Andrew Poolman
Baie moeite word op en van die rugbyveld gedoen om te verseker dat Namibië nie net by die komende Wêreldbeker sy mees kompeterende vertoning nóg lewer nie, maar ook in die 2016-seisoen en daarna op ’n gesonde voet kan voortbou.
Phil Davies, die nasionale afrigter, en John Williams, die Namibië Rugby-unie se hoofbestuurder van rugbysake, het gister die plaaslike media toegespreek om van hierdie toekomsplanne uiteen te sit.
Die NRU se strukture is reeds uitgebrei om tussen die funksies van ontwikkeling en hoëprestasie te onderskei. Die hoëprestasiesentrum van gimnasiumfasiliteite wat die afgelope maande by die Hage Geingob-stadion tot stand gebring is, sal dien om ook die nasionale sewesgroepe vir mans en vroue, asook die junior ouderdomspanne te kan betrek.
Davies en Williams het beklemtoon dat ’n meer duidelike loopbaanpad vir jong spelers met talent en ambisie in die proses gebou word.
Die standaard van plaaslike klubrugby moet verbeter word deur die nodige aandag aan fasiliteite, afrigters se kwalifikasies asook die ontwikkeling van groter getalle bekwame skeidsregters te gee.
Davies se vyfjaarplan in dié opsig is reeds met die NRU opgeneem met die 2016 Vodacombekerreeks wat opnuut ’n belangrike volgende stap sal wees.
Die strewe om Namibië se talentvolle, maar beperkte spelersgetalle te vergroot, sal die taak van die NRU se ontwikkelingsbestuurder Christo Alexander wees. Hy sal onder meer die taak by Henry Kemp oorneem om die Get Into Rugby program voort te dryf wat die sport op skoolvlak aan beginners bekend stel.
Dié program van Wêreldrugby word ingespan om die spelersdiepte op alle vlakke te verbreed, waaruit die talentvolle spelers mettertyd na vore tree en geïdentifiseer word. Sulke spelers kan ongeag in watter streek van die land hulle woon, aan die NRU se rugby-akademie blootgestel word wat hulle op en van die veld voorberei om hul spel na hoër vlakke te neem.
Rusland
Oor die Welwitschias se tweede toets teen Rusland komende naweek in die Windhoek Draught Vriendskapsreeks het die afrigter gesê hy hoop dat ’n stadion vol toeskouers die skouspel sal beleef.
Davies sê dit was baie bevredigend om tydens die afgelope naweek se geskiedkundige oorwinning met 39-19 teen Rusland te sien hoe ver die spelersgroep ontwikkel het wat hy sedert sy aansluiting as tegniese adviseur verlede jaar ontmoet het.
“Rusland is ’n hoog gerekende span in wêreldrugby en hulle sal gewis beter geakklimatiseer en voorbereid vir die tweede toets wees. Dieselfde geld egter vir ons. Ons was gelukkig om sonder noemenswaardige beserings uit die eerste toets te kom en kan deeglik oefen. Ons weet dat ons Saterdag met ’n goed georganiseerde en baie gemotiveerde opponent te make sal hê.”
Davies was in sy skik met die toewyding van die ganse spelersgroep en veral die energie wat deur die mees onlangse aankomelinge verskaf is.
“Ons het die afgelope maande deur ’n periode gegaan om spelpatrone bekend te stel en spelers op die proef te stel. Onsu uitdaging is om die beroepspelers uit die buiteland en dié wat net plaaslik klubrugby speel, is ’n sterk eenheid saam te voeg. Ek haal my hoed af vir die toewyding van al die Namibiese spelers.”
Wêreldbeker
Met die oog op die Wêreldbeker in September wat vinnig nader snel, het ’n joernalis aan Davies gevra of hy senuagtig oor die Welwitschias se openingswedstryd teen Nieu-Seeland is.
“Sou jy kalm wees as jy teen die All Blacks moet speel?” was sy half-ernstige teenvraag.
Die voormalige Walliese slot en agtsteman se loopbaan van 46 toetse het ook die Wêreldbekers van 1987 en 1991 ingesluit, waarna hy reeds vir die afgelope 20 jaar op professionele vlak afrig. Hy het onder meer Wallis se junior span vir die o.20 wêreldkampioenskap voorberei, wat volgens hom ’n soortgelyke uitdaging is as om Namibië vir sy komende wêreldtoernooi te slyp.
“Al ons opponente by die Wêreldbeker (Nieu-Seeland, Tonga, Georgië en Argentinië) bied ’n formidabele uitdaging en ons sal uiteraard senuagtig wees, maar ons strewe is om onsself en die hele Namibië trots te maak.
“Namibië het ’n ryke rugbytradisie en sy spelers is bekend vir hul dapperheid en vir hul flair. Van ons drieë teen Rusland getuig van ons strewe om doeltreffende teenaanvalle te loods. Daar is steeds ’n nodigheid om ons vaste fasette te versterk, maar dit kom met tyd en is ook iets wat by die program van nalatenskap ná die Wêreldbeker ingebou is.”
Davies is tot ná die Wêreldbeker in Oktober aangestel, maar het aangedui dat hy graag daarna ook sal wil aanbly om seker te maak dat sy opvolger ’n gesonde stelsel kan oorneem.