Andrew Poolman
Die Hino Valke se oorwinning met 66-5 teen die Windhoek Draught Welwitschias behoort nie as ’n buitengewone skok te kom vir rugbykykers wat ’n mate van perspektief behou nie.
Die boodskap dat die plaaslike Namibiese amateurspelers meer sal moet doen om op ’n kompeterende vlak met voltydse beroepspelers te kom, is lankal duidelik en word nie betwis nie.
’n Beduidende deel van die Welwitschias se string van nege opeenvolgende nederlae is egter reeds voor die begin van die provinsiale reeks daaraan afgeskryf dat Namibië bykans as ’n soort “nuweling” terug verwelkom word en dat geduld nodig sal wees om weer ’n gedugte eenheid op te bou soos wat rugbykenners reken die land in staat is.
Hoeveel van die huidige reeks loesings hoort egter voor die deur van die administrateurs wat in die “afseisoen” voete gesleep het om die afrigters en ander nodige personeel aan te stel? Die vrugte word gepluk vir die slaplê tydens die ou tradisionele Namibiese “afseisoen” – terwyl opponente in die “voorseisoen” die harde werk doen om kondisionering en vaardighede op te skerp.
Die Valke het met flinke samespel die gapings in die Namibiese verdediging ontbloot om ’n oortuigende oorwinning te behaal nadat die tuisspan op Kemptonpark rustyd met 35-5 voorgeloop het.
Met die bietjie balbesit tot hul beskikking het Francois Wiese en sy manne ondernemend probeer speel, maar die Valke het sake só oorheers dat die Namibiërs drie keer soveel duikslae as hul opponente moes uitvoer. Verdediging en die vaste fasette bly van die mees kwesbare aspekte van die Namibiese spel – soos tien drieë teen een getuig.
Ligpunte vir afrigter John Williams was die hoë werkvermoë wat spelers soos die nuweling-haker Dewald Coetzee en flank Morné Blom gehandhaaf het om die skoene vol te staan van die senior manne wat in Roemenië toer.
’n Drie net voor rustyd deur senter Lesley Klim was uiteindelik die Namibiërs se enigste beloning. Dit was nadat skrumskakel JC Winkler ’n tikskop geneem en Wiese sy sentermaat deur ’n klein gapinkie gestuur het.
Die reserwe-losskakel Shaun Kaizemi is in die tweede helfte op ’n draagbaar van die veld en het glo steke aan ’n beenwond gekry.
Die Valke se driedrukkers was agtsteman Reg Muller (3), vleuels Ettiene Taljaard en Carlyle Hendricks, senter Andries Truter (2), plaasvervanger Andrew van Wyk, slot Marlyn Williams en losskakel Karlo Aspeling. Doelskoppe het van Aspeling (7) en Truter gekom.
• Komende naweek is die Namibiërs terug op hul tuisveld vir ’n botsing teen die SWD Arende, wat Saterdag met 39-22 teen die Grens Bulldogs aan die wenkant was. Die Arende (negende) is selfs ’n bietjie beter geplaas as die Valke, wat nou 11de is.
• Laas naweek se ander uitslae:
Xerox Goue Leeuss 52-37 Griekwas; SWD Arende 39-22 Grens Bulldogs; Vodacom Blou Bulle 22-18 Cell C Haaie XV.
NASIEBEKER
Namibië se toetsspan kom vandag in Boekarest teen Spanje in sy tweede wedstryd van die Wêreldrugby Nasiebeker te staan.
Afrigter Phil Davies se span wat vandag om 16:00 (Namibiese tyd) uitdraf, was gister teen druktyd nog nie bekend nie. Regstreekse videostroom van die wedstryd sal na verwagting weer op Rugbytv.ro beskikbaar wees.
Die Namibiërs het Donderdag met 20-8 teen Roemenië verloor.