Andrew Poolman - Die Welwitschias behoort by hul sterk punte te hou wanneer hulle by die komende Wêreldbeker teen die verdedigende kampioen Nieu-Seeland, asook die hoër gerekende Tonga, Georgië en Argentinië uitdraf.
Dit was die woorde van Nick Mallett, wat vandeesweek in Windhoek by Radio Raps se Chat ’n Bietjie Ball praatjie by die SKW-saal ’n eregas saam met John Mitchell en die Namibiese kaptein Jacques Burger was.
Mallett het in sy dae as afrigter twee verskillende spanne na Wêreldbekertoernooie geneem, naamlik Suid-Afrika in 1999 en Italië in 2011.
“Italië en Namibië is op ’n vergelykbare vlak in wêreldrugby, om eerlik te wees. Ek het by die Italianers ingeprent dat ons sekere dinge op ’n rugbyveld baie goed kon doen, naamlik die vaste fasette soos die skrum. Jy moet trots wees op wat jy goed kan doen. In die agterlyn was ons egter diabolies hopeloos.
“Ons plan was dus om die spel so stadig te maak dat almal verveeld raak en dat selfs die All Blacks aan die slaap wil raak. Ek het daarop gereken dat Nieu-Seeland ’n bietjie arrogant sou wees en met elke bal sou wou hardloop, selfs wanneer ons ’n vlak verdedigingslyn sou handhaaf. Ons het goed geduik en het hulle gedwing om swak besluite te neem en kon soms die bal afneem. Ons kon nie punte aanteken nie, maar ten minste het hulle ook nie punte behaal nie.”
Mallett het gesê hy is baie trots op wat volgens hom waarskynlik ’n rekord is wat dalk nooit oortref sal word nie, naamlik ’n Italië-toets waarin ’n enkele skrum vir sewe-en-’n-half minute op een plek gebly het.
“Die skrum is 21 keer gevorm en het in sewe strafskoppe uitgeloop. Rory Kockott (Frankryk se skrumskakel) het ’n geel kaart gekry. Nie een keer het ons pale of kantlyn toe geskop nie – elke keer het ons gesê ons kies die skrum. Agterna het die media my ook gevra hoekom ons nie pale toe skop nie. My antwoord was dat ons die bal vir sewe-en-’n-half minute uit die hande van die teenstanders gehou het.”
KIWI-VOORDEEL
Die aanbieder, Jonathan van Radio Raps, wou by Mallett en Mitchell weet hoekom die All Blacks dit altyd regkry om in groot wedstryde die knoop deur te haak – “selfs as daar fisiek so min verskil is met vandag se spelers wat die 100 meter in tien sekondes kan hardloop en so sterk is dat hulle ’n tenk kan ‘bench press’.”
Mitchell, wat self ’n gewese kaptein én afrigter van die Nieu-Seelanders is, sê spanwerk kom natuurlik vir dié nasie.
“Dalk is dit ’n nalatenskap van ons voorvaders, vir wie spanwerk onontbeerlik was indien hulle heen en weer per boot na hierdie klein, afgeleë eilandjie wou reis.
“In rugbyterme word Nieu-Seeland waarskynlik die mees verantwoordelik bestuur. Spelers vorder nie na die volgende vlak voordat hulle prestasies wys dat hulle gereed daarvoor is nie. Die rugby-unie het ook die skuiwergat behoorlik gebruik om oor die jare maksimale voordeel uit die talent van die nabygeleë eilandnasies te trek.”
Mallett se opsomming van die All Blacks se geheim is hul tegniese vermoë om nooit paniekerig te raak nie.
“Hulle bly oënskynlik kalm ongeag wat die telling is. Toe hulle op Ellispark met 6-21 agter was, het hulle met ’n drie vorendag gekom om te verseker dat hulle rustyd met net ’n bietjie meer as een verdoelde drie agter is.
“Die All Blacks het absolute geloof dat hulle drieë kan druk. Van hul spelers het my vertel dat hulle benadering is dat die Springbokke vir 75 uit die 80 minute baie goeie spel sal lewer. Maar daar sal vyf oomblikke wees waar hulle iets simpel sal doen wat Nieu-Seeland in ’n teenaanval kan omskep en wat vir hulle drie drieë kan beteken. Hulle glo ook dat hulle nog een of twee drieë kan druk as hulle goed speel – en as hulle vier drieë druk, gaan Suid-Afrika hulle nie klop nie.
“Vir Suid-Afrikaners is dit presies hoe toetswedstryde verloop. Ons domineer die spel vir ’n uur of langer, maar ons teken nie punte aan nie en verloor die wedstryd. Dit is uiters frustrerend. Dis nou ’n sielkundige hekkie, want hierdie Springbokspan is nie daaraan gewoond om teen die All Blacks te wen nie.
“Een oorwinning uit sewe toetse, wat boonop aan die inmenging van SuperSport se produksieleier te danke was, toe hy tydens ’n onderbreking vir ’n besering Liam Messam se hoogvat op die grootskerm gewys het. Die hoogvat drie fases tevore is nie deur die wedstrydbeamptes raakgesien nie, maar die kans is geskep vir Patrick Lambie om die wedstryd met ’n lang strafskop te wen.”
‘GROEP VRIENDE’
Jacques Burger, Namibië se kaptein, het gesê sy span sien met groot verwagting uit na hul oomblik in die kollig.
“Ons weet ons sal meedoënloos moet wees om elke kans af te rond wat na ons kant kom. Ander spanne mag dalk meer spoed of krag of beter vaardighede hê, maar fisiek sal ons hard werk en alles gee wat ons het vir ons land. Ons afrigters het wondere verrig om ons wedstrydplanne in te stel en te vestig. Ons het ’n baie talentvolle groep spelers wat goeie vriende is.
“Ons gaan gewis uit om onsself te geniet, want so ’n kans kom nooit weer nie. Hopelik kan ons ’n paar mense ’n verrassing gee.”
Pick & Pay was die hoofborg van die aand tesame met Windhoek Draught, KWV, Jägermeister, Bacardi, Homeconomix, Officeconomix, Hilton Windhoek, Coca-Cola, Rhodes, Tropizone, Ola, Robertsons, Auas Motors, Tall Horse en Kosmos 94.1.