Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Namibiërs kry vegtende Tunisië onder

$
0
0

Die Namibiese Welwitschias het hul internasionale voorbereiding vir die komende Wêreldbekertoernooi met ’n harde toetsoorwinning van 22-14 teen Tunisië afgeskop.

Die wedstryd is voor sowat eenduisend toeskouers in die kusdorpie Nabeul sowat 70 km oos van die hoofstad Tunis gespeel.

Die kragmeting was ook die begin van die Welwitschias se verdediging van die Afrikabeker-titel wat hulle verlede jaar in Madagaskar gewen het.

Afrigter Danie Vermeulen se manne is gretig om positiewe momentum op te bou voor hul Wêreldbeker openingswedstryd teen die All Blacks op 24 September in Londen.

Losskakel Theuns Kotzé het die eerste bres in die Tunisiese verdediging sommer binne vier minute geslaan toe hy die bal vanaf ’n lynstaan ontvang en sy fopaangee die verdedigers platvoet gelaat het. Kotzé het die heelagter ingetrek en sy kaptein en agtsteman Pieter-Jan van Lill vir ’n maklike drie onder die pale weggestuur.

Net vyf minute later het dit gelyk asof die besoekers uit Suider-Afrika ’n groot telling sou opstapel toe die regtervleuel David Philander omtrent op die halflyn onderskep en in die regterhoek gaan druk het. Dit was nadat Tunisië aanvanklik die bal afgeneem en ’n goeie ent gevorder het toe ’n aangee tussen Nico Esterhuyse en Van Lill aan die agterpunt van ’n lynstaan verlore gegaan het.

Meningsverskille met die Franse skeidsregter se beslissings het Namibië se saak nie bevorder nie, maar die besoekers het ook tot hul eie gesukkel bygedra deur minstens vyf lynstane op hul eie ingooi te verloor. Hulle het ook op deurslaggewende tye besit afgestaan en is ook ’n paar maal vir oortredings op die grond gestraf.

Tunisië het in die eerste helfte ook sy kans waargeneem om ’n redelik maklike drie met ’n rolmaal vanaf ’n lynstaan te gaan druk. Die vaskopstut Auoadi Chahir het afgerond en danksy ’n strafdoel deur die losskakel Chamss Kalifa het Tunisië binne trefafstand gebly toe die rustydfluitjie op 12-8 in Namibië se guns blaas.

Minstens drie belowende kanse is verspeel vir die Welwitschias om drieë in die tweede helfte te druk, terwyl die Tunisiërs nog twee strafdoele deur Kalifa bygevoeg het wanneer hulle binne trefafstand gekom het. Die tuisspan was dus in ’n stadium met 14-12 voor, voordat ’n langerige strafdoel deur Kotzé weer die Namibiërs se neus voor gekry het.

Kotzé het ook ’n hand in die wendrie gehad toe hy ’n netjiese dwarsskop in die hande van die onbewaakte Philander (dié keer op linkervleuel) geplaas het. Philander se vaartversnelling en afstamp het twee verdedigers hulpeloos gelaat voordat hy omgedraf het pale toe.

Die geel kaart wat die flank Roderique Victor in die tweede helfte van sy begintoets gekry het, het die Namibiërs se momentum gestuit. Hy is uiteindelik nie teruggestuur op die veld nie, maar is deur DG Wiese vervang. Die twee geel kaarte wat Victor in die Vodacombeker gekry het, asook presedente van vorige optredes om die vereiste vlak van dissipline onder Vermeulen se afrigting tuis te bring, het moontlik hiertoe bygedra.

Die Namibiërs reis nou na Roemenië waar hulle komende Saterdag in Boekarest teen die Argentynse A-span (bekend as die Jaguars) in hul openingswedstryd van Wêreldrugby se Nasiebekertoernooi uitdraf. Hul latere wedstryde is teen die gasheerspan Roemenië (17 Junie) en Spanje (21 Junie).

Vyf Namibiërs sluit vir die Nasiebekertoernooi by die toergroep aan, naamlik die stutte AJ de Klerk (0 toetse) en Johnny Redelinghuys (42, beide Wanderers), haker Callie Swanepoel (4, Wanderers), die slot/flank Janco Venter (2, Maties) en vleuel Russell van Wyk (0, Western Suburbs).

Tags: 

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!