Namibië het sy openingswedstryd teen die Valke by die 2017 Coca-Cola Cravenweek rugbytoernooi vir onder 18’s op indrukwekkende wyse gewen.
Die Oos-Gautengers het die eerste kwartier oorheers en was ná 12 minute met 21-0 voor, maar die Namibiërs onder kapteinskap van die flank Roaldo Rittmann het hulle stelselmatig terug in die wedstryd gespeel. Algaande het die Namibiese agterlyn hul spoed en flair ten volle uitgestal om met 33-31 vir die eerste keer voor te loop en uiteindelik ’n blink oorwinning met 52-36 te behaal.
Die Namibiese losskakel Denzo Bruwer is as die speler van die wedstryd aangewys vir sy 17 punte wat ’n drie ingesluit het, terwyl die buitesenter Gerswin Mouton ook met sy drie drieë uitgeblink het.
Die flank Gilad Plaatjies is twee keer oor die Valke se doellyn en die vleuel Le Roux Booysen en senter Justin Muir was ook driedrukkers.
O.18-span verniel Valke by Cravenweek