Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Skouerloop kos Darryl twee weke

$
0
0
Skouerloop kos Darryl twee weke

Andrew Poolman - Die Namibiese rugbyspan sal Donderdagoggend sonder die ervare Darryl de la Harpe as binnesenter vir hul volgende wedstryd na Uganda vertrek.

De la Harpe (28) is ná afgelope Saterdag se Afrikabeker wentoets teen Zimbabwe in Windhoek vir ’n insident in die tweede helfte uitgewys.

’n Tugbeampte het op grond van die videomateriaal bevind dat hy nie sy arms gebruik het toe hy ’n opponent – Zimbabwe se flank Connor Pritchard – van ’n losbal weggeloop het nie en dat sy skouer ook met die opponent se kop kontak gemaak het terwyl laasgenoemde in ’n kwesbare posisie was.

Die tugbeampte het in ag geneem dat Pritchard nie mediese aandag nodig gehad het nie en dat De la Harpe agterna sy verskoning aangebied het. Dit is bevind dat die oortreding onder die omstandighede op ’n lae vlak van erns is en gevolglik is De la Harpe die straf opgelê dat hy vir twee weke nie vir Namibië óf sy klub (FNB Western Suburbs) sal mag speel nie.

Die veteraan wat in 38 toetse sedert 2010 gespeel het (insluitend die laaste twee Wêreldbekers), se plek kan moontlik deur Justin Newman gevul word, wie se verskyning as plaasvervanger in die oorwinning met 31-16 teen Zimbabwe sy vierde in ’n toets hierdie seisoen was.

Die 22-jarige Newman, wat dié seisoen vir Pukke speel, kan vir die beginspan ook teen spelers soos Johann Tromp of David Philander opgeweeg word. Laasgenoemde is terug op die oefenveld nadat hy vir die laaste twee toetse in die Afrikabeker met ’n ligte dyspierkwaal misgeloop het.

Vir die Namibiese afrigterspan is De la Harpe se onbeskikbaarheid die tweede sodanige terugslag in twee weke. Die vorige week is die haker Louis van der Westhuizen ook vir twee weke geskors nadat hy ’n opponent van Senegal met die kop bygekom het.

Namibië is die voorloper in vanjaar se reeks met die volle 15 ligapunte ná drie wedstryde. Tweede is Kenia (12) en Uganda (11), elkeen ná drie wedstryde, en Zimbabwe (6 ná twee wedstryde).

Senegal (1 punt ná vier wedstryde) en Tunisië (0 ná drie) spook sake uit om in die A-afdeling te bly en nie die laaste span te wees wat vir volgende jaar gerelegeer word en dus uit die wedloop vir kwalifikasie vir die 2019 Wêreldbekertoernooi in Japan sal wees nie.

Afrigter Phil Davies en sy manne se oorblywende wedstryde is teen Uganda komende naweek in Kampala, gevolg deur Kenia in Windhoek op 29 Julie.

Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263