, wat oor was en wat die uitslag beklink het.”

• Windhoek Afrikaanse Privaat­skool, vanjaar geborg deur JCC/KMS geborg word, het Saterdag sy tuiswedstryd teen Walvisbaai Privaat Hoër­skool met 48-25 beklink.

Buitesenter Gerswin Mouton was weer 'n puntemasjien met drie drieë, vyf strafdoele en vier doelskoppe vir 'n formidabele individuele 38 vir die dag. Losskakel Johan Zaayman junior en vleuel Christiaan Celliers was ook driedrukkers vir die span wat in 2016 sy eerste o.19 Superliga-finaal gehaal het.

Vir Walvisbaai het die stut Ethan Theart twee drieë gedruk, terwyl Juvan Pitout met twee strafdoele en twee doelskoppe in die kol was.

Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263