Quantcast
Channel: NMH Rugby
Viewing all 263 articles
Browse latest View live

Hingste bederf United se 100-partytjie

$
0
0
Hingste bederf United se 100-partytjie

Andrew Poolman - Oorwinnings vir FNB Wanderers, FNB Western Suburbs, Rehoboth Rugbyklub en Kudus het dié vier spanne die voortou laat neem op ’n eerste naweek van die Namibië Rugby-unie se premierliga waarin die verdedigende kampioen Unam aarde toe gebring is.
By Gemsbokpark is Trustco United se 100-jarige bestaansvieringe bederf toe Wanderers hom met 36-31 gekarnuffel het.
Kaptein Shaun du Preez en sy manne kon gevolglik die eerste voggies van die nuwe seisoen drink uit die Neels Dodds derbytrofee wat al jare tussen die twee klubs op die spel staan.
Met ses drieë teen een was daar min teenspraak dat die Wit Hingste die span van die dag was – hoewel United dit reggekry het om sake rustyd op 19-19 te hou.
Heelagter Léan Stoop het met sy teenaanvalle en vernuftige voetwerk verskeie United-verdedigers in die lug laat gryp en sy vertoning was waarskynlik een van sy heel bestes wat die afgelope jare gesien is.
Vanaf die kantlyn sou sy legendariese oom, André Stoop, dié vertoning beslis baie geniet het.
Dit is dalk nie tradisioneel dat Wanderers só met sy agterlyn teen United baljaar nie. Binnesenter Francois Wiese het sy bynaam Vullis gestand gedoen – én sy groeiende aansien as ’n derduiwel wat bykans nooit agter die voordeellyn gekeer word nie.
Langs hom was Johann Tromp soos altyd die vernuftige spelskepper wat die laaste aangeë vir beide linkervleuel Riaan van Zyl se twee drieë gegee het. Tromp het in die eerste helfte sierlik vir ’n “drie” van sy eie oorgeduik, maar is teruggeroep vir ’n aanslaan vroeër in die beweging. In die tweede helfte het hy wel vanuit sy eie helfte ’n gaping geslaan om in die regterhoek te gaan druk.
Voorlangs het haker Gerhard Lotter die eerste vyf punte vir Wanderers behaal. Hy het van naby die doellyn oorgebars toe skrumskakel Enim Kritzinger gebreek en vanuit ’n duikslag sy aangee weggekry het.
Flank Rohan Kitshoff het in sy Wanderers-debuut vir die voorlaaste drie oorgedryf, nadat die United-haker naby sy eie doellyn bo-oor Winmar Rust gegooi het.
Twee minute later is Lotter ook deur twee manne grond toe gebring, maar het sy aangee weggekry na nog ’n plaasvervanger, Arthur Bouwer, wat van die halflyn af deurgesny het.
United se skopmasjien Winmar Rust se sewende strafdoel was die laaste punte van die dag, wat vir sy span ’n verloor-bonuspunt gered het.
Skeidsregter Zaid Izaacs het om dit sagkens te stel, nie hierdie toets geslaag of hy wedstryde in die premierliga kan hanteer nie. Veral in die tweede helfte het sy openlik eensydige string strafskoppe keer op keer ’n ommeswaai in United se guns bewerk. Te midde van ’n stortvloed kritiek vanaf die kantlyn was dit duidelik dat ernstige bedenkinge oor sy neutraliteit bestaan.
Puntemakers:
Wanderers: drieë deur vleuel Riaan van Zyl (2), haker Gerhard Lotter, senter Johann Tromp en die plaasvervangers Rohan Kitshoff (flank) en Arthur Bouwer (skrumskakel). Doelskoppe deur MP Pretorius en Riaan van Zyl (2).
United: Drie deur senter Claude Bouwer. Strafdoele (7) en doelskop deur slot Winmar Rust, skepdoel deur Robbie Dickson.
• Wanderers se tweede span het die verdediging van sy titel in die NRU reserweliga goed begin deur United II met 26-12 te klop. Wanderers se derde span (28-10) en selfs die Ou Krokke het gesorg dat die Wit Hingste skoonskip op die rugbyveld gemaak het. Regard Kruger het in laasgenoemde wedstryd ’n driekuns behaal.

UNAM GLY TEEN SUBURBS
In nog ’n derbystryd het FNB Western Suburbs teen sommige verwagtinge in met die verdedigende kampioen, die Universiteit van Namibië, afgereken.
Slim gebruik van die plaasvervangerbank was ’n faktor toe die Khomasdallers ’n agterstand van 9-17 met rustyd uitgewis het om met 26-20 die knoop deur te haak.
Hul skopheld was heelagter Ricardo Swartz, wat met drie strafdoele en twee doelskoppe raak gekorrel het. Senter Justin Nel het benewens sy drie ook met ’n vroeë strafdoel geslaag, met agtsteman Roderique Victor die ander driedrukker vir die wenspan.
Met Shaun Kaizemi en Russell van Wyk wat as reserwes tot later teruggehou is, het afrigter Sergio de la Harpe klaarblyklik sy kaarte reg gespeel om op die kampioene se tuisveld die oorhand te kry.
Dit het eers nie so gelyk nie, toe die aanvallende studentespan binne 15 minute met hul losskakel Hilarius Kisting se tweede drie die voortou met 14-3 geneem het.
Die skopvoete van Nel en Swartz het in die 53ste minuut die agterstand tot net vyf punte (17-12) laat krimp, voordat Victor en Nel hul verdoelde drieë gaan afrond het.
Aan Unam se kant is die skopwerk gedeel tussen heelagter Lorenzo Louis en losskakel Kisting, elk met ’n doelskop en ’n strafdoel.

Tags: 
Andrew Poolman

Kudus skraap net-net deur teen buurman

$
0
0
Kudus skraap net-net deur teen buurman

Des Erasmus - ’n Koedoe ken van spring, maar Saterdagmiddag op Swakopmund se Vineta-veld was die hekkie so amper te hoog vir Kudus.
Die Walvisbaaiers is die boonste draad oor, maar hul hakskene het gekap toe die buurman, Dolphin van Swakopmund, net-net met 10-9 geklop is toe rugby se premierliga ook op die kusdorpe begin het.
Dié sege het sweet gekos in die warm kusweer van die dag.
’n Wen is ’n wen. Dit was die wenspan se troos in ’n wedstryd waarin Dolphin van die eerste oomblik tot met die eindfluitjie geweier het om te gaan lê.
Deel van die Kudu-troos was dat die Walvisbaaiers ook vir die enigste drie van die wedstryd gesorg het.
Van sweet gepraat. Dit is wat die volgende twee weke van Kudu-spelers op die oefenveld verwag gaan word. Gate wat deur vertrekkende spelers gelaat is, is duidelik deur afrigter Eben Izaacs se Dolphin-manne uitgewys en in die tweede helfte was dit duidelik dat albei die spanne ’n bietjie asem in die seebries soek.
Die twee weke is grasie voordat Kudus op 20 Maart in die Narraville-stadion teen die sterke FNB Western Suburbs van Windhoek uitdraf. Die skroewe moet op die gebied van fiksheid vir die besoekende Windhoekers aangedraai word en lapwerk moet gedoen word waar die afwesigheid van vertrekkende spelers Saterdag seergemaak het.
Alle eer kom Dolphin as die verloorspan toe vir hul verset in ’n meedoënlose en tipiese derbywedstryd. Al was Dolphin se nege punte drie strafdoele deur die binnesenter Donovan Hummel, was dit net een punt minder as Kudus se doel en ’n strafdoel.
Kudus se drie is deur een van sy senters, Elmo van der Byl, gedruk. Ivo Croza (losskakel) se doelskop en strafdoel het Kudus die hekkie laat spring.
In die voorwedstryd in die NRU reserweliga het Kudus se tweede span Dolphin met 29-9 geklop.
Maar ook in dié wedstryd was Dolphin rustyd nog met 9-7 voordat Kudus in die tweede helfte vlamgevat het.

REHOBOTH WEN SUIDE-DERBY
Rehoboth Rugbyklub met 22-18 die knoop deurgehaak in sy wedstryd teen sy buurklub Reho Falcon by die veld van die Hoërskool Rehoboth.
Vir die wenspan het sewentien punte (vyf strafdoele en ’n doelskop) van die skopvoet van hul heelagter Howard Titus gevloei. Dit was nadat die agtsteman Charl Freygang in die eerste helfte hul enigste drie gaan druk het.
Reho Falcon se driedrukkers was Collin de Koe, Reginald Araeb en Steward Swartz. Xavier van Wyk het ’n doelskop bygevoeg en Greg Stein ’n strafdoel.
In die reserweliga was ewe min te kies voordat Falcon se tweede span met 24-20 aan die wenkant was.

Tags: 
Andrew Poolman

O.20’s: Thompson waag op skrumskakel

$
0
0
O.20’s: Thompson waag op skrumskakel

Andrew Poolman - Namibië se finale toergroep is bekend gemaak vir die onder 20 rugbytoer na Zimbabwe waar die Wêreld Junior Trofee-toernooi vanaf 15 April gehou word.
Die Namibiërs is geloot om hul groepwedstryde teen die VSA (19 April), Spanje (vier dae later) en Hongkong (27 April) te speel. Al agt spanne sal ook op 1 Mei in die uitspeelwedstryde vir die finale plekke betrokke wees. Die gasheerspan Zimbabwe het drie geharde groepteenstanders in Samoa, Fidji en Uruguay.
Afrigter Roger Thompson het nog nie sy kaptein vir die toer aangekondig nie. Hy het gister aan die koerant gesê dié aanwysing sal tydens die finale oefenkamp in Windhoek vanaf 21 tot 28 Maart gedoen word.
Een van Thompson se insluitings wat ietwat uit die bloute kom, is dié van Milaan van Wyk as die tweede skrumskakel ná Jerome Beukes, sy ou skoolmaat.
Van sy o.18 Cravenweek-dae af is Van Wyk ’n vleuel wat later ook soms deur sy klub Unam as senter gebruik is. Hy was ook verlede jaar een van die o.20-staatmakers op die toer na Portugal.
“Milaan se insluiting as ’n skrumskakel is ’n projekkie waarmee ek reeds sowat drie weke besig is. Ek glo hy het baie potensiaal in dié posisie en ek het besluit om hom te kies bo die ander skrumskakels wat by die proewe te sien was,” sê Thompson.
Thompson, wat ook in 2015 die hoofafrigter van die o.20’s en die vorige jaar die hulpafrigter vir Jan Dames was, sê sy ondervinding in die toernooi is dat opponente soms munt slaan deur hoë skoppe te laat neerdaal wanneer Namibië se vleuels aan die kort kant is, soos Van Wyk.
“Unomasa Kavita is wel ook nie lank nie, maar was met sy fiksheidstoetse een van die uitstaande spelers. Met sy vaart verskaf hy ’n X-faktor wat in wedstryde handig te pas kan kom.”

GEEN DIVAN ROSSOUW
Thompson sê hy het ’n boodskap van Divan Rossouw gekry dat die Blou Bulle hom nie vrystelling gegee het om vir die Namibiese o.20’s beskikbaar te wees nie.
Dié flink heelagter van Tuks kwalifiseer steeds as ’n o.20-speler, maar is vroeg vanjaar in die Bulle se Superrugby-groep ingesluit. Hoewel afrigter Nollis Marais hom nog nie in ’n Super-wedstryd ingespan het nie, sal die Bulle verstaanbaar huiwerig wees om hom sommerso te laat gaan omdat die Curriebeker ook in April afskop.
Thompson is nietemin in sy skik om Stiaan van der Merwe vir die 15-trui te hê. Die speler is sedert verlede jaar by die Sharks Akademie, maar het in 2015 sy kans by die o.20’s misgeloop toe hy kort voor die proewe beseer geraak het.
“Stiaan het ’n geleerde skopvoet wat vanuit die laaste vesting vir ons verligting kan bring en spel kan verplaas. Hy het ook ervaring op losskakel indien enigiets skeefloop met ons twee baie talentvolle nommer tiens, Henrique Olivier en Cliven Loubser.”
Die spelers op die amptelike kortlys in geval van beserings of onttrekkings is: Norman Erasmus (stut, Walvisbaai Hoërskool), Jeandre Cloete (Rehoboth Rugbyklub, Dr. Lemmer), Nico Poggenpoel (slot, Walvisbaai Hoërskool), Tjingairi Katjavivi (flank, Jan Möhr), Demaschau Beukes (skrumskakel, United, Whk Gim), Romanzo Lento (vleuel, Unam, HS Mariental) en P.W. Steenkamp (losskakel/heelagter, Elnatan).
Die bestuurslede wat reeds bevestig is, is Roger Thompson (afrigter), Gabriel Tjombe (spanbestuurder), Wilfred Bezuidenhoudt (spandokter) en Steffi van Wyk (krag- en kondisioneringsafrigter).
Na verwagting behoort ’n hulpafrigter en ’n fisioterapeut ook bygevoeg te word voordat die toer aanbreek.
Die Namibiese spelersgroep is (oorblywendes van 2015 met * aangedui:

STUTTE
* Antonio Tripodi (Pukke, United, HS Stellenbosch)
* Hans Breedt (Pukke, Tsumeb Gimnasium)
Arno von Wielligh (United, Whk Gim)
Sam Kuvare (Windhoek Gimnasium)
Marino Goagoseb (Windhoek Hoërskool)

HAKERS
* Wildré Smith (Sharks Akademie, Whk Gim)
Obert Nortjé (Unam, Windhoek Hoërskool)

SLOTTE
Rheinhardt Carelse (Unam, Hoërskool Etosha)
Johan Luttig (Wanderers, Windhoek Affies)
Le Beau du Preez (Whk Gim)

LOSVOORSPELERS
* Johan de Klerk (Pukke, Tsumeb Gimnasium)
* Cameron McNab (Univ. van Johannesburg, HS Dr. Lemmer)
* Cameron Langenhoven (Unam, Walvisbaai Hoërskool)
Riaan de Klerk (Walvisbaai Hoërskool)
Allie Emamdien (Unam, Tsumeb Gimnasium)

SKRUMSKAKELS
Jerome Beukes (Unam, Whk Gim)
* Milaan van Wyk (Unam, Whk Gim)

LOSSKAKELS
* Henrique Olivier (NMMU, Whk Gim)
Cliven Loubser (WP Rugby-akademie, Whk Gim)

SENTERS
Hillian Beukes (Rehoboth Rugbyklub, HS Dr. Lemmer)
Brandon Groenewald (WP Rugby-akademie, Whk Gim)
Janry du Toit (WP Rugby-akademie, Elnatan)

VLEUELS
Gino Wilson (Western Suburbs, HS Angra Pequena)
Unomasa Kavita (Unam, Windhoek Hoërskool)
Alister Miller (WP Rugby-akademie, Walvisbaai Hoërskool)

HEELAGTER
Stiaan van der Merwe (Sharks Akademie, Elnatan)

Tags: 
Andrew Poolman

Basson se topbestuur voor verkiesing

$
0
0
Basson se topbestuur voor verkiesing

Andrew Poolman - Lig word môre gewerp op die vlak van eensgesindheid in plaaslike rugby wanneer dit verkiesingstyd by die algemene jaarvergadering van die Namibië Rugby-unie word.
Geen uitdager is benoem om teen mnr. Bradley Basson as NRU-president te staan wanneer die jaarkongres by die Hotel Safari in Windhoek gehou word nie.
Basson het in Maart 2012 oorgeneem by sy voorganger Buks Bock, wat ná die vorige jaar se Wêreldbeker bedank het. Basson mag volgens die NRU se grondwet vir nog een termyn van twee jaar aan die stuur van die beheerliggaam bly.
In verskeie van die ander posisies in die topbestuur is veranderinge egter wel moontlik.
In beide die ampte van visepresidente is kandidate benoem om teen die huidige persone opgeweeg te word.
Vir visepresident van bestuursake (“governance”) is mnr. Stanford Isaacs en die prokureur mnr. Petrie Theron as kandidate benoem. Die man in die saal vir die afgelope vier jaar, mnr. Danie Strauss, is ook weer verkiesbaar.
Vir visepresident van rugbysake is die nominasies mnre. Corrie Mensah (benoem deur Unam) en Ivan Gaya (United).
Mensah het in die vorige termyn hierdie amp beklee voordat hy bedank en ’n leidende rol in 2015 se beswaarde groep in die maande voor die Wêreldbeker gespeel het.
In die res van die besluitnemende struktuur behoort mense soos Jacky Husselmann (skeidsregtersvereniging), Hans Hashagen (finansies), Corné Powell (spelersverteenwoordiger) en adv. Louis Botes (regsake) onbestrede te bly omdat geen teen-nominasies ontvang is nie, terwyl Tommy Mbeeli en Randall Louw wel uitdagers vir hul posisies as streekverteenwoordigers sal hê.
Potensiële nuwe bloed wat vir insluiting in die topbestuur benoem is, is David van Kradenburg (benoem deur Karas), Johan Ockhuizen (Hardap), Winton van der Westhuizen (Erongo), Elmo Kurz (Erongo), Petrie Theron (Noorde), Matthew Haitota (benoem deur Western Suburbs) en Celeste Becker Van Rooi (Reho Pandas).
Kurz en Van Kradenburg het in Mei 2015 saam met Mensah uit die topbestuur bedank.
Soos gebruiklik sal die NRU se finansiële state voorgelê word en sal voorgestelde wysigings aan die grondwet ter tafel gelê word.
As waarnemer sal mnr. Mervin Green van Saru en verteenwoordiger van Rugby Afrika (voorheen die Konfederasie van Afrika-rugby) ook ’n spreekbeurt gegun word.
Na afloop van die verkiesings word voorsien dat Basson as president sy visie vir die NRU vir die volgende vierjaarperiode sal uiteensit.

Tags: 
Andrew Poolman

NRU kies leiers vir volgende twee jaar

$
0
0
NRU kies leiers vir volgende twee jaar

Andrew Poolman - Mnre. Ivan Gaya en Petrie Theron is die naweek as nuwe visepresidente van die Namibië Rugby-unie verkies – onderskeidelik verantwoordelik vir rugbysake en bestuursake (“governance”).
By Saterdag se algemene jaarvergadering van die NRU is dié twee onbestrede verkies. Die 33-jarige Gaya was tot dusver die voorsitter van Trustco United. As uitgetrede stut van Namibië in drie toetse tussen 2004 en 2008 geniet hy beduidende geloofwaardigheid sover rugbysake betref.
Theron, wat in Windhoek as prokureur sy eie praktyk bedryf, neem die plek van mnr. Danie Strauss wat hom nie vir nog ’n termyn verkiesbaar gestel het nie.
Nog twee NRU-raadslede wat streke verteenwoordig, mnre. Tommy Mbeeli en Randall Louw, sal elk nog ’n termyn van twee jaar dien. Hulle is ook onbestrede verkies toe hul uitdagers die vergadering verlaat het.
Lede van sommige klubs wat verlede jaar se beswaarde groep ondersteun het, het reeds voor die verkiesingsproses uit die vergadering gestap.
Die kern van die tweespalt het na verneem word oor stemgeregtigheid gedraai. Volgens die NRU-grondwet word verteenwoordigende partye (dikwels die verafgeleë klubs) toegelaat om volmag aan ’n ander stemgeregtigde oor te dra.
Terwyl sekere lede se volmagte ongeldig volgens die vereiste prosedure bevind is, het Wanderers se voorsitter, Flip Louw, benewens sy eie klub se stemreg nog vyf ander volmagte gehad, naamlik die Etosha rugbyklub van Tsumeb, Oshakati Rebels, Grootfontein, Paresis en Otjiwarongo.
Ná beraadslaging is bevind dat sekere volmagte en kandidate vir die verkiesing wel kon deelneem.
Daar was uiteindelik 21 stemgeregtigde lede, voordat Reho Falcon, Rehoboth, Western Suburbs, die Universiteit van Namibië en Kudus uitgestap en al hul benoemings teruggetrek het. Kandidate soos mnre. Stanford Isaacs, Corrie Mensah en andere het dus ook onttrek uit die posisies gestaan waarvoor hulle benoem was.
Die vergadering het nietemin met ’n kworum voortgegaan. Die NRU het die naweek ook magtiging gegee vir ’n afsonderlike maatskappy om gestig te word om sy professionele bedrywighede en geldinsameling te hanteer.
Hierdie stap is in pas met wêreldwye neigings in die sport en word ook in oorleg met Wêreld­rugby gedoen.

Tags: 
Andrew Poolman

6-7-8’s van oral vereer Burger, Joubert

$
0
0
6-7-8’s van oral vereer Burger, Joubert

Die Londense rugbyklub Saracens het onlangs ’n aangrypende dinee ter verering van die Namibiër Jacques Burger en Ernst Joubert, voorheen van die Goue Leeus, gehou.
Die twee legendariese losvoor­spelers het volgens die klub se webblad onderskeidelik 104 en 161 keer vir Saracens uitgedraf, voordat Joubert einde verlede jaar uitgetree het. Burger het ook aangedui dat hy sy rugbystewels gaan ophang sodra
sy kontrak binnekort aan die einde van die huidige Engelse seisoen verstryk.
“Ek is beseer op die oomblik en dis nog onduidelik wanneer ek weer sal kan speel. Die huldeblyk-aand was ’n ongelooflike sukses. Amper 500 mense het betaal om te kom. Ons kon beswaarlik glo dat soveel mense ons ondersteuning gegee het.
“Die tema was 6-7-8 en ons het wêreldklas losvoorspelers genooi om gaste te wees. ’n String bekendes soos Chris Robshaw, Billy Vunipola, Maro Itoje, Samu Vunisa, Francois Louw, Gerrit-Jan van Velze, George Smith, Serge Betsen, Richard Hill, Jackson Wray, Will Fraser, Andy Saull, Kelly Brown, Tom Wood, Ashley Johnson, Don Barrell, Paul Gustard, Steve Borthwick, Phil Dowson, Todd Clever, Michael Rhodes, Mouritz Botha, Tinus du Plessis en Alex Sanderson was daar.
“Die manne het hul eie tyd opgeoffer om ons te ondersteun. Dit was ’n ongelooflike aand en ons was baie dankbaar en geëerd om so ’n klomp legendariese spelers daar te hê,” sê Burger.
• Burger is intussen ook ingesluit op die Engelse koerant The Telegraph se lys van die 15 spelers van verskeie eras wat die meeste waagmoed op die rugbyveld gewys het.
“Burger was nie een van rugby se skaam en bedeesde figure nie. Die letselweefsel wat stroompies op
sy gesig vorm en ’n skouspelagtige neus wat gereeld gebreek is, vertel sy eie verhaal,” word in die rugbyskrywer se motivering van sy insluiting vertel.
“Burger het eens vertel dat hy soms beswaarlik uit die bed kon klim, met pyn oral. ‘Dit voel asof jy in ’n karongeluk was. Jy sê vir jouself jy sal nie die volgende dag kan gaan oefen nie. Maar nogtans gaan doen jy dit altyd weer. Rugby is ’n brutale sport, maar ek sal dit vir niks ter wêreld verruil nie. Ek is mal daaroor.’ ”
The Telegraph se 15 “dapperste rugbyspelers van alle tye” is:
1. Shane Williams (Wallis)
2. Tim Horan (Australië)
3. Fabien Galthie (Frankryk)
4. Fergus Slattery (Ierland)
5. JPR Williams (Wallis)
6. Jonny Wilkinson (Engeland)
7. Brian O'Driscoll (Ierland)
8. Schalk Burger (Suid-Afrika)
9. Richie McCaw (Nieu-Seeland)
10. Joost van der Westhuizen (Suid-Afrika)
11. Wayne (Buck) Shelford (Nieu-Seeland)
12. Jean-Pierre Rives (Frankryk)
13. Martin Johnson (Engeland)
14. Lewis Moody (Engeland)
15. Jacques Burger (Namibië)

Tags: 
Andrew Poolman

Falcon bederf United se aand

$
0
0
Falcon bederf United se aand

Sportredaksie - Die ontwaking van Reho Falcon om ’n onverwagse oorwinning teen Trustco United in Windhoek te behaal, was straks een van die mees betekenisvolle oomblikke van rondte vier van die Namibië Rugbyunie se premierliga die afgelope naweek.
Afrigter Ronaldo Pedro se manne het in die tweede helfte met ’n merkwaardige terugvegpoging die knoop deurgehaak om ’n oorwinning met 22-20 op Gemsbokpark in Olympia te behaal.
Rustyd was United met 13-3 voor danksy ’n drie deur vleuel Nandi Karuuombe, wat deur ’n doelskop en twee strafdoele deur sy kaptein en slot Winmar Rust aangevul is.
Kort daarna het die bloues hul voorsprong tot 20-3 vergroot toe die senter Handré Bezuidenhout ’n verdoelde drie behaal het.
Al die praatjies van Falcon se kommerwekkende gebrek aan ondervinding, of dat die klub vanjaar in ’n boufase is, het by die venster uitgevlieg toe die swart truie die gasheerspan eers ingehaal en toe verbygesteek het. Falcon se fiksheid en verdediging is van die aspekte waarop die oorwinning gebou was wat sonder hul nasionale slot-kandidaat, Denzil van Wyk, behaal is.
Skeidsregter Danie Koen het gereeld strafskoppe teen United toegeken, waarvan Collin de Koe, Falcon se losskakel vir die aand, vyf op ’n streep deur die pale gestuur het. In die laaste tien minute het die besoekers se agtsteman Milando Titus die wendrie gaan druk.
Die nederlaag is waarskynlik nie wat Karuuombe en Tuna Amutenya in hul 50ste wedstryde vir United sou wou hê nie.

HINGSTE GANS TE STERK
Selfs sonder elf onbeskikbare spelers wat in aanmerking is om komende naweek vir die Windhoek Draught Welwitschias in hul eerste Curriebeker-wedstryd teen die Vrystaat Cheetahs in Bloemfontein te speel, het FNB Wanderers sy stand as ligavoorloper verder vergroot.
Met tien drieë teen nul het die Wit Hingste die maksimum van ses ligapunte bygevoeg toe hy Dolphin met 68-3 verniel het.
Al die plaasververvangers vir wie afrigter JP Nel ingespan het, het hul kant gebring in nog ’n seepgladde vertoning vir Wanderers, wat nou op 22 ligapunte sewe voor hul naaste teenstander is.
Die Swakopmunders se gebrek aan diepte word vererger wanneer hulle buite die kusdorp moet speel en van hul spelers wat by myne werk, nie beskikbaar is nie. Saterdag het hulle ook ’n string nuwe beserings opgedoen – veral toe hul kaptein en agtsteman Ngumee Ngaiko in die tweede helfte harsingskudding opgedoen het en ’n draai by die hospitaal moes gaan maak.
Hul afrigter, Eben Izaacs, was nietemin agterna hoopvol dat Dolphin namate die seisoen vorder, meer gewoond sal raak aan die stampe en stote van 80 minute in die premierliga.
Rustyd was Wanderers met 21-3 voor, maar toe skeidsregter Harry van Niekerk in die tweede helfte nie ’n enkele strafskop aan Dolphin toeken nie, het die Swakopmunders dit nooit weer verder as die opponente se tienmeterlyn gemaak nie.
Flank Virgil Bampton en stut Greshwill Coetzee is reeds in die eerste helfte af en Dolphin-spelers (later selfs van die reserwes) het gereeld met beserings bly lê. Die frustrasie was in ’n stadium so opmerkbaar dat van die manne selfs hardop oorweeg het om van die veld te stap en die stryd gewonne te gee.
Linkervleuel Heico Prinsloo het nie net die eerste en die tiende drie vir Wanderers gedruk nie, maar sy skopvoet was bykans ook onfeilbaar.
Net Prinsloo se negende poging uit tien het nie die kol getref nie, wat sy bydrae vir die dag op 28 punte te staan bring.
Skrumskakel Enem Kritzinger het ook uitgeblink met vier drieë, terwyl sy spanmaats Shawn Thomas (vleuel), flanke Alberto Engelbrecht en Wikus Jacobs en die senter Francois Wiese ook elkeen ’n drie gedruk het.

REHOBOTH VEG TERUG
Rehoboth Rugbyklub het sy tuiswedstryd teen Kudus van Walvisbaai met 26-22 beklink, hoewel dié wenspan ook rustyd agter was (15-6) en eers later sy volspoed bereik het.
Spelers wat vir Rehoboth beïndruk het, was Desmond Snyders wat weer terug is, die o.20-senter Hilian Beukes en die jong flank Kurt Stellmacher.
“Kevin Cloete was op haker soos Akker van der Merwe van die Leeus en dit het gelyk of hy al die jare as senter die verkeerde posisie gespeel het,” sê die wenspan se bestuurder, Marschell Diergaardt.
Carl-William Freygang wat vroeër vir die tweede span gespeel het, het as reserwe opgekom en het baie sterk geskrum, sê Diergaardt.
Skrumskakel Howard Titus het soos gewoonlik goed geskop vir vier strafdoele, asook die twee doelskoppe vir die drieë deur Stellmacher en vleuel Reduan Beukes.

UNAM KLOP WALVIS
Die verdedigende kampioene, die Universiteit van Namibië, het verseker dat Walvisbaai vir nog ’n week die enigste wenlose span bly.
Soos verwag het Johan Diergaardt se manne met 40-6 te veel skietgoed gehad in dié ontmoeting op Swakopmund.
’n Driekuns deur die vleuel Shareave Titus, met verdere drieë deur Chessborough Lawrence, Bigman Kaura en Max Katjijeko, het die knoop vir die studentespan deurgehaak.
Heelagter Lorenzo Louis het met vyf uit ses doelskoppogings die kol getref.
Unam (12 punte) het in die derde plek ingeskuif ná FNB Western Suburbs (14) wat ’n afnaweek gehad het. Reho Falcon bevind hom in die vierde plek op die premierliga se puntelys met tien, terwyl United (8) tot die sesde plek teruggesak het. Vyfde is Rehoboth (9) en Kudus (5) is sewende.
• In die reserweliga het Rehoboth se tweede span ook met 35-26 teen Kudus gewen. Die kampioene Wanderers II was met 85-3 baas teen Dolphin II. Unam se tweedes het die West Coast Sharks met 32-22 oorskadu, terwyl United met 20-17 deur Reho Falcon geklop is.
Tellings in die eerste liga is soos volg ontvang: Oranjemund 39-22 Rosh Pinah; Keetmanshoop 23-12 Lüderitz; Tsumeb 22-13 Oshakati; United III 37-10 Jaguars; Mariental 57-17 Eastern Bulls.

Tags: 
Andrew Poolman

Kitshoff lei Curriebeker-terugkeer in Bloemfontein

$
0
0
Kitshoff lei Curriebeker-terugkeer in Bloemfontein

Andrew Poolman - Afrigter John Williams het met sy spankeuse vir die Windhoek Draught Welwitschias se botsing teen die Vrystaat Cheetahs in Bloemfontein gewys dat hy nie vir waagstukke terugdeins nie.
Namibië maak vanjaar sy terugkeer tot die Curriebekerreeks – vir die eerste keer sedert 1989, ’n jaar voor die land se onafhanklikwording.
Saterdag se wedstryd in die Vrystaatstadion word regstreeks op SuperSport vertoon (afskop om 13:30 Namibiese tyd).
Mahco Prinsloo in die nommer tientrui is maar net een van verskeie insluitings wat plaaslike rugbykykers se wenkbroue kan laat lig. Die speler het tevore die nasionale junior span verteenwoordig, maar het sedertdien selde die wêreld aan die brand gespeel.
Hoewel Prinsloo vir die laaste seisoen of wat by sy klub FNB Wanderers tweede viool teen MP Pretorius speel, het hy ten minste heelwat meer ondervinding van senior rugby as wat vroeg verlede jaar met Henrique Olivier die geval was. Olivier was nog vars uit die skoolbanke toe die afrigterspan hom in die Vodacombeker ’n vuurdoop soos min gegee het.
Die flank Rohan Kitshoff sal die Welwitschias aanvoer nadat hy onlangs na Windhoek verhuis het. Hy is tans die enigste spanlid wat tevore enige Curriebeker-rugby (vir Griekwas en die Westelike Provinsie) gespeel het.
In die wedstrydgroep is Kitshoff en die agtsteman Leneve Damens die enigste voorspelers wat van 2015 se Wêreldbekerspan oorbly.
Agterlangs lyk sake darem beter met Darryl de la Harpe, JC Greyling, Russell van Wyk en Johann Tromp wat die groot WB-toerkans na Engeland gekry het.
Terwyl sommige ervare en talentvolle spelers wat in Februarie in die nasionale oefengroep ingesluit is, steeds hul neuse optrek of bedenkinge het om hulself beskikbaar te stel, het Williams die uitdaging aanvaar om die diepte in plaaslike rugby uit te bou deur spelers te laat swem of sink in Suid-Afrika se mees aansienryke provinsiale kompetisie.
Die afrigter het uiteraard ook nie luuksheid om die land se professionele spelers van buite die landsgrense nader te roep nie, hoewel spesiale ooreenkomste dalk mag ontstaan namate die seisoen vorder. Die Curriebeker duur immers tot in Oktober en speelkans vir verdienstelike kandidate is daar dus oorgenoeg.
Gerhard Lötter, seun van die oudsenter van Suidwes se goue era, Wim Lötter, is ook ’n nuwe gesig in ’n senior Namibiese trui, hoewel hy tevore die land se o.20-kaptein was en daarna vir ’n tyd van die toneel verdwyn het. In drie klubwedstryde vir Wanderers het die jongman klaarblyklik sy stempel afgedruk.
Die reserwehaker kom ewe veel uit die bloute. Joe Hermann se pa met dieselfde naam het ook in die laat 1980’s die land se trui as losvoorspeler oor die kop getrek. Die oudskolier van Walvisbaai het later die Pumas se o.21-kaptein geword voordat hy na die weskusdorp teruggekeer en as agtsteman vir Kudus die oog begin vang het.
Reho Falcon se slot Denzil van Wyk, op die reserwebank, is die enigste ander spanlid wat nog nie tevore vir ’n Namibiese span in die Vodacombeker of in toetsrugby uitgedraf het nie.
Die Windhoek Draught Welwitschias se span teen die Vrystaat:

1 Quintin Esterhuizen (FNB Wanderers)
2 Gerhard Lötter (FNB Wanderers)
3 Collen Smith (Trustco United)
4 Muniovita Kasiringua (FNB Unam)
5 Ruan Ludick (FNB Wanderers)
6 Rohan Kitshoff (kaptein, FNB Wanderers)
7 Leneve Damens (FNB Wanderers)
8 Roderique Victor (FNB Western Suburbs)
9 Arthur Bouwer (FNB Wanderers)
10 Mahco Prinsloo (FNB Wanderers)
11 Malcolm Moore (FNB Wanderers)
12 Darryl de la Harpe (FNB Western Suburbs)
13 JC Greyling (FNB Wanderers)
14 Russell van Wyk (FNB Western Suburbs)
15 Johann Tromp (FNB Wanderers)
Reserwes: 16 Joe Hermann (Kudus), 17 Hauta Veii (FNB Unam), 18 Shaun du Preez (FNB Wanderers), 19 Denzil van Wyk (Reho Falcon), 20 JC Winkler (FNB Western Suburbs), 21 Shaun Kaizemi (FNB Western Suburbs), 22 Riaan van Zyl (FNB Wanderers).
Die span sal benewens Williams ook deur die bestuurslede Roger Thompson (hulpafrigter), PD Stoman (krag en kondisionering), Aidan Fredericks (spandokter), me. Corné Ferreira (fisioterapeut), Danie von Solms (spanbestuurder) en Ivan Gaya (die NRU se visepresident vir rugbysake) vergesel word.

Tags: 
Andrew Poolman

Kasiringua en sy maats oorgehaal vir Cheetah-botsing

$
0
0
Kasiringua en sy maats oorgehaal vir Cheetah-botsing

Andrew Poolman - Die verbetering wat Namibië verlede jaar tydens sy deelname aan die Vodacombekerreeks getoon het, het aan die spelers gewys dat elke geleentheid aangegryp moet word wanneer die Windhoek Draught Welwitschias komende Saterdag ná meer as twee dekades ul terugkeer tot die Curriebekerreeks maak.
So sê die slot Muniovita Kasiringua, wat in die beginspan vir die botsing teen die Toyota Vrystaat Cheetahs in Bloemfontein ingesluit is.
Kasiringua sê hy het baie vertroue in die spelersgroep wat afrigter John Williams vir die openingswedstryd byeen gebring het.
“Toe verlede jaar se Vodacombeker begin het, het ons klubprogram nog nie eens begin nie. Vanjaar het die meeste spelers darem al so drie klubwedstryde in die NRU premierliga agter die blad. Die kontakfiksheid en die speeltyd behoort ons reeds op ’n beter voet te plaas as toe ons in 2015 begin het.”
Die slotposisie is een waarin Namibië tradisioneel nie baie diepte ondervind nie, maar Kasiringua is een van die groter manne en sal ’n belangrike rol vervul in die fisieke aanslag wat van die Vrystaters verwag kan word.
“My taak is om die bal te dra, sterk te skrum en lynstaanbesit te wen. Dit is my sterk punte en ek sal my gewig ingooi,” het die kaptein van die Universiteit van Namibië gesê. Hy het sy klubspan verlede jaar na sy eerste NRU premierliga-titel in sy bestaan gelei.
Sy slotmaat Ruan Ludick is een van die span se nuwelinge wat vir die eerste keer ’n Namibiese trui van enige aard oor die kop sal trek. Ludick het twee jaar gelede sy skoolloopbaan by Windhoek Gimnasium afgesluit en sal met sy lang lyf van meer as twee meter een van die Welwitschias se ooglopende teikens vir skoon lynstaanbesit wees. Dit is nie aldag dat enigiemand Kasiringua (120 kg en 1.98 meter) fisiek in die skadu stel nie.
“Vanjaar se Curriebeker is ’n lang reeks en as verlede jaar se ondervinding ons enigiets geleer het, is dat elke geleentheid aangegryp moet word wanneer dit hom voordoen.”

GESKIEDENIS
Met Namibië se herdenking van die 100-jarige bestaan van georganiseerde rugby in die land, sal Republikein af en toe brokkies uit die geskiedenis uitlig.
Die destydse Damaraland Rugby-unie is volgens die geskiedskrywer wyle Capri Badenhorst se boek in Maart 1916 op die been gebring.
“Die nege persone wat die leidende rol in hierdie saak gespeel het, was mnre. WJG Anderson, Edmunds, Bone, Hauptfleisch, Louw, Meyer, Pietersen en Snyman. Anderson die eerste skoolhoof van Windhoek Hoërskool, was die dryfveer agter die poging en hy was soos verwag was, as die eerste voorsitter van die unie gekies – ’n pos wat hy onafgebroke beklee het tot sy aftrede en vertrek uit Windhoek na Oranjemund,” skryf Badenhorst.
Volgens sy boek word Suidwes-spanne vanaf 1952 aangeteken wat in wedstryde teen Suid-Afrikaanse unies en ander opponente betrokke was. ’n Suidwes-span het reeds in Junie 1952 vir die eerste keer teen die Vrystaat in Bloemfontein gaan speel en het met 11-15 verloor.
Sonder twyfel een van die blinkste rugbyjare van die bedeling voor onafhanklikwording was in 1988, nadat Gerhard Mans se span die vorige jaar bevordering tot die A-afdeling van die Curriebeker bewerkstellig het. Die span het uiteindelik in ’n merkwaardige derde plek klaargemaak ná die twee finaliste, Noord-Transvaal en die Westelike Provinsie.
In die 1988-seisoen is die Curriebeker in ’n dubbelrondte (tuis en weg) gespeel. Mans-hulle het die Vrystaat in Windhoek met 21-9 verslaan, voordat hulle in hul laaste wedstryd in Bloemfontein met 15-29 die knie moes buig.
Die 1989 Curriebeker se twee botsings teen die Vrystaat het met ’n naelskraapse nederlaag in Bloemfontein (12-18) begin. Op 23 September 1989 is die Suidwes rugby-era vir ewig afgesluit met ’n oorwinning teen die einste Vrystaat in Windhoek (22-18).
Merkwaardig is dat die flank in laasgenoemde wedstryd, Joe Hermann van Walvisbaai, se seun met dieselfde naam komende naweek die reserwehaker vir die Windhoek Draught Welwitschias se terugkeer tot die kompetisie sal wees.
Hermann junior is net een afstammeling van die destydse rugby-era wat ook prominente figure in Namibiese rugby geword het. Ander voorbeelde sluit in die senter Johan Deysel junior, skrumskakel Eneill Buitendag (seun van Basie), haker Gerhard Lötter (seun van Wim), Léan Stoop (seun van Leon en neef van André) en TC Losper (seun van Sarel).
• In gister se publikasie van die aankondiging van die Welwitschias-span is die naam van reserwe nommer 22, die veelsydige agterspeler Riaan van Zyl, per abuis weggelaat. Van Zyl sal saam met Ludick, Lötter, Hermann, losskakel Mahco Prinsloo en die reserweslot Denzil van Wyk die nuwelinge wees wat vir die eerste maal ’n senior Namibiese trui oor die kop sal trek.
• Nog ’n regstelling op gister se berig is dat die agtsteman Leneve Damens nie meer soos verlede jaar aan FNB Wanderers verbonde is nie, maar intussen by FNB Unam aangesluit het.

WEDSTRYDPROGRAM
Die Windhoek Draught Welwitschias se wedstrydprogram in die kwalifiserende rondte vir die Curriebeker premierliga (afskoptye in Namibiese wintertyd):
9 April, 13:30 tn Toyota Vrystaat, Toyota-stadion, Bloemfontein
16 April, 15:00 tn Xerox Goue Leeus, Hage Geingob-stadion
23 April, 14:00 tn Cell C Sharks King Zwelithini-stadion, Durban
30 April, 15:00 tn Oostelike Provinsie Kings, Hage Geingob-stadion
7 Mei, 14:00 tn Steval Pumas, Ermelo
14 Mei, 15:00 tn ORC Griekwas, Hage Geingob-stadion
21 Mei, 13:30 tn Luiperds, Potchefstroom
28 Mei, 15:00 tn Touch Down Griffons, Hage Geingob-stadion
11 Junie, 13:10 tn Hino Valke, Kemptonpark
18 Junie, 15:00 tn SWD Arende, Hage Geingob-stadion
25 Junie, 15:00 tn Boland Kavaliers, Wellington
2 Julie, 15:00 tn Grens Bulldogs, Hage Geingob-stadion
15 Julie (Vrydag), 16:00 tn Vodacom Blou Bulle, Loftus Versfeld, Pretoria
23 Julie, 15:00 tn DHL Westelike Provinsie, Hage Geingob-stadion

Tags: 
Andrew Poolman

Suburbs lugtig vir Rehoboth

$
0
0
Suburbs lugtig vir Rehoboth

Andrew Poolman - Die afwesigheid van 22 spelers in die Curriebeker-groep sal geensins afbreuk doen aan die erns waarmee die agt klubs in môre se NRU premierliga mekaar môre gaan takel nie.
’n Span soos Trustco United bevind hom skielik in die sesde posisie op die puntelys, hoewel hy net een van sy drie wedstryde verloor het.
Die onverwagse glips op hul tuisveld laas Vrydagaand teen Reho Falcon bring mee dat afrigter Jood Opperman en sy manne die druk kan begin voel indien hulle nóg verder agter raak deur nie môre teen die verdedigende kampioene, FNB Unam, punte in te samel nie.
Unam sal boonop die voordeel van ’n invloedryke tuisskare hê. Die studente het laas naweek gebaljaar teen Walvisbaai rugbyklub en is tans in die derde posisie op 12 punte. Unam sou eers gisteraand sy spankeuse afhandel.
Jood Opperman, wat net die stut Collen Smith aan die Curriebeker-span moes afstaan, het gister laat weet: “Ek is seker ons het geleer uit die foute wat ons teen Reho Falcon gemaak het en sal definitief nie weer in dieselfde gat trap nie. Die beseringspook bly ook net by ons, want die slot Stephan Neustädt is ook weer uit met ’n kniebesering.
“Die Unam-studente is ’n baie gevaarlike span en kan nie onderskat word nie. My twee stutte is groentjies, maar hulle is heeltemal opgewasse vir die wedstryd.”
Trustco United: 15 Phillip Nashikaku, 14 Stefan Louw, 13 Tuna Amutenya, 12 Handré Bezuidenhout, 11 Nandivatu Karuuombe, 10 Robbie Dickson, 9 Ascher Coetzee, 8 Morné Blom, 7 Cevin Harding, 6 Zayne Groenewaldt, 5 Naudé Neethling, 4 Winmar Rust (kapt), 3 Carl-Heinz Giersch, 2 Dewald Coetzee, 1 Marius Louw.
Reserwes: Francois Cline, Clinton de Klerk, Panduleni Ilonga, Jaco Bonthuys, Martin Cronjé, Morné Blaauw, Moranzel Strauss.

SUBURBSPARK GAAN LEWE
In Khomasdal kom die immer onderskatte FNB Western Suburbs (tweede op 14 punte) teen die besoekende Rehoboth Rugbyklub (vyfde op nege punte) te staan.
Uit Suburbs se geledere sou die plekke van hul vyf nasionale spelers eers gisteraand gevul geword het. Die Khomasdallers het egter laat blyk dat hulle as toeskouers bewus geword het van die vernuf van Rehoboth se baldief op die grond, Kirk Olivier, asook die kragtige lopies waarmee die vlugvoetige haker Kevin Cloete die opposisie besig hou.
Die afrigter van RRK, Eden Meyer, het net twee veranderinge aangebring aan sy span wat verlede naweek teen Kudus gewen het. Op senter sal Chase Diergaardt vir Hilian Beukes vervang wat vanweë verpligtinge by die nasionale o.20-span nie beskikbaar is nie.
Op stut vervang Carl-William Freygang in die beginspan vir Anthony van Wyk, wat na die reserwebank skuif.
“Western Suburbs word beskou as die gunstelinge om op hul tuisveld die wedstryd te wen, maar maklik gaan dit nie wees nie. Ons gaan om hierdie wedstryd te wen. Dit is nou die tyd om te wys wat in ons steek. Ons span begin kry nou momentum en moet daarop voortbou,” sê Rehoboth se spanbestuurder, Marschell Diergaardt.
Rehoboth: 15 Nathan van Wyk, 14 Graham van Wyk, 13 Desmond Snyders, 12 Chase Diergaardt, 11 Reduane Beukes, 10 Nazume Swartz, 9 Howard Titus, 8 Charl Freygang (kapt), 7 Kurt Stellmacher, 6 Kirk Olivier, 5 Eugene Forbes, 4 Winston Swartz, 3 Godwin Goaseb, 2 Kevin Cloete, 1 Carl-William Freygang.
Reserwes: Ian Clark, Fillemon Moses, Gert de Waal, Johann Wohler, Ethan Baron, Yoshiro Klazen, Paulus Hangula, Anthony van Wyk.

WANDERERS REIS NA KUDUS
FNB Wanderers is tans die wegholvoorloper met ’n indrukwekkende 21 ligapunte ná vier wedstryde.
Afrigter JP Nel sou eers gisteraand sy span bekend maak, wat sonder elf spelers in die Namibiese span steeds maalvleis van sy vorige opponente soos Dolphin, Reho Falcon en United gemaak en ook die verdedigende kampioen Unam geklop het.
Kudus, onder afrigterskap van Callie van Wyk, het lanklaas ’n vertoning gelewer wat hul tuisveld in Narraville as die “Huis van Pyn” bekend gemaak het. Kudus (sewende) kan nog net vyf punte vir sy drie wedstryde wys.
’n Beter kans as teen Wanderers sal hulle beswaarlik kry om te wys dat hulle weer soos in 2015 ’n ernstige aanspraak op die semifinale wil maak.
Kudus: 15 Elmo van der Byl, 14 Nicasio Schoombe, 13 Tarasio Croza, 12 Anthony Jake Jevu, 11 Carlton Stevens, 10 Aurelio Plato, 9 Percy Nash, 8 Ernesto Bampton, 7 Immo Dresselhaus, 6 Lee-Uwardo Sitzer, 5 Grandt Nash, 4 Enzio Kotzee, 3 Andries Rousseau, 2 Chris Klassen (kapt), 1 Lorenco Calaza. Reserwes: Robbie Shimbulu, Mark-Anthony Nangoro, Anthony Hoebeb, Irvin Damants, Ricardo Kubas, Ulratio Lauwrence, Ivo Croza.
• Môre se wedstrydprogram in die premierliga:
15:15 FNB Western Suburbs 1 tn Rehoboth 1 by Suburbspark
17:00 FNB Unam 1 tn United 1 by Unam
15:15 Kudus 1 tn FNB Wanderers 1 in Narraville-stadion
15:15 Dolphins 1 tn Walvisbaai 1 op Swakopmund
(Reho Falcon het ’n afnaweek. Elke wedstryd word deur die tweede spanne se botsing in die reserweliga voorafgegaan).

Tags: 
Andrew Poolman

Williams versigtig optimisties oor sy span

$
0
0
Williams versigtig optimisties oor sy span

Andrew Poolman - Enigiets kan gebeur, maar realisties gesproke word nie verwag dat die Windhoek Draught Welwitschias reeds hierdie seisoen een van die drie kwalifiserende plekke vir die Curriebeker sal beklink nie.
Afrigter John Williams en sy span vertrek vandag na Bloemfontein vir hul eerste kragmeting teen die Toyota Vrystaat Cheetahs, in Suid-Afrika se provinsiale rugbyreeks waarin die Namibiese vyftiental teen elk van die 14 unies te staan sal kom.
Die ses unies met Superrugby-status se plek in die latere Curriebeker is verskans, terwyl nog drie kwalifiseerders in die komende uitdunreeks tot einde Julie bepaal sal word.
Rugbykenners meen die Pumas, Griekwas en die Luiperds begin as die gunstelinge en gister het Williams nie hiervan verskil nie.
“Ons berei voor om hierdie seisoen ons man te staan in ’n baie uitdagende kompetisie. Enigiets kan gebeur, maar ek sal nie ontsteld wees as ons nie vanjaar die premierliga haal nie.
“Vanaf 2017 sal dit meer realisties wees om sulke doelwitte te stel. Vir nou is ons eerste strewe om ons kompeterende strukture te versterk, sodat ons amateurspelers gebrei word om algaande ewe sterk en vaardig as die gekontrakteerde spelers te wees.”
Williams voeg nietemin by dat hy in sy noppies met die afgelope weke se voorbereiding is en dat die spelers geweldig na die uitdaging uitsien.
Sy uitspraak beteken natuurlik glad nie dat die Welwitschias môre sku gaan wees om inklimrugby teen die hoër gerekende Vrystaters te speel nie.
Kaptein Rohan Kitshoff het dié boodskap immers reeds dae gelede by sy spanmaats begin inprent.
Toe Maandagaand se oefensessie in die Hage Geingob-stadion ten einde loop, het die spelers en afrigterspan mekaar in ’n kringetjie vasgevat.
Kitshoff vra toe verskoning dat hy soms tydens die oefeninge die manne hard aanpraat om beter te vaar.
“Ouens, ek weet nie hoeveel van julle al in die stadion in Bloemfontein gespeel het nie. Ek hoop jy kry sommer vroeg in die week al daai gevoel op jou maag. Ek hoop nie jy wil eers in die Vrystaatstadion wakker skrik as daai groot mouterbaaiks voor die afskop langs jou brul nie...”
Die laaste keer toe ’n Namibiese span in die Vrystaatstadion uitgedraf het, was waarskynlik in 1996 se Bankfin Aandreeks. Die Vrystaters, met ’n string Springbokke insluitend Helgard Muller, Brendan Venter, Rassie Erasmus, Os du Randt en Naka Drotské, het ’n wegholsege met 111-7 behaal op hul pad as die uiteindelike kampioene. Linkervleuel Stephen Brink het vier drieë gedruk.
Die Welwitschias is egter oorgehaal om van môre af met stewige vertonings sulke herinneringe toenemend te laat vervaag.

Tags: 
Andrew Poolman

Vrystaat te sterk en glibberig

$
0
0
Vrystaat te sterk en glibberig

Tielman van Lill

Trustco United l moes Saterdagaand in die Unam-stadion diep delf om FNB Unam l in die laaste sekondes van hul premierliga-wedstryd met 26-24 te stuit.
Hoewel Tuna Amutenya, United se blitsige buitesenter, sy span se eerste drie binne tien minute van die eerste helfte gedruk het en Winmar Rust (kaptein) verdoel het om sy span met 7-0 te laat verloop, het die skaal binne ’n paar oomblikke skerp in die guns van Unam geswaai.
Johan Diergaardt, afrigter van Unam, se span is ’n gedugte en goed afgerig eenheid met ’n gevaarlike agterlyn. Manne soos Lorenzo Louis (heelagter) en Lesley Klim (buitesenter) kan heel onverwags gapings slaan. Die studentespan het ná die Filistyne se eerste drie beheer oorgeneem en drie vyfpunters binne 24 minute ingeryg.
Ná United se eerste punte op die telbord antwoord Unam ses minute later met sy eerste drie toe Rodney Coetzee, sy losskakel, ná ’n briljante beweging agter die pale omdraf. Lorenzo Louis maak as skopper geen fout nie (7-7). ’n Paar minute later oortree Unam en die betroubare skopvoet van Rust laat die telling tot 10-7 rek.
Die Filistyne se voorsprong was egter van korte duur toe Klim sewe minute ná sy span se eerste drie, ’n gaping op die middellyn slaan om tot binne die kwartgebied van United te hardloop voor Phillip Nashikaku en Robbie Dickson hom gestuit kry. Die fris senter gee egter die bal met ’n uitstekende oorhoofse aangee na regtervleuel Silvano Beukes wat agter die pale gaan afrond. Louis verdoel om Unam met 14-10 voor te plaas.
Rust slaag weer met ’n strafskop (14-13) – die laaste punte vir United in die eerste helfte. Net daarna laat Louis die telling met ’n strafdoel tot 13-17 aangroei.
Die begeesterde Unam loods in die 40ste minuut vir oulaas ’n aanval om buitesenter Camlo Martin sierlik agter die pale te laat oorduik. Danksy Louis se maklike doelskop is die studente met 24-13 in beheer.
Wat afrigters Jood Opperman en Vince Dreyer in die kleedkamer gesê het, sal net die manne in blou weet, maar ná rustyd was dit ’n heel ander groep Filistyne. Hoewel die kragmeting steeds op ’n mespunt gebalanseer was, was die verdediging van United 100 persent beter as tevore en Unam se gevaarlike snellers kon nooit weer deurkom nie.
’n Netjiese skepskop van Robbie Dickson en Rust se betroubare regtervoet het United binne trefafstand gebring (19-24). Hoewel genoeg strafskoppe aan Unam toegestaan is, was dit heeltemal te ver om in skoppunte omskep te word, danksy die gebiedsvoordeel wat United bewerkstellig het.
In die laaste sekondes nael United se regtervleuel Tuna Amutenya teen die linkerkantlyn af om in die hoekie met ’n horde verdedigers van Unam op sy rug oor te val. Onder reusedruk tref Rust sy doelskop suiwer om United l dramaties met 26-24 as wenners van die veld te laat stap.
Johan Diergaardt van FNB Unam was nie vir kommentaar beskikbaar nie, maar sy eweknie Jood Opperman van United was agterna vol lof vir sy spelers wat die knoop deurgehaak het.
“Dit was ’n taai stryd, want Unam is ’n ongelooflike moeilike teenstander. Hulle is ’n goeie span vol talentvolle spelers. In die eerste helfte het ons baie foute gemaak en strafskoppe afgestaan, maar ewe belangrik is dat ons in die tweede helfte kon terugkom om die wedstryd te beklink.
“Ek het vir die ouens gesê om volgens die wedstrydplan te speel en dit het vrugte afgewerp. Ons het gesukkel om deur hul verdediging te kom, maar in die laaste vier minute het ons kopgehou en die beplanning het gewerk. Die oorwinning was broodnodig, want laas Vrydag se loesing (teen Reho Falcon) was onverwags. Hiervandaan kan dinge net beter gaan,” het Opperman gesê.
Hoewel United net die stut Collen Smith aan die Welwitschias moes afstaan, gaan die klub gebuk onder beserings en moes hy sonder sewe gereelde eerstespanspelers opdraf. United I het verlede Vrydag die dienste van Stefan (Duitser) Neustädt verloor toe die staatmakerslot sy knieligamente sleg geskeur het. Hy sal glo dié week op die operasietafel wees en of die ou grote weer gaan speel, is onseker. Ook Handré Bezuidenhout (binnesenter) is Saterdag ná ’n harde hou teen die kop van die veld.

SUBURBS VAT PUNTE
FNB Western Suburbs het in die laaste sekondes sy vierde drie teen Rehoboth Rugbyklub gedruk om ’n bonuspuntsege op sy tuisveld te behaal (30-16), skryf Andrew Poolman.
Die laaste twee drieë deur die reserwesenter Romario van Wyk en linkervleuel Shanic Saban is in die 77ste en 80ste minute behaal om die spyker in te kap. Rustyd was die Khomasdallers reeds met 20-6 voor danksy drieë deur die vleuel Japhet Tjinaho en die heelagter Ricardo Swartz, wat in die wedstryd ook twee strafdoele en twee doelskoppe behaal het.
Vir die Rooi Bulle het skrumskakel Howard Titus twee strafdoele en die doelskop vir die drie van Yoshiro Klazen behaal, terwyl senter Chase Diergaardt ’n strafskop vanuit sy eie helfte oor die dwarslat laat seil het.
Skeidsregter Danie Koen het in die tweede helfte geel kaarte vir Suburbs se voorspelers Brendon Walters (54 minute) en Howard Gawanab (61 minute), asook vir Howard Titus (80ste minuut) gewys.

WANDERERS BLY ONOORWONNE
Dit was nie maklik op ’n warm dag in Narraville op Walvisbaai nie, maar FNB Wanderers het sy voorsprong verder vergroot deur Kudus met 24-18 onder te kry.
Die Wit Hingste, sonder elf Namibiese spelers en nog ’n string beseerdes, was met 24-6 voor, voordat die reserwes later opgestuur is wat vroeër ook in die tweede span gespeel het. Dit was toe Kudus die laaste twee drieë van die dag gedruk het.
Die wenspan het vir ’n slag ’n bonuspunt misgeloop toe net Enem Kritzinger (skrumskakel), MP Pretorius (losskakel) en stut Schalk Bergh drieë gedruk het. Vleuel en skopmasjien Heico Prinsloo het drie keer verdoel en ’n strafskop bygevoeg.
Wanderers staan na dese op 25 ligapunte ná vyf wedstryde. Tweede is Suburbs met 19 ná vier wedstryde.
• Walvisbaai het sy eerste oorwinning van die seisoen gevier toe hy op Swakopmund met 19-15 teen Dolphin gaan wen het.
Vir die verloorspan was Marvin Kotze en Virgil Bampton sy driedrukkers, terwyl Quinton Fielding se bydrae ’n doelskop en ’n strafdoel was.
• In die reserweliga verloor Trustco United ll met 27-20 teen FNB Unam ll en in die eersteliga slaag Unam lll net-net daarin om United lll met 23-20 te oorrompel.

Tags: 
Andrew Poolman

Filistyne op dramatiese wyse baas

$
0
0
Filistyne op dramatiese wyse baas

Tielman van Lill - Trustco United l moes Saterdagaand in die Unam-stadion diep delf om FNB Unam l in die laaste sekondes van hul premierliga-wedstryd met 26-24 te stuit.
Hoewel Tuna Amutenya, United se blitsige buitesenter, sy span se eerste drie binne tien minute van die eerste helfte gedruk het en Winmar Rust (kaptein) verdoel het om sy span met 7-0 te laat verloop, het die skaal binne ’n paar oomblikke skerp in die guns van Unam geswaai.
Johan Diergaardt, afrigter van Unam, se span is ’n gedugte en goed afgerig eenheid met ’n gevaarlike agterlyn. Manne soos Lorenzo Louis (heelagter) en Lesley Klim (buitesenter) kan heel onverwags gapings slaan. Die studentespan het ná die Filistyne se eerste drie beheer oorgeneem en drie vyfpunters binne 24 minute ingeryg.
Ná United se eerste punte op die telbord antwoord Unam ses minute later met sy eerste drie toe Rodney Coetzee, sy losskakel, ná ’n briljante beweging agter die pale omdraf. Lorenzo Louis maak as skopper geen fout nie (7-7). ’n Paar minute later oortree Unam en die betroubare skopvoet van Rust laat die telling tot 10-7 rek.
Die Filistyne se voorsprong was egter van korte duur toe Klim sewe minute ná sy span se eerste drie, ’n gaping op die middellyn slaan om tot binne die kwartgebied van United te hardloop voor Phillip Nashikaku en Robbie Dickson hom gestuit kry. Die fris senter gee egter die bal met ’n uitstekende oorhoofse aangee na regtervleuel Silvano Beukes wat agter die pale gaan afrond. Louis verdoel om Unam met 14-10 voor te plaas.
Rust slaag weer met ’n strafskop (14-13) – die laaste punte vir United in die eerste helfte. Net daarna laat Louis die telling met ’n strafdoel tot 13-17 aangroei.
Die begeesterde Unam loods in die 40ste minuut vir oulaas ’n aanval om buitesenter Camlo Martin sierlik agter die pale te laat oorduik. Danksy Louis se maklike doelskop is die studente met 24-13 in beheer.
Wat afrigters Jood Opperman en Vince Dreyer in die kleedkamer gesê het, sal net die manne in blou weet, maar ná rustyd was dit ’n heel ander groep Filistyne. Hoewel die kragmeting steeds op ’n mespunt gebalanseer was, was die verdediging van United 100 persent beter as tevore en Unam se gevaarlike snellers kon nooit weer deurkom nie.
’n Netjiese skepskop van Robbie Dickson en Rust se betroubare regtervoet het United binne trefafstand gebring (19-24). Hoewel genoeg strafskoppe aan Unam toegestaan is, was dit heeltemal te ver om in skoppunte omskep te word, danksy die gebiedsvoordeel wat United bewerkstellig het.
In die laaste sekondes nael United se regtervleuel Tuna Amutenya teen die linkerkantlyn af om in die hoekie met ’n horde verdedigers van Unam op sy rug oor te val. Onder reusedruk tref Rust sy doelskop suiwer om United l dramaties met 26-24 as wenners van die veld te laat stap.
Johan Diergaardt van FNB Unam was nie vir kommentaar beskikbaar nie, maar sy eweknie Jood Opperman van United was agterna vol lof vir sy spelers wat die knoop deurgehaak het.
“Dit was ’n taai stryd, want Unam is ’n ongelooflike moeilike teenstander. Hulle is ’n goeie span vol talentvolle spelers. In die eerste helfte het ons baie foute gemaak en strafskoppe afgestaan, maar ewe belangrik is dat ons in die tweede helfte kon terugkom om die wedstryd te beklink.
“Ek het vir die ouens gesê om volgens die wedstrydplan te speel en dit het vrugte afgewerp. Ons het gesukkel om deur hul verdediging te kom, maar in die laaste vier minute het ons kopgehou en die beplanning het gewerk. Die oorwinning was broodnodig, want laas Vrydag se loesing (teen Reho Falcon) was onverwags. Hiervandaan kan dinge net beter gaan,” het Opperman gesê.
Hoewel United net die stut Collen Smith aan die Welwitschias moes afstaan, gaan die klub gebuk onder beserings en moes hy sonder sewe gereelde eerstespanspelers opdraf. United I het verlede Vrydag die dienste van Stefan (Duitser) Neustädt verloor toe die staatmakerslot sy knieligamente sleg geskeur het. Hy sal glo dié week op die operasietafel wees en of die ou grote weer gaan speel, is onseker. Ook Handré Bezuidenhout (binnesenter) is Saterdag ná ’n harde hou teen die kop van die veld.

SUBURBS VAT PUNTE
FNB Western Suburbs het in die laaste sekondes sy vierde drie teen Rehoboth Rugbyklub gedruk om ’n bonuspuntsege op sy tuisveld te behaal (30-16), skryf Andrew Poolman.
Die laaste twee drieë deur die reserwesenter Romario van Wyk en linkervleuel Shanic Saban is in die 77ste en 80ste minute behaal om die spyker in te kap. Rustyd was die Khomasdallers reeds met 20-6 voor danksy drieë deur die vleuel Japhet Tjinaho en die heelagter Ricardo Swartz, wat in die wedstryd ook twee strafdoele en twee doelskoppe behaal het.
Vir die Rooi Bulle het skrumskakel Howard Titus twee strafdoele en die doelskop vir die drie van Yoshiro Klazen behaal, terwyl senter Chase Diergaardt ’n strafskop vanuit sy eie helfte oor die dwarslat laat seil het.
Skeidsregter Danie Koen het in die tweede helfte geel kaarte vir Suburbs se voorspelers Brendon Walters (54 minute) en Howard Gawanab (61 minute), asook vir Howard Titus (80ste minuut) gewys.

WANDERERS BLY ONOORWONNE
Dit was nie maklik op ’n warm dag in Narraville op Walvisbaai nie, maar FNB Wanderers het sy voorsprong verder vergroot deur Kudus met 24-18 onder te kry.
Die Wit Hingste, sonder elf Namibiese spelers en nog ’n string beseerdes, was met 24-6 voor, voordat die reserwes later opgestuur is wat vroeër ook in die tweede span gespeel het. Dit was toe Kudus die laaste twee drieë van die dag gedruk het.
Die wenspan het vir ’n slag ’n bonuspunt misgeloop toe net Enem Kritzinger (skrumskakel), MP Pretorius (losskakel) en stut Schalk Bergh drieë gedruk het. Vleuel en skopmasjien Heico Prinsloo het drie keer verdoel en ’n strafskop bygevoeg.
Wanderers staan na dese op 25 ligapunte ná vyf wedstryde. Tweede is Suburbs met 19 ná vier wedstryde.
• Walvisbaai het sy eerste oorwinning van die seisoen gevier toe hy op Swakopmund met 19-15 teen Dolphin gaan wen het.
Vir die verloorspan was Marvin Kotze en Virgil Bampton sy driedrukkers, terwyl Quinton Fielding se bydrae ’n doelskop en ’n strafdoel was.
• Reserweliga: Trustco United II verloor met 27-20 teen FNB Unam II; Wanderers II klop Kudus II met 201-3; Dolphin II klop West Coast Sharks met 29-0; Western Suburbs II klop Rehoboth II met 26-5.
In die eersteliga klop Unam III net-net vir United lll met 23-20.

Tags: 
Tielman vanlill

Springbok kom speel vir eie Sharks

$
0
0
Springbok kom speel vir eie Sharks

Des Erasmus - André Pretorius, ’n eertydse losskakel van die Springbokspan, kan Saterdag al vir die SFC West Coast Sharks van Swakopmund opdraf. Hy is reeds by die klub geregistreer en word voor die naweek op die vakansiedorp verwag.
Pretorius se rugbyuitusting wag reeds op Swakopmund in die SFC-klubhuis met die nommer 10 op die trui, volgens die aankondiging.
Mnr. Jurie Booysen van die Sharks het aan Republikein gesê tydens ’n besoek aan Pretoria is persoonlik met Pretorius onderhandel. Die man wat al die Springboktrui in die verlede oor sy kop getrek het, is ondanks sy 37 jaar nog fiks en speel steeds provinsiale rugby in Suid-Afrika.
Oor Pretorius se koms word reeds met die Namibië Rugbyunie onderhandel. Drie wedstryde is uitgesonder waartydens die voormalige Springbok vir die Sharks gaan uitdraf, wat by sy kom en gaan sal inpas.
Die Sharks stel nie net in die dienste van Pretorius as speler belang nie, maar verwag ook dat die internasionale speler plaaslike talent sal help ontwikkel met die kundigheid wat hy op internasionale vlak opgedoen het.
Een van die doelwitte met Pretorius se koms is om die denke van plaaslike spelers te omvorm. Dit is om weg te beweeg van ’n blote benadering van ’n amateur sportman tot die beroepstatus van moderne rugby.
“Nie net spelers se liggame, vaardighede en spel moet ontwikkel word nie, maar ook hul denkwyse,” sê Booysen.
Ná sy insluiting vir die SA o.20-span in 1998 en sy provinsiale debuut die ­volgende jaar vir die Goue Leeus het ­Pretorius sommer vinnig vir hom naam gemaak as ’n vlugvoetige losskakel en giftige skopper.
Bykans 200 wedstryde later as eersterangse beroepspeler, het hy sy merk vir onder meer die Cats, die Leeus (Curriebeker en Superrugby) en mees onlangs vir die Noordwes Luiperds gemaak.
Dis nou benewens sy 31 toetse in die Springboktrui waarvan die groen-en-goues 22 keer (61%) aan die wenkant was. Sy totaal van 171 punte sluit twee drieë in en plaas hom tiende in die geskiedenis van individuele puntemakers vir die Bokke.
• Die West Coast Sharks was gister die slagoffers toe foutiewelik berig is dat hulle Saterdag met 29-0 teen Dolphins se tweede span verloor het. In werklikheid het die Swakopmunders die ­reserweliga-derby teen hul buurklub met dié telling gewen.
In dieselfde liga het Wanderers II ook met 20-13 (eerder as die onmoontlike 201-3 wat die drukkersduiwel dit wou hê) teen Kudus II gewen.
• Laas Saterdag se tellings vir die eerste liga is soos volg ontvang: Mariental klop NUST met 69-3; Erongo Rugby-akademie wen met 38-26 teen Jaguars ll; Gobabis se Eastern Bulls is met 61-0 te sterk vir Jaguars l; Unam III wen net-net met 23-20 teen United lll.

Tags: 
Tielman vanlill

Tuisspan staal hom vir aanslag uit Gauteng

$
0
0
Tuisspan staal hom vir aanslag uit Gauteng

Die Windhoek Draught Welwitschias sal hoop om in hul eerste tuiswedstryd van die provinsiale reeks om kwalifikasie vir die Curriebeker die verbeelding van die Namibiese rugbygemeenskap vir die komende seisoen aan te gryp.
Baie aandag is in die laaste week gegee aan van die tekortkominge wat in die span se openingswedstryd teen die Vrystaat XV in Bloemfontein uitgewys is. Indien die Namibiërs voorlangs beter besit kan verseker, sal hulle agterlangs gewis kan voortbou op die ondernemingsgees wat reeds teen die Vrystaat gewys is.
Afrigter John Williams het egter eers laat gister sy span aangekondig terwyl op mediese verslae van sommige spelers gewag is. Uiteindelik was die losskakel Mahco Prinsloo en stut Hauta Veii die enigste twee wat as beseerdes aangedui is.
Eagon Cloete, agtsteman van FNB Western Suburbs, is as een van die nuwelinge op die reserwebank ingesluit.
FNB Wanderers se belowende jong losskakel M.P. Pretorius sal waarskynlik ook in die tweede helfte kans kry om te wys wat hy op senior provinsiale vlak kan regkry.
Hoewel verwag word dat die Namibiërs eers later in die seisoen teen die “kleiner” unies ’n beter kans staan om ligapunte te samel, het die eerste naweek se skokke (Grens klop die Leeus, Valke flous die Pumas en Boland uitoorlê die Haaie) gewys hoe gevaarlik oorgerustheid kan wees.
Die Windhoek Draught Welwitschias: 1 Quintin Esterhuizen, 2 Gerhard Lotter, 3 Shaun du Preez, 4 Muniovita Kasiringua, 5 Ruan Ludick, 6 Rohan Kitshoff (kapt), 7 Leneve Damens, 8 Roderique Victor, 9 Arthur Bouwer, 10 Shaun Kaizemi, 11 Russell van Wyk, 12 Darryl de la Harpe, 13 J.C. Greyling, 14 Malcolm Moore, 15 Johann Tromp.
Reserwes: 16 Joe Hermann, 17 Collen Smit, 18 Denzil van Wyk, 19 Eagon Cloete, 20 J C Winkler, 21 MP Pretorius, 22 Riaan van Zyl.

GEKWESTE LEEUS
Die koppe het nie in die Leeukamp gerol ná hul skoknederlaag verlede week met 23-27 teen die Grens op Ellispark nie.
Net ’n handvol veranderinge is aan die span aangebring wat môre in Windhoek teen die Welwitschias speel. Die Springbok-losskakel Marnitz Boshoff sal gewis een van die leidende figure wees.
Die insluiting van die flank Derick Minnie bring baie ervaring, terwyl die slot MB Lusaseni se insluiting ook verwelkom kan word.
Minnie vervang die beseerde Robert Kruger en Lusaseni speel in Makou Erasmus se plek, terwyl die loskopstut Justin Ackermann ook terug is uit die Baai en in die beginspan opgeneem is.
Agter begin JW Bell die eerste keer in ’n amptelike wedstryd vir die Leeus nadat hy sedert 2013 vir die Pumas en vir die voorafgaande twee seisoen sy merk by die Valke gemaak het.
Op skrumskakel vervang Ricky Schroeder die beseerde Dillon Smit.
Die insluiting van Bobby de Wee, Victor Sekekete en Ashlon Davids op die bank word ook verwelkom.
Agtsteman Ruaan Lerm sal waarskynlik reeds sy lippe aflek vir sy terugkeer na Windhoek, waar hy verlede jaar in die openingsronde van die Vodacombeker drie drieë gaan druk het. Lerm is een van tien spelers in die naweek se 22-tal wat verlede jaar in die oorwinning met 53-3 betrokke was.
Leeus: JW Bell; Koch Marx, Jacques Nel (*), Jarryd Sage, Selom Gavor; Marnitz Boshoff, Ricky Schroeder (*); Ruaan Lerm (*), Derick Minnie, Steph de Wit (*), Martin Muller, MB Lusaseni (*), Jacques van Rooyen, Ramone Samuels (*), Justin Ackermann.
Reserwes: Pieter Jansen, Pieter Scholtz (*), Bobby de Wee (*), Victor Sekekete, Ashlon Davids (*), Shaun Reynolds, Anthony Volmink (*).
( * 2015 Vodacom-wedstryd). - Suparugby en eie berig

Tags: 
Andrew Poolman

Leeus pure goud in sege met 66-12

$
0
0
Leeus pure goud in sege met 66-12

Andrew Poolman - Die Xerox Goue Leeus se ondervinding as kampioene van die Curriebeker het duidelik geblyk toe hulle die Windhoek Draught Welwitschias ’n nederlaag met 66-12 in die Hage Geingob stadion toegedien het.
Voor ’n afwagtende skare van ’n paar duisend was die tuisvoordeel nie genoeg om die Leeus te weerstaan nie. Met die Springbok Marnitz Boshoff om op nommer tien die kitaar slaan, was hul afronding dié keer veel beter as in hul skoknederlaag teen die Grens Bulldogs op Ellispark. Wys jou net watter verskil ’n bietjie goed gemikte kritiek in ’n videosessie kan doen.
Reeds ná 28 minute het die geharde en beter gekondisioneerde Gautengers hul bonuspunt met hul vierde drie ingepalm op pad na hul voorsprong van 38-5 met rustyd. Die buitespelers het ook baljaar met die langbeen regtervleuel Selom Gavor wat ’n driekuns behaal het.
Die Leeus het uiteindelik tien drieë teen twee gedruk. Die Namibiërs se verdediging was deurgaans kwesbaar en ná twee wedstryde in die provinsiale reeks kan van die sagte plekke nie meer misgekyk word nie.
Dít is afgesien van die oplossings wat vir die wankelrige skrums en onbetroubare lynstane gevind moet word.
Riaan van Zyl, ’n laat insluiting in die beginspan toe Malcolm Moore tydens die opwarming sy dyspier beseer het, het ná net vier minute sy eerste drie in ’n senior Namibiese trui gaan druk.
Die heelagter het self die teenaanval aan die gang gesit en het Russell van Wyk deur die volgende gaping gestuur, voordat hy Van Wyk se aangee op die grond raakgevat en op volle vaart die laaste verdediger saam met hom doellyn toe geneem het.
Van Zyl, wat die skaal op net 59 kilogram trek, se vlugvoetigheid het duidelik die verbeelding van die skare aangegryp wat sy drie met dreunsang van “Riaan! Riaan!” begroet het.
Dié opgewondenheid is egter stelselmatig gedemp en Darryl de la Harpe, senter, het eers in die 53ste minuut vir die Welwitschias se tweede drie deurgebars. Toe was Ruaan Lerm se manne egter reeds met 45-12 voor. Lerm is agterna as speler van die wedstryd aangewys.
Die Leeus se driedrukkers was die slot Luvoyiso Lusaseni, vleuels Selom Gavor (3) en Koch Marx, haker Ramone Samuels, agtsteman Ruaan Lerm, senter Jacques Nel, heelagter JW Bell en die plaasvervangerslot Bobby de Wee. Doelskoppe het van Marnitz Boshoff (6) en sy plaasvervanger Shaun Reynold (2) gekom.
Rohan Kitshoff se Welwitschias se volgende wedstryd is komende naweek teen die Haaie in Durban – vir wie die Namibiese slot Tjiuee Uanivi nou reeds in beide hul verloorwedstryde teen die Boland en die Grens gespeel het.
Die Welwitschias se afrigter, John Williams, het tevore aangedui dat hy in die eerste paar wedstryde van ’n lang seisoen voorkeur sou gee om die bestaande oefengroep speelkans te gee voordat hy sy soeknet wyer sal span. Williams is daarvan bewus dat meer talent uit die klubwedstryde of ná beserings te voorskyn sal kom en sy oogmerk is om diepte vir die Curriebeker, asook vir Junie se toetswedstryde, te bou.

• Skokke sover in die provinsiale reeks bly algemeen, met die tweede rondte wat elders soos volg verloop het:
Boland Kavaliers 37-18 O.P. Kings; Down Touch Griffons 76-26 Luiperds 26; Vodacom Blou Bulle 20-17 Toyota Vrystaat XV; Grens Bulldogs 37-32 Cell C Sharks; SWD Arende 25-21 Steval Pumas
Hino Valke 29-56 ORC Griekwas.
• Die puntestand:
1 ORC Griekwas 10 ná 2
2 Boland Kavaliers 10 ná 2
3 SWD Arende 10 ná 2
4 Grens Bulldogs 9 ná 2
5 Goue Leeus 6 ná 2
6 Toyota Vrystaat XV 6 ná 2
7 Down Touch Griffons 5 ná 2
8 Hino Valke 5 ná 2
9 Westelike Provinsie 4 ná 2
10 Vodacom Blou Bulle 4 ná 2
11 Steval Pumas 2 ná 2
12 Cell C Sharks XV 2 ná 2
13 Luiperds 1 ná 1
14 O.P. Kings 0 ná 2
15 Welwitschias 0 ná 2

Tags: 
Andrew Poolman

Welwitschias überrannt - Nationalteam geht zuhause mit 12:66 unter

$
0
0
Welwitschias überrannt - Nationalteam geht zuhause mit 12:66 unter

Windhoek (omu) - Das hatte sich Namibias Rugby-Nationalmannschaft sicherlich nicht so vorgestellt. Zwar starteten die Welwitschias ansehnlich, aber die Gegenwehr reichte nicht einmal bis zum Halbzeitpfiff. Die Golden Lions aus Johannesburg, ihres Zeichens Titelverteidiger im diesjährigen Currie Cup, lagen nach 40 Minuten bereits mit 38:5 in Front. Das Team von Trainer John Williams musste bis zum finalen Pfiff insgesamt 66 Zähler hinnehmen. Auch offensiv blieben die gastgebenden Welwitschias mit lediglich zwölf Punkten weit hinter ihren Ambitionen zurück.

Dabei hatten die Namibier vergangenen Samstag zum Auftakt des Currie Cup bei den Cheetahs gut aufgespielt (AZ berichtete). Auch am Samstag verkaufte sich das Team im Hage-Geingob-Stadion anfangs ansehnlich. Zwar legten die Gäste den ersten Versuch plus Erhöhung, aber Sekunden später setzte Riaan van Zyl den ersten namibischen Akzent des Spiels - den letzten im ersten Durchgang. Nach vier Minuten bedeutete das die 7:5-Führung für den Titelverteidiger, der zum Auftakt des Cups noch überraschend mit 23:27 gegen die Boland Kavaliers verloren hatte. Im weiteren Spielverlauf der ersten Halbzeit mussten die Welwitschias noch fünf weitere Versuche hinnehmen. Dann war das Spiel zur Pause mit einem Stand von 5:38 schon entschieden.

Vor der Partie hatte der Präsident des Namibischen Rugbyverbands, Bradley Basson, sich noch optimistisch gezeigt. Nach dem Spiel antwortete er auf Frage der AZ, ob die Welwitschias zu nervös ins Spiel gegangen seien, kurz mit: „Es hat wohl so ausgesehen.“

Mann des Abends für die Lions war Selom Gavor, der von den insgesamt zehn Tries drei beisteuerte. Außerdem trugen sich Luvoyiso Lusaseni, Ramone Samuels, Koch Marx, JW Bell (2) und Bobby de Wee (2) in die Try-Liste ein. Marnitz Boshoff holte insgesamt zwölf Extrapunkte und Shaun Reynolds addierte deren vier. Auf Seiten der Gastgeber betrieben Darryl de la Harpe und Shawn Kaizemi in Halbzeit zwei lediglich Ergebniskosmetik. Harpe erzielte in Minute 56 einen Try und Kaizemi sicherte sich die zwei Zusatzpunkte. Der Spielverlauf glich indes dem der ersten Hälfte. Die Lions kamen schnell über Außen und die Welwitschias hatten Mühe, die Verteidigungszone zu halten. Durch den einschneidenden Erfolg sind die Lions zurück auf Platz fünf der Liga. Die Namibier sind indes auf dem letzten Platz der Liga angekommen.

Olaf Mueller

Goeie begin teen VSA is noodsaaklik

$
0
0
Goeie begin teen VSA is noodsaaklik

Andrew Poolman - Die flank Cameron Langenhoven is kaptein van die Namibiese o.20-rugbyspan wie se aanslag op Wêreldrugby se Junior Trofee-toernooi vandag in Harare, Zimbabwe begin.
Namibië begin vandag teen die VSA, voordat hulle Saterdag teen Spanje en vier dae later teen Hongkong speel.
Die ander groep bestaan uit Fidji, Samoa, Uruguay en die gasheerland Zimbabwe.
Op die laaste wedstryddag (1 Mei) speel al die spanne in uitspeelwedstryde vir hul finale plekke.
In ’n onlangse verandering aan die toerspan moes die senter Brandon Groenewald (WP Rugby-akademie) vanweë ’n kniebesering weggelaat word.
Die byvoeging van Demarscho Beukes, as die tweede spesialis skrumskakel, as sy plaasvervanger, beteken dat Milaan van Wyk terug in sy meer bekende posisie as binnesenter gebruik sal word. Afrigter Roger Thompson het aanvanklik beplan om Van Wyk as een van die skrumskakels in te span.
Vir Thompson is hierdie toernooi sy derde betrokkenheid die Namibiese junior span. Hoewel hy opnuut besonder opgewonde oor die rou talent tot sy beskikking is, weet hy dat goeie resultate van ’n afgeronde vertoning oor 80 minute afhang.
“Uit my ondervinding het ek geleer dat dit jou duur kan kos indien jy nie genoeg tyd in voorbereiding bestee nie. Vorige kere was ons in die meeste gevalle oor die eerste 60 minute kompeterend, voordat iets skeefgeloop het wat die opponente toegelaat het om binne ’n kort tyd die wedstryd uit ons hande te neem.
“Ek glo dat ons vanjaar goeie tyd aan ons krag en kondisionering ingesteek het en ek glo dus dat ons hierdie keer fikser by die toernooi aankom. In ons eerste opwarmwedstryd teen Walvisbaai rugbyklub het veral hul swaar voorspelers ons ’n goeie fisieke toets gegee, hoewel die tweede een teen Kudus nie sulke strawwe teenstand gebied het nie. Hoewel ons aanvalspatroon goed gelyk het, is dit dalk nie behoorlik getoets nie.
“Ons het ook een oefensessie teen die senior Curriebekerspan gehad wat nogal die ouens se oë laat oopgaan het. Dit het ons nogal wyser gemaak oor hoe ons die beslissende laaste minute van ’n taai wedstryd kan hanteer. In so ’n toernooi waar jy net vier dae tussen wedstryde het, moet die bestuur van jou spelersgroep presies in die kol wees as jy sukses wil behaal in jou laaste wedstryd wat jou eindposisie sal bepaal.”
Soos gewoonlik sal die toernooi se wenspan weer vir sy land bevordering na die 2017 wêreldkampioenskap verkry. Vanjaar is Samoa die gerelegeerde een wat verlede jaar nog tussen die groot honde was.
Die Namibiërs het verlede jaar hul uitspeel om die vyfde plek met 24-36 teen Fidji verloor.
Volgens Thompson sal Namibië vandag alles in die stryd werp teen die fisiek talentvolle Amerikaners.
“Ons het spelers wat van verlede jaar oorgebly het, maar ons het ook nuwelinge wat min ondervinding op hierdie nuwe internasionale vlak het. As ons egter volgens die groep se talent speel, kan ons beslis van die groot spanne skrik maak.
“’n Goeie begin teen Amerika is noodsaaklik om ons op die regte pad in die toernooi te plaas, of ten minste die regte momentum vir die latere wedstryde op te bou. Al ons energie is die afgelope weke op die VSA ingestel, maar elke wedstryd is ewe belangrik.
• Die Namibiese span vandag teen die VSA (afskoptyd 09:00 Namibiese tyd): 15 Cliven Loubser, 14 Unomasa Kavita, 13 Janry du Toit, 12 Milaan van Wyk, 11 Gino Wilson, 10 Henrique Olivier, 9 Jerome Beukes, 8 Riaan de Klerk, 7 Johan de Klerk, 6 Cameron Langenhoven (kapt), 5 Cameron McNab, 4 Johan Luttig, 3 Antonio Tripodi, 2 Orbert Nortje, 1 Hans Breedt.
Reserwes: Wildré Smith, Sam Kuvare, Arno von Wielligh, Le Beau du Preez, Allie Emamdien, Alastair Miller, Stiaan van der Merwe.
Die groep word ook deur spanbestuurder Gabriel Tjombe, fiksheidsafrigter Sergio de la Harpe en Nico Bezuidenhoudt as spandokter vergesel.

Tags: 
Andrew Poolman

Tweepuntsege teen VSA eindig dramaties

$
0
0
Tweepuntsege teen VSA eindig dramaties

Andrew Poolman - Die dramatiese oorwinning met twee punte gister teen die Verenigde State van Amerika het die Namibiese junior rugbyspan in staat gestel om oor groter doelwitte by Wêreldrugby se Junior Trofee-toernooi te droom.
Die Namibiërs was gister in Harare, Zimbabwe, vir bykans die ganse wedstryd tien of minder punte agter die Amerikaners, voordat hulle met die heel laaste beweging die plaasvervanger losskakel Stiaan van der Merwe vir ’n drie onder die pale oorgewerk het. Cliven Loubser se doelskop het die oorwinning met 46-44 beklink.
Volgens die eienaardige nuwe formaat van die 2016-toernooi word drieë met ses punte op die telbord beloon, terwyl ’n strafdoel net twee punte tel. Selfs volgens die normale puntestelsel sou Namibië gister egter steeds met ’n enkele punt (40-39) gewen het.
Beide spanne het uiteindelik ses drieë gedruk, maar die vasbeslotenheid van kaptein Cameron Langenhoven se manne het in die doodsnikke die deurslag gegee.
Tussen die twee stelskoppers Henrique Olivier as losskakel (drie doelskoppe) en Loubser (twee) het net ’n enkele skop skeef getrek.
Namibië se driedrukkers was die haker Obert Nortjé (ná 4 minute), skrumskakel Jerome Beukes (22 minute), vleuel Unomasa Kavita (51 minute), slot Johan Luttig (62 minute), vleuel Gino Wilson (76 minute) en Stiaan van der Merwe (83 minute).
Laasgenoemde is sowat ’n uur ná die afskop in die plek van losskakel Henrique Olivier opgestuur.
In die doodsnikke het die VSA ’n strafdoel gekry, maar vanaf Namibië se volgende afskop het die Amerikaners aangeslaan. Allie Emamdien, wat as agtsteman opgestuur is, het weggebreek en Van der Merwe deur ’n gaping gestuur om maklik onder die pale te gaan druk.
“Die wedstryd was maar taai. Die VSA se voorspelers was baie fisiek en hul agtsteman het as baldraer ons manne besig gehou,” het afrigter Roger Thompson agterna laat weet.
“Ons het af en toe foute gemaak wat die Amerikaners dan in punte omskep het. Ek skryf dit toe aan ’n gebrek aan samespel, maar algaande het ons voorspelers hul voete gevind en hulle het stelselmatig die oorhand begin gekry. Johan Luttig was een van die uitstaande voorspelers.”
Thompson sê hy sal in die komende dae ’n beter prentjie kry of sy spelersgroep met enige beserings uit die stryd getree het voordat hulle volgende vir Spanje komende Saterdag takel.
“Ons eerste linie van verdediging kan vir seker groter verantwoordelikheid vat om nie hul man te laat glip nie. Ons kan ook meer aggressie in die kontaksituasie toon.
“Sodra ons die bal wyd begin speel het, het ons baie goed gevaar.”
• In gister se ander wedstryde het Spanje met ’n vasberade 44-8 bo-oor Hongkong gestoomroller, terwyl Fidji met 38-28 te uitgeslape vir Uruguay was.
In die hoofwedstryd was Samoa, wat ná die 2015 wêreldkampioenskap gerelegeer is, soos verwag te sterk vir die moedige Zimbabwe (54-24).

MYLPAAL WINK
Gister was die eerste maal dat ’n Namibiese o.20-span ’n oorwinning teen die VSA kon behaal.
Boonop kon Namibië in die laaste ses jaar nie daarin slaag om in die boonste helfte van die kompetisie te eindig, of om meer as een wedstryd by ’n Junior Trofee-toernooi te wen nie.
Die laaste keer was 2009 in Nairobi, toe die span vyfde geëindig het danksy drie oorwinnings teen die betreklik liggewig spanne Kenia, Kaaiman-eilande en Papoea-Nieu-Guinee, maar teen die einste VSA naelskraap (24-29) verloor het.
Ná ’n afwesigheid in die toernooi het Namibië in 2013 teruggekeer, maar het in Chili al sy wedstryde verloor en agtste geëindig.
In 2014 in Hongkong was daar ’n goeie oorwinning teen Kanada (37-25), maar Japan, Uruguay en Georgië het in klipharde wedstryde die oorhand gekry.
Verlede jaar in Portugal was Namibië se enigste oorwinning teen Hongkong (wat volgende week in ’n herontmoeting wag). Die sege met 36-12 is egter gedemp deur nederlae teen Kanada, Tonga en Fidji.

Tags: 
Andrew Poolman

Denzil kry sy kans in Durban

$
0
0
Denzil kry sy kans in Durban

Die slot Denzil van Wyk sal Saterdag vir die eerste keer in die Windhoek Draught Welwitschias se beginspan vir hul kwalifiserende Curriebeker wegwedstryd teen die Natalse Haaie in Durban wees.
Die Reho Falcon-man is in die Namibiërs se vorige twee nederlae vanaf die reserwebank vanaf die reserwebank opgestuur. Sy rotasie met Muniovita Kasiringua is die enigste verandering aan die vyftiental wat laas naweek vir die afskop teen die Goue Leeus uitgedraf het.
Op die reserwebank is FNB Wanderers se binnesenter, Francois (Vullis) Wiese, vir die eerste keer beloon vir sy kragtige vertonings in die plaaslike premierliga. Hy is die enigste nuweling in die senior Namibiese trui.
Wiese neem die plek van Riaan van Zyl, wat as heelagter behoue bly nadat hy laas naweek op die nippertjie teen die Leeus begin het toe Malcolm Moore in die opwarming voor die afskop beseer is.
Trustco United se slot/flank Morné Blom maak ook as ’n veteraan van 15 toetse sy terugkeer op die reserwebank, ná die beserings wat hom tevore buite rekening gehou het.
Die Windhoek Draught Welwit­schias: 1 Quintin Esterhuizen, 2 Gerhard Lotter, 3 Shaun du Preez, 4 Denzil van Wyk, 5 Ruan Ludick, 6 Rohan Kitshoff (kapt), 7 Leneve Damens, 8 Roderique Victor, 9 Arthur Bouwer, 10 Shaun Kaizemi, 11 Russell van Wyk, 12 Darryl de la Harpe, 13 J.C. Greyling, 14 Johann Tromp, 15 Riaan van Zyl.
Reserwes: Joe Hermann, Collen Smith, Muniovita Kasiringua, Morné Blom, J.C. Winkler, M.P. Pretorius, Francois Wiese.

Tags: 
Andrew Poolman
Viewing all 263 articles
Browse latest View live