Die omstandighede in Tunisië was Saterdag geensins maklik vir die Welwitschias nie, maar die span het nietemin verskeie aspekte waarop hulle moet verbeter vir die harder toetse wat in die komende dae en maande voorlê.
Daar was heelwat nuwe kombinasies wat nog nie met mekaar vertroud is nie, het die vleuel David Philander agterna in ’n media-onderhoud erken.
“By Vrydag se kapteinsoefening moes ons nog ’n paar spelers 100 persent op datum bring,” het Philander gesê nadat sy twee drieë bygedra het om die kastaiings uit die vuur te krap.
“Die hitte was ook ’n faktor, maar in die geheel was die vertoning nog geensins op die standaard waar ons wil wees nie. Dit was nie maklik nie, want Tunisië hou daarvan om die bal rond te gooi en ek haal my hoed af vir ons voorspelers wat moes rondbeweeg om duikslae uit te voer en wie se karakter en veggees ook op die agterspelers afgesmeer het.”
Die vleuel het erken dat hierdie naelskraapse ontkoming vir die span ’n wekroep is. “Op enige toer is dit altyd soveel beter om met ’n wen te begin, want as die koppe sou gehang het voordat ons die vlug na Boekarest haal, sou dinge soveel moeiliker geraak het. Ten minste het nou iets om op voort te bou.”
Sy kaptein PJ van Lill het gesê geen wegwedstryd in Afrika kan ooit as maklik gereken word nie en dat sulke sukkelwedstryde bydra om die spelers se karakter te toets en te ontwikkel.
“Ná die lang vlug hierheen (via Johannesburg en Istanboel) het ons basies net een dag vir die finale voorbereiding gehad, nadat ons ook net enkele oefendae in Windhoek met die volledige span gehad het. Ons sal harder moet werk voor die Wêreldbeker, ons is nog nie op die vereiste vlak nie.”
Die balbesit wat afgestaan is wanneer die span op die voorvoet was, asook die gesukkel in die lynstane en sommige skrums is aspekte waar die kaptein verbetering verwag.
“Soms is ons te desperaat om ’n aangee te probeer wegkry wat eintlik nie aan is nie. Die lynstane kort ook heelwat werk om meer en beter gehalte besit te verseker.”
Afrigter Danie Vermeulen sê die verantwoordelikheid is ook op die spelers om vinniger die nodige aanpassings in hul spel te maak wanneer ’n skeidsregter hulle vir sekere oortredings straf.
“Dit was glad nie ’n mooi oorwinning nie. Ons moet eerlik wees dat daar te veel foute en swak besluitneming was. Aan die einde van die dag moet ons die positiewe hieruit neem en sorg dat ons gereed is vir die volgende een teen die Argentynse Jaguars volgende naweek.”
In die komende week sal ook gewerk word om sake in die skrums en lynstane reg te stel. “Ons het ’n hele paar beroepspelers wat nie vir die toer vrygestel was nie en plaaslike spelers wat ’n kans kry om te leer en om by die hoër vlak aan te pas.”