Met die diepte van spelersgetalle in KwaZulu-Natal verwag rugby-ondersteuners dat die Haaie môre min probleme sal hê om die Windhoek Draught Welwitschias wenloos te hou.
Die Natalse Haaie het reeds twee skokke teen ligter gerekende opposisie op die lyf geloop, toe eers die Boland (weg) en toe die Grens (tuis) hulle in die provinsiale reeks om kwalifikasie vir die Curriebeker geklop het.
Afrigter Michael Horak het egter verskeie veranderinge aangebring vir môre se botsing teen die besoekende Namibiërs in die King Zwelithini-stadion in Umlazi suid van Durban.
Rohan Kitshoff se Welwitschias het ná ’n skaflike openingswedstryd in Bloemfontein waarskynlik swakker presteer toe hulle laas naweek op hul tuisveld nie die Xerox Goue Leeus van ’n sege met 66-12 kon weerhou nie.
Die Namibiërs se beginspan het vir môre dieselfde gebly, met die uitsondering dat Denzil van Wyk as slot sal begin en dat Muniovita Kasiringua later opgestuur kan word.
Hul afrigter John Williams sal grootlikse verbetering in verskeie aspekte verwag indien sy span môre ’n gevaar vir die swarttruie wil inhou.
Op losskakel en heelagter het Shaun Kaizemi en Riaan van Zyl byvoorbeeld teen die Leeus min afstand met hul lynskoppe gekry en het sodoende heelwat van hul ander bestendige werk ongedaan gemaak.
Die bekendste van die Haaie sal uiteraard hul Namibiese Wêreldbeker-slot Tjiuee Uanivi wees. Die lang man het in beide hul verloorwedstryde gespeel, maar het ten minste teen die Grens ’n drie gaan druk.
Haaie XV: 15 Alrin Eksteen, 14 Neil Maritz, 13 Marius Louw, 12 Heimar Williams, 11 Nkululeko Marwana, 10 Tristan Tedder, 9 Stefan Ungerer, 8 Retief Marais, 7 Johan du Toit, 6 Khaya Majola (kapt), 5 Tjiuee Uanivi, 4 David McDuling, 3 Ruan Kramer, 2 Kerron van Vuuren, 1 Juan Schoeman.
Reserwes: 16 Stephan Coetzee, 17 Barend Potgieter, 18 John-Herbert Meyer, 19 Wian Vosloo, 20 Dylan Marcus, 21 Curwin Bosch, 22 Sibusiso Nkosi.
KLUBRUGBY
Rehoboth Rugbyklub wag môre op sy tuisveld die aanslag van die NRU premierliga se onoorwonne voorloper FNB Wanderers in, wat in sy ses wedstryde sover alle teenstand uit die pad gevee het.
Wanderers het onder meer laas naweek op sy tuisveld die tweede geplaaste FNB Western Suburbs met 27-6 (drie drieë teen nul) oordonder.
Selfs sonder tien of meer spelers met nasionale verpligtinge het afrigter JP Nel steeds oor genoeg spelersdiepte en samespel beskik om enige uitdaging te bowe te kom. Om alles te kroon, bly die Wit Hingste se tweede span ook onoorwonne.
Rehoboth se afrigter, Eden Meyer, sou eers by gisteraand se oefening sy 22-tal bevestig het. Hy het egter toe reeds geweet dat sy span die komende uitdaging sonder verskeie staatmakers sal moet takel.
Die kaptein en agtsteman Charl Freygang, asook die heelagter Nathan van Wyk, is beide vanweë liesbeserings buite rekening.
Boonop het Desmond Snyders, die Rooi Bulle se veelsydige vlugvoetige agterspeler, ’n paar dae voor sy 36ste verjaardag finaal sy stewels opgehang.
Werkverpligtinge bring mee dat die losvoorspelers Kirk Olivier, Kurt Stellmacher en Huscit Visagie ook môre afwesig sal wees.
• Vir Trustco United, wat ondanks ietwat wisselvallige vertonings in die derde posisie is, lê die naweek ’n veeleisende reis na Walvisbaai voor om Kudus te gaan takel.
Afrigter Jood Opperman sê: “Ons verwag ’n harde wedstryd teen Kudus. Ons begin nou veel beter rugby speel en ek glo ons sal Saterdag reg wees om die blou masjien aan te vat.
“Met Jamie Joseph wat nou weer terug is by ons en vir die tweedes gaan uitdraf, behoort dit ook ons diepte op heelagter te verbeter.
Trustco United: 15 Keanen Titus, 14 Martin Cronje, 13 Tuna Amutenya, 12 Handré Bezuidenhout, 11 Nandivatu Karuuombe, 10 Robbie Dickson, 9 Ascher Coetzee, 8 Zayne Groenewaldt, 7 Niel van Vuuren, 6 Greyling Koopman, 5 Naude Neethling, 4 Winmar Rust (kapt), 3 Karlheinz Giersch, 2 Dewald Coetzee, 1 Clinton de Klerk
Reserwes: Marius Louw, Jaco Bonthuys, Panduleni Ilonga, Jamie Joseph, Phillip Nashikaku, Morne Blaauw, Stephan Louw.
Kudus het gister ’n onveranderde span aangekondig wat laas naweek met 35-18 vir Walvisbaai wenloos gehou het.
Kudus: 15 Elmo van der Byl, 14 Nicasio Schoombe, 13 Tarasio Croza, 12 Ivo Croza, 11 Carlton Stevens, 10 Ulratio Lauwrence, 9 Rayton Paulse, 8 Ernesto Bampton, 7 Immo Dresselhaus, 6 Ricardo Kubas, 5 Grandt Nash, 4 Enzio Kotzee, 3 Mark-Anthony Nangoro, 2 Chriss Klassen (kapt), 1 Lorenco Calaza.
Die nuutste puntestand van die NRU premierliga (in volgorde van wedstryde gespeel, gewen, verloor, punte vir en teen, punteverskil, ligapunte):
1. Wanderers 6 6 0 225-95 +130 29
2. Western Suburbs 5 4 1 155-76 +79 19
3. United 5 3 2 179-87 +92 18
4. Unam 6 3 3 188-127 +61 18
5. Kudus 5 2 3 91-102 -11 11
6. Reho Falcon 5 2 3 131-137 -6 10
7. Rehoboth 5 2 3 96-129 -33 9
8. Dolphins 6 1 5 51-217 -166 6
9. Walvisbaai 5 1 4 51-197 -146 4
ONDER 20’S
Die Namibiese o.20-rugbyspan kom môre voor nog ’n groot toets by Wêreldrugby se Junior Trofee-toernooi in Harare te staan.
Namibië het Dinsdag met ’n puik sege teen die VSA begin, voordat Spanje die swakkerige Hongkong met 44-8 vermorsel het. Die twee wenspanne pak mekaar môre.
Spanbestuurder Gabriel Tjombe het gister laat weet dat beserings aan die senters Milaan van Wyk en Janry du Toit, die flank Johan de Klerk en die haker Obert Nortjé kommer wek.
Ondanks heelwat logistieke hindernisse is uit Harare laat weet dat die beoogde regstreekse videostroom van môre se wedstryde wel behoort te geskied. Op YouTube kan dus môre ’n oog op die skakel www.youtube.com/embed/zk4P_B3Twrk gehou word. Namibië se botsing teen Spanje is om 15:00 (Namibiese tyd).