Dan Carter se skopskoen was gister deurslaggewend in Nieu-Seeland se naelskraapse oorwinning van 25-16 teen Samoa in die eiland se hoofstad Apia.
Die All Black-losskakel het 20 punte aangeteken om sy waarde kort voor die Wêreldbeker-toernooi te onderstreep.
Carter het die telbord in ’n spannende eerste helfte aan die rol gehou voordat sy slim hoekskop kort ná rustyd deur die Kiwi-vleuel George Moala opgeraap is. Moala, in sy eerste wedstryd in die swart trui, het oor die doellyn geduik om die Nieu-Seelanders vroeg in die tweede helfte ’n voorsprong van 19-3 te gee.
Samoa se losskakel, Tusi Pisi, het nege punte met sy skopskoen bygedra. Die tuisspan het in die tweede helfte die druk op Nieu-Seeland volgehou toe die flank Alafoti Fa’osiliva gaan druk het om die telling 22-16 te maak.
Carter het egter met vyf minute se speeltyd oor sy sesde strafdoel van die wedstryd behaal om die Kiwi’s met hul kleinste punteverskil in ses kragmetings teen Samoa te laat wen.
Die All Blacks het in elk van hul vorige vyf wedstryde teen die eilanders 50 of meer punte aangeteken, wat ’n pak slae van 101-14 in hul mees onlangse kragmeting in New Plymouth in 2008 insluit.
Die tuisspan het gister egter voordeel getrek uit die besoekers se tradisioneel trae begin in die internasionale seisoen. Die Kiwi’s het geen spelers uit die Highlanders óf Hurricanes (die Superrugby-finaliste) ingesluit nie.
Nogtans het die All Blacks-spelers gesamentlik meer toetse agter hul naam gehad as enige ander in die geskiedenis. Die Nieu-Seelandse kaptein Richie McCaw het hulde aan Samoa gebring. “Julle het ’n spesiale span bymekaar. Dit is waaroor toetsrugby gaan. Manu Samoa het nie vir ’n oomblik skietgegee nie.”
• Puntemakers:
Samoa 16 (3) - Drie: Alafoti Fa’osiliva’s. Doelskop: Tim Nanai Williams. Strafdoele: Tusi Pisi (3).
Nieu-Seeland 25 (12) - Drie: George Moala. Doelskop: Dan Carter. Strafdoele: Carter (6). - Reuters/Netwerk24
Category: