Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all articles
Browse latest Browse all 263

NRU se geldprentjie ontvou binnekort

$
0
0
NRU se geldprentjie ontvou binnekort

Andrew Poolman - ’n Duideliker prentjie van wat die Namibië Rugby-unie hierdie seisoen kan regkry, behoort vanaf volgende week gestalte te begin kry.
Komende Vrydagoggend wag ’n deurslaggewende afspraak in Londen. Dit is wanneer ’n delegasie van die Namibië Rugby-unie sy voorlegging aan Wêreldrugby doen wat sal bepaal hoeveel geldelike bystand vir die komende jaar toegestaan sal word.
Sodra hierdie bedrae bekend is, sal die NRU met groter sekerheid weet hoeveel beskikbaar is om van die belangrike aanstellings vir 2016 te doen.
Die NRU se president, mnr. Bradley Basson, sal saam met die hoofbestuurder van rugbysake, mnr. John Williams, en die direkteur van finansies, mnr. Hans Hashagen, die voorlegging in Londen bywoon.
Namibië sal verder verteenwoordig word deur mnre. Phil Davies en Wayne Proctor, wat onderskeidelik as hoofafrigter en kondisioneringsafrigter in die 2015 Wêreldbeker diens gedoen het en wat beide bestem is om vanjaar hul rolle voort te sit. Davies en Proctor sal dus enige vrae kan hanteer oor die Namibiese pad tot hier en die strategie vir die volgende vier jaar tot en met die 2019 Wêreldbekertoernooi in Japan.
Die NRU het onlangs reeds in beginsel besluit op daadwerklike stappe om vanjaar ’n rugby-akademie op die been te bring wat hom op die pad na ’n meer uitgebreide professionele stelsel sal plaas.
Spesifieke aanstellings, soos ’n volledige afrigterspan vir die 2016 Curriebekerreeks wat óf op ’n voltydse óf deeltydse grondslag kan wees, sal uiteraard van die beskikbaarheid van geld afhang.
Die eerste plaaslike oefengroep vir die jaar kan egter reeds in volgende week bekend gemaak word.
Williams het gister aan Republikein gesê hyself en Davies sal nóú met die hoofafrigter van die Curriebekerspan saamwerk.
“Die Curriebeker gaan ’n groot uitdaging wees, maar dit is ’n onmisbare geleentheid vir Namibiese rugby. Vir die ontwikkeling van ons spelers met die oog op die volgende Wêreldbeker sal dit van groot waarde om hierdie jaar die stampe en stote te verwerk.
“Die geleentheid is nou te groot om deur die vingers te laat glip. In ons vierjaarsiklus na die Wêreldbeker sou dit ’n fout wees om die eerste pyne van die leerskool van die Curriebeker tot volgende jaar uit te stel.

GEEN VERTRAGING
Williams sê op raadsvlak van die NRU bestaan eensgesindheid oor die stappe wat vir die professionele stelsel gevolg behoort te word. Die proses word so spoedig moontlik dus aan die gang gesit en sal nie vertraag word terwyl vir die afhandeling van die registrasie van die voorgenome rugbymaatskappy en die rugby-akademie gewag word nie.
Prominente borge uit Namibiese geledere het glo ook reeds bevestig dat hulle die Curriebeker-pad saam met die Namibië Rugby-unie sal stap.
Williams het ook gesê die NRU se kalender vir die klubliga, asook vir die aanbieding van opleidingskursusse, sal binne die volgende dae na die klubs uitgestuur word.
“Die byvoeging van die Curriebeker beteken dat ons ’n bietjie innoverend met die opstel van ons klubprogram sal moet wees. Die geleentheid vir ons klubwenner om in die Gold Cup te speel, is ook goeie blootstelling.”
Toe die kantoor van die NRU gister vir die nuwe jaar heropen het, was Williams een van net vier werknemers. Christo Alexander bestuur die programme vir deelname en ontwikkeling (insluitend skole, klubs, sewesrugby en vrouerugby) asook die geleenthede vir opleiding. Danray du Plessis is ’n relatief nuwe gesig wat as ontwikkelingsbeampte vir vrouerugby diens doen, terwyl die vierde kantooradministrateur, Norwin Oosthuizen, gister nog met verlof was.
Die kantoor van Sybrand de Beer, wat ná vier jaar as uitvoerende hoof uitgetree het om die voorgenome nuwe korporatiewe deel van Namibiese rugby te bedryf, moet ook nog gevul word. Jaco Engels en William Steenkamp se termyne as konsultante vir onderskeidelik die hoëprestasieprogram en opleiding het ook verstryk.
Die NRU se geldelike hulpbronne sal ook bepaal hoe vakante poste in die organisasie gevul sal word.
Williams sê een belowende moontlikheid is werkooreenkomste met spesifieke universiteite, waar meestersgraadstudente op professionele gebiede soos fisioterapie of krag en kondisionering hul praktiese jaar in diens van die NRU voltooi.

Tags: 
Andrew Poolman

Viewing all articles
Browse latest Browse all 263