Andrew Poolman
Die Welwitschias kan die Windhoek Draught Vriendskapsreeks teen Rusland nie meer verloor nie en afrigter Phil Davies kon dus bekostig om ’n paar veranderinge aan sy 23-tal vir die tweede toets aan te bring.
Net een verandering is genoodsaak deur ’n ligte besering wat die buitesenter Danie van Wyk (ribbes) tydens die oorwinning met 39-19 in die eerste toets opgedoen het.
Vir die res kon Davies met die naderende Wêreldbeker sy spelersgroep gister met rotasie en proefnemings van ’n paar nuwe kombinasies aankondig.
Die agtsteman Zana Botes is die enigste speler wat vir die eerste keer die Namibiese toetstrui sal aantrek. Botes was een van die spelers wat in die Vodacombeker in elke wedstryd in aksie was en neem Thomasau Forbes se plek in die lostrio wat die eerste toets begin het.
Op regtervleuel vervang Conrad Marais vir David Philander, Die blondekop is die enigste ander byvoeging, benewens Botes, tot die beginspan wat nie in die eerste toets betrokke was nie.
Die jong haker Louis van der Westhuizen, die senter Darryl de la Harpe en die veelsydige Heinrich Smit die drie nuwe insluitings op die reserwebank. De la Harpe het as die aanvanklike kaptein van die Vodacombekerspan gesukkel om tussen beserings deur sy beste vorm te herwin en sal bitter graag wil wys dat hy steeds op die hoogste vlak ’n impak kan maak.
Die Namibiese span: 15 Chrysander Botha, 14 Conrad Marais, 13 JC Greyling, 12 Johan Deysel, 11 Russell van Wyk, 10 Theuns Kotzé, 9 Eugene Jantjies, 8 Zana Botes, 7 Tinus du Plessis, 6 Jacques Burger (kapt), 5 Janco Venter, 4 Tjiuee Uanivi, 3 Raoul Larson, 2 Torsten van Jaarsveld, 1 Casper Viviers.
Reserwes: 16 Louis van der Westhuizen, 17 AJ de Klerk, 18 Jaco Engels, 19 Rohan Kitshoff, 20 Renaldo Bothma, 21 Arthur Bouwer, 22 Darryl de la Harpe, 23 Heinrich Smit.